Colin Hertzog

Colin Hertzog: ’n Hart vir Afrika

’n Welbekende oupagrootjie wat ’n generaal in die Anglo-Boereoorlog was, en later Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika geword het, het bepaald sekere implikasies vir enige jong seun. Colin Hertzog het van ’n jong ouderdom by sy ouers en die uitgebreide Hertzogfamilie geleer om trots te wees op sy herkoms en sy taal, Afrikaans. Dit was juis genl. JBM Hertzog wat die ontwikkeling van die Afrikanerkultuur onder sy landgenote baie sterk aangemoedig het. Colin se pa Barry, het sy naam by die ou generaal gekry en het op ’n plaas tussen Witbank en Bronkhorstspruit geboer. Dis daar waar Colin grootgeword het. Hy skryf sy matriek aan Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit en skryf in aan die Universiteit van Pretoria vir ’n BA-graad wat hy in 1990 behaal. Hy studeer verder en verwerf ’n BD-graad in Teologie, ’n M-graad in Gemeentebou en ’n MDiv in Ou Testament.

Colin begin sy bediening in 1994 as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in Harare, Zimbabwe. Sy bedieningsveld strek tot in Zambië en dit is in hierdie tyd wat hy veral sy hart op Afrika verloor het.

Vanaf 2000 tot 2002 is hy predikant in die gemeente Middelburg en vanaf 2003 tot op hede is hy predikant in die gemeente Middelburg-Noord. Hy is reeds baie jare lank by heelwat sinodale aktiwiteite betrokke. Tans is hy lid van verskeie komitees en rade. Hy is onder meer voorsitter van die Kerk se Raad van Finansies, lid van die Kuratorium en ’n sekundi-lid van die kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Colin is ook een van die trustees van die Dagbreek Trust en hier volg hy in die voetspore van sy pa Barry.

Hy is getroud met Annelie Swanepoel, ’n voltydse skilder en kunstenaar. Hulle het een seun en twee dogters. Munnik is besig met sy veeartsenystudies aan Onderstepoort, Louise is vanjaar in matriek en gaan volgende jaar ingenieurswese studeer en klein Lienkie is die laatlam wat nog nie in die skool is nie. Omdat hy op die plaas grootgeword het, hou hy baie van die buitelewe en boerdery. Hy neem ook aan padwedlope en driekampbyeenkomste deel en is ’n ywerige leser.

Sy verbintenis met die Afrika-kontinent is so sterk dat hy homself nooit elders sal kan vestig nie, sê hy. ’n Afrikaan in murg en been. Colin beskryf homself as ’n pragmatis en daarom is sy benadering tot Afrikaans baie prakties. Alhoewel sy ouers van kleins af ’n liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur by hom gekweek het, is dit ook die taal waarbinne hy veilig voel en waarin hy in sy wese tot uitdrukking kan kom. In die beroep waarin hy staan, werk hy met mense wat in Afrikaans lewe, dink en aanbid en om met sy gehoor op die beste moontlike manier te kommunikeer, is dit noodsaaklik dat hy dit in Afrikaans doen. Die skoonheid van Afrikaans lê vir hom daarin dat hy as plaasseun hom so raak kan uitdruk in Afrikaans. Daar is altyd ’n uitdrukking wat iets presies en raak kan beskryf.

“Ek dink nie ons moet Afrikaans verpolitiseer nie. Die oomblik wat ons dit doen, gaan ons die taal verloor. Ons moet net eenvoudig prakties bly en dink. Ons is Afrikaanssprekende mense en dit is die taal waarin ons onsself die beste tot uitdrukking bring. Ons het ’n reg onder die son, net soos elke anderstalige spreker in hierdie land. Afrikaans is so ’n mooi taal en daarom kan ons iets bied vir die samelewing. Indien ons daarop fokus en ons beywer vir die reg tot vrye assosiasie, gaan ons dalk beter vorder in die behoud van Afrikaans,” sê Colin.