Danie van Wyk

Danie van Wyk: Afrikaans in murg en been

Danie van Wyk, die Wes-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, is iemand wat nie huiwer om op te staan vir Afrikaans nie. Danie is in die klein dorpie Fraserburg in die Karoo gebore, maar het grootgeword op Oudtshoorn waar hy aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer het. Danie verwerf sy onderwysdiploma aan die Opleidingskollege Suid-Kaapland en studeer daarna deeltyds aan die Universiteit van Wes-Kaapland waar hy sy BA-graad (Tale) verwerf. Dit volg hy later op met ’n honneursgraad in Arbeidsreg aan die Universiteit van Kaapstad en ’n senior-bestuursontwikkelingsprogram aan die Universiteit van Stellenbosch se Sakeskool.

As onderwyser het Danie ’n paar jaar lank voor ’n klas gestaan, maar is gou bevorder tot ’n bestuursposisie waarna hy vir ’n tydperk van ses jaar ’n skoolhoof was. Hierna het Danie heeltyds by die onderwysvakbonde betrokke geraak. Vanaf 1997 tot 2001 was hy die Hoofonderhandelaar: Arbeidverhoudinge en Administrasie, by NAPTOSA. Hy het ook as hoofonderhandelaar in die Staatsdiensbedingingsraad gedien. Danie het ook betrokke geraak as projekleier by FEDSAS, die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame. Vanaf Januarie 2012 tot Junie 2014 was Danie die Hoof Uitvoerende Beampte van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). In hierdie tydperk het hy hard daaraan gewerk om Afrikaans op ’n insluitende wyse as ’n nierassige taal te bevorder. Die belangrikheid van moedertaalonderrig is altyd hoog op sy agenda en in sy termyn by die SBA kon hy help om dit opnuut onder die aandag van die owerhede te bring. Saam met sy span by die SBA is daar hard gewerk om mense deur middel van Afrikaans op ekonomiese, opvoedkundige en politieke gebied te bemagtig.

In Julie 2014 word Danie aangestel as die Bestuurder Wes-Kaap van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust. Danie beskryf hierdie trust as die uitreikaksie van FEDSAS en die trust se grootste fokus val op voorheen benadeelde Afrikaanse laerskole. Hierdie skole het in die verlede nie altyd die ondersteuning gekry wat hulle moes nie en nou word daar skouer aan die wiel gesit om die onderwys in hierdie skole ook op ’n baie goeie standaard te kry en te handhaaf.

Danie het twee kinders: Danielle, ’n student in siviele ingenieurswese en Andrè, ’n joernalis. Danie woon in Kuilsrivier naby die wingerde van die Zevenwacht-landgoed en dit is te verstane dat ’n glas goeie rooi wyn hoog op sy lysie van gunstelingdinge is. Hy is ’n bobaaskok met ’n reuse versameling resepteboeke van regoor die wêreld, maar ook die beste kookboeke van ons land se voorste kosskrywers staan op sy rakke. Danie luister baie graag na musiek en sy musieksmaak is wyd: jazz, opera en selfs popmusiek. Hy is ook ’n ywerige sportkyker wat veral baie hou van rugby, krieket, tennis en sokker. Daar is beslis ’n sitplek op Nuweland met sy naam daarop, skerts hy. Danie het ’n groot passie vir die ontwikkeling van skilders en musikante in voorheen benadeelde gemeenskappe en probeer waar hy kan om blootstelling aan hierdie ontluikende kunstenaars te verleen.

Danie is die stigterslid van die Goeie Hoop Inisiatief, Kuilsrivier. Hierdie groep is begin deur ’n aantal bruin mense uit verskillende agtergronde wat hulle kommer deel oor die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch. Hy hoop om toenemend die boodskap uit te dra dat jy jou nooit vir Afrikaans moet skaam nie. Jy moet juis die taal “aggressief” bemark, sonder om anti-Engels te wees. Hy en van sy vriende en kollegas voel baie sterk dat Afrikaans tans onder beleg is, en daarom kan ons nie agteroor sit nie. Almal moet ’n rol speel om ’n bydrae te maak in die behoud en beskerming van Afrikaans. “Ons moenie Afrikaans afskryf of op ’n sylyn rangeer nie. Afrikaans moet sy plek volstaan as ’n nasionale bate. Dis die posisie wat hy verdien,” sê hy.