Claudia Witbooi wil grense verskuif

Aangename kennis

Claudia Witbooi het in George, waar die Outeniquaberge se baard soms nat is, aldus Dozi, grootgeword. Sy is niemand anders as die rymkletser YOMA nie. Afrikaanse poësie was van vroeg af iets waarin sy baie belanggestel het en sy het ook haar eie gedigte oor haar liefde vir woorde en klanke geskryf. Een van die ritmes op die elektroniese klawerbord, wat haar oupa vir haar gekoop het, was hip-hop en dit het vir haar die deur na hierdie musiekgenre oopgemaak. Nadat sy aan George High gematrikuleer het, het sy ʼn internasionale diploma in Somatologie aan die Sanguine Kollege in George voltooi. Haar heel eerste optrede in ʼn klub was by ʼn ‘open mike’-sessie waar sy elke oomblik geniet het. Claudia en haar man, Simon, die rymkletser HemelBesem, het mekaar in 2014 by die African Hiphop Indaba in Kaapstad ontmoet en gou besef hoe baie belangstellings hulle deel. Claudia en Simon se eersteling is in Desember 2017 gebore. Sy het in 2017 op Rooi Rose se webblad geblog, oor haar swangerskapsreis.

Vyf kitsfeite oor Claudia

  • Aan die begin van haar loopbaan, het Hakkiesdraad Hartman, ʼn rymkletser van George, haar gereeld aangemoedig om aan te hou rymklets.
  • Claudia is vanjaar vir die derde keer as mentor betrokke by die ATKV se Crescendo-projek.
  • Deur haar musiek wil sy vroue bemagtig en ‘n voorbeeld van hoop wees. Haar boodskap is dat enigiets moontlik is as jy hard werk .
  • Coenie de Villiers sing saam met YOMA op een van die snitte op haar nuwe album, “Stukkende Woorde”.
  • Claudia is ook ʼn ambassadeur vir Ticia S.A. en MUD South Africa, ʼn grimeringshuis.

Yoma oor Afrikaans

Afrikaans lê baie na aan haar hart. Afrikaans, sê sy, is wie sy is en hoe sy haarself die heel beste kan uitdruk. “Slegs in jou moedertaal kan jy iets prentjiemooi verf,” aldus Claudia.

Claudia se projekte

Claudia werk graag in verskillende gemeenskappe waar sy daarop fokus om kinders te help om sonder ʼn wanpersepie van Afrikaans op te groei. Sy wil graag hê dat hulle trots sal wees op die taal, hoe hulle dit ook al gebruik. Met taal kom kultuur en identiteit en daarom is dit belangrik dat mense trots op hul herkoms en hulself moet wees, sê sy. Haar heel eerste CD, Moedertaal, verskyn in Februarie 2018 en is ʼn projek waarin sy haar hart en siel gestort het. Die album handel oor haar liefde vir Afrikaans en haar inspirerende reis tot ma-wees. Sy hoop dat dit ander vroue sal inspireer om hulle eie swangerskapbelewenis te deel.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan yoma@besembos.co.za
Volg haar op:
Twitter @YOMAIsAfrikaans
Facebook: https://www.facebook.com/YOMAisAfrikaans/