Christa Steyn lééf haar passie vir Afrikaans

Aangename kennis

Christa Steyn skryf haar liefde vir Afrikaans toe aan die ouerhuis waarin sy grootgeword het en waar sy haar liefde vir Afrikaans kon vertroetel. Na haar grootwordjare op Phalaborwa, waar sy aan Hoërskool Frans du Toit gematrikuleer het, het sy vertrek na Bloemfontein vir haar studentejare. Christa het in 2015 haar Meestersgraad in Taalstudie aan die Universiteit van die Vrystaat behaal, en tans is sy besig met haar Doktorsgraad. Christa werk as ’n argivaris by ’n mediamaatskappy en het ’n besonderse liefde vir Afrikaanse rolprente, ’n veld waaroor sy al intensief navorsing gedoen het. Christa glo daaraan om hard te werk maar sy weet om te stop en asem te skep is ewe noodsaaklik.

Vyf kitsfeite oor Christa

  • Christa beskou haar besluit om in haar eerste jaar haar kursus van BA Taalstudie na BA Drama en Teaterkuns te verander as een van die beste besluite in haar lewe.
  • Christa se meestersgraad is getiteld: Die argivering van die Afrikaanse speelfilm (1910 – 2014)
  • Sy het in 2015 die Marius Jooste-prys vir die beste M-student in Afrikaans behaal, asook die DF Malherbe-prys vir die beste nagraadse student in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.
  • In 2016 het Christa haar bydrae tot die WAT se Borg ’n Woord-veldtog gemaak deur die woorde ‘bioskoop’, ‘rolprent’ en ‘draaiboek’ te borg.
  • Christa wil dolgraag die algemene wanopvatting dat akademici “vaal, vervelig en menssku“ is, op sy kop keer.

Hoe voel sy oor Afrikaans?

Christa vergelyk haar Afrikaans met ’n veldbrand: vurig en aansteeklik! Dis onblusbaar soos die nuuskierigheid van ’n kaalvoetkind wat avonture najaag. Dis ’n warm gevoel wat alle mense laat tuis voel. Sy streef ook daarna om haar passie vir die taal oop te breek soos ’n granaat en dit met haar mede- Afrikaanssprekendes te deel.

Haar projek:

Christa leef haar passie vir Afrikaans uit deur projekte, feeste en Afrikaanse rolprente by die bioskoop te ondersteun. In 2016 het sy die geleentheid gekry om kykNET se Silwerskermfees in Kampsbaai by te woon en dit was vir haar ’n heerlike sielsverrykende hoogtepunt.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan crista.steyn@gmail.com

Kyk hier …

Christa gesels met Pieter Cloete oor haar liefde vir Afrikaans en haar passie vir die Afrikaanse film en filmbedryf.