Deon Opperman

Deon Opperman: Verstaan die Afrikanerhart

In Suid-Afrika word die naam Deon Opperman met twee dinge geassosieer: sukses en talent. Sy werke is nooit middelmatig nie en omdat hy altyd besig is om grense te verskuif, maak hy mense soms die josie in. Vir Deon het alles begin toe hy in 1983, toe ’n tweedejaar-dramastudent aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad, deur sy departementshoof, Francois Swart, gevra is om ’n nuwe drama vir die ATKV-Kampustoneelfees in Pretoria te skryf. Op daardie tydstip was die skryf van dramas nie eintlik iets wat Deon beplan het om te doen nie. Hy wou akteur wees en was boonop ’n ‘angry young man’, pas klaar met sy diensplig en glad nie van plan om ooit in Afrikaans te werk nie. Uiteindelik het die R1000-prysgeld hom aangespoor om in te skryf en so is sy grensdrama, Môre is ’n lang dag, gebore. Reeds met die debuut daarvan in 1984 was dit ’n dawerende sukses en Deon was die R1000-prysgeld ryker. En so is die muse in Deon wakker gemaak.

Deon het nog nooit weer ophou skryf nie. In ’n onderhoud is hy een maal bestempel as: “Een van die opwindendste dinge wat die uitvoerende kunste in Suid-Afrika in dekades getref het.” Dit is hy inderdaad. Die lys produksies uit die pen van Deon Opperman is lank. Daar is meer as 40 dramas in Afrikaans en Engels wat professioneel opgevoer is. Hy is ook die regisseur en vervaardiger van meer as 50 teaterproduksies in al die belangrike teaters en kunstefeeste in Suid-Afrika. Hy het ook verskeie suksesvolle televisiereekse geskryf en van hulle self geregisseer.

Mense ken Deon as flambojant, teatraal met hande wat saam beduie wanneer hy praat. Tog weet hy beslis wat in Afrikaners se harte aangaan en dis veral in televisiereekse soos Kruispad, Hartland, Donkerland en in 2015 se Bloedbroers waar hy die geskiedenis weer oopgeskryf het om vir ’n nuwe geslag te verduidelik hoe die Afrikaner se geskiedenis lyk, en vir die ouer geslag weer hul identiteit in perspektief te plaas.

Een van Deon se grootste bydraes tot die uitvoerende kunste is AFDA, The South African School of Motion Picture and Live Performance wat hy in 1996 saam met Garth Holmes en Bata Passchier begin het. Hier word talle akteurs, regisseurs en filmmakers opgelei en die instansie word deur die Raad van Hoër Onderwys erken as ’n unieke tersiêre instelling in Suid-Afrika.

In die meer as dertig jaar wat Deon aan die skryf is, is hy telkemale vir sy werk vereer waaronder twee Hertzogpryse wat hy in 2006 vir sy drama-oeuvre, en in 2009 vir die drama Kaburu ontvang het. Van die ander toekennings wat hy ontvang het, was die AA Mutual Vita-prys as dramaturg van die jaar (1984), die Eugène Marais literêre-prys (1987), die Fleur de Cap-prys vir die beste inheemse teks vir Stille Nag (1991), die Standard Bank-prys vir jong dramakunstenaar (1992) en agt Vita-toekennings.

’n Groot deel van Deon se sukses is daaraan te danke dat hy ’n goeie besigheidsin het. Hy beskou sy dramas, musiekspele en televisiereekse as produkte wat hy aan die mense moet verkoop. Deon het ’n MBA aan Wits-sakeskool verwerf en dis tydens sy studies wat hy gesien het hoe om AFDA, wat toe finansieel op die broodlyn was, in ’n suksesvolle, winsgewende onderneming om te skakel.

Een ding waaroor Deon nooit sal swyg nie, is dat hy homself in murg en been as ’n Afrikaner beskou. “Ek is so bly dat ek geleef het om te sien hoe die taal van my hart haar wedergeboorte, van taal van die onderdrukker tot taal van almal wat haar praat, deurleef het.”