Debra Meyer

Debra Meyer: ’n Professor wie se hart in Afrikaans klop

Iemand wat nou al baie lank teen stereotipes moet baklei, is professor Debra Meyer. Sy is tans die Uitvoerende Dekaan van Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg. Baie mense onthou vir Debra as die weerprofeet op SABC2, maar dit is eintlik die wetenskap en vigsnavorsing in die besonder, wat haar nou al jare lank interesseer. Dis ook nie bloot net die feit dat sy ’n swart vrou is wat as wetenskaplike haar brood en botter verdien wat mense verras nie. Sy praat ook perfekte Afrikaans, want dit is die taal wat sy aan moedersknie geleer het.

Debra se agtergrond is net so kleurvol soos ons reënboogland. Sy is gebore in Kliptown in ’n deel wat as die Grênd bekend gestaan het. Die gebied, wat vernietig is, was agter die ou ‘Grand Bioscope’ in Kliptown, vandaar die naam. Hierdie was ’n kleurvolle gemeenskap in die Apartheidsjare en Indiërs, bruin mense, Somaliërs en Chinese het almal daar saam gewoon. Sy beskryf die interessante plek in ’n gedig waarvan ’n deel in 1999 in Keur gepubliseer is. Van daar het haar ouers na Eldoradopark verhuis.

Debra het in 1998 heelwat reaksie uitgelok toe sy in ’n artikel, wat in Beeld verskyn het, haar frustrasie uitgespreek het met die feit dat mense vanweë haar donker velkleur, altyd dink sy moet ’n Zoeloe of Xhosa wees. Hulle verstaan gewoonlik nie waar kom haar perfekte Afrikaans vandaan nie. Kort nadat die artikel in die koerant verskyn het, het sy haar opinies oor Afrikaans met Coenie de Villiers in ’n onderhoud op Pasella bespreek waarna sy ’n deeltydse pos deur die SABC aangebied is. Vanaf Januarie 2000 tot Julie 2012 het sy twee maal per week as weeraanbieder opgetree.

Reeds op die jong ouderdom van 29 het sy ’n doktorsgraad in Biochemie en Molekulêre Biologie aan die Universiteit van Kalifornië se Davis-kampus behaal. Terwyl sy in 1991 besig was met haar meestersgraad in Biochemie aan die Randse Afrikaanse Universiteit, het sy ’n gesogte “Fulbright Scholarship’ losgeslaan om in Amerika te gaan studeer. Na voltooiing van haar doktorsgraad het sy by die Universiteit van Johannesburg (toe nog RAU) begin klas gee. In 2007 het Debra by die Universiteit van Pretoria aangesluit waar sy onder meer as Hoof van die Departement Biochemie gewerk het tot einde 2014.

Debra het deur die jare baie toekennings ontvang, veral vir haar vigsnavorsing. Van haar wetenskaplike publikasies het in meer as 50 internasionale vaktydskrifte verskyn. Sy is ook in 2007 as een van Rapport en City Press se vrouepresteerders van Suid-Afrika aangewys. In 2014 het ’n splinternuwe wetenskaplike program op kykNET, Debra Deel, haar weer teruggeneem kassie toe. Sy deel graag haar kennis oor die wetenskap met enigeen wat daarin belangstel en die program was baie gewild.

“My Afrikaans begin by my ma se huis. Dis my ma en pa se taal en as my Afrikaans perfek is, dan is dit omdat hulle Afrikaans perfek was. My pa kon enige kitaar speel en het Afrikaanse musiekblyspele en liedjies geskryf. Net voordat hy oorlede is, het hy nog gewerk aan ’n blyspel, Van Toeka tot nou toe. Dit het gegaan oor townshiplewe; in Afrikaans. My ma se sêgoed en spreekwoorde was eg Afrikaans. Sy’t gepraat van ‘groottoon het nie neus nie’ as sy praat van iemand wat geen selfrespek het nie. Op skool het my laerskool Afrikaans-onderwyser, Meneer Pop, vir ons geleer ’n mens praat nie ’n taal nie, jy besig jou taal. Ek het Apartheid begin verstaan deur die beskrywings van SV Petersen in Bede en Adam Small se Die Here het Gaskommel. Hoe kan ek dan anders as om in Afrikaans te dink en te leef?”

https://www.facebook.com/permalink.php?story_fbid=380015732196952&id=358048917726967