Charnelle Fortuin maak ’n verskil in haar gemeenskap

Aangename kennis

Skilderagtige Franschhoek is bekend vir heerlike wyne, pragtige berge en interessante mense. Charnelle Fortuin is een van hulle. Nadat sy aan Hoërskool Franschhoek gematrikuleer het, het sy in 2014 haar dramastudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Haar grootwordjare was soms vol uitdagings, maar sy het gou geleer om te lag tussendeur die trane. Charnelle het vir ʼn tydperk as omroeper by ʼn radiostasie in die Paarl gewerk, voordat sy in 2017 by Groendal Sekondêr begin klas gee het. Tans is Charnelle ʼn onderwyseres by Groendal Primêr. Sy sonder God, haar familie, die gemeenskap, teater en haar liefde vir skryf uit as besonder belangrik in haar lewe en dit is ook waar haar inspirasie vandaan kom. Dis vir haar belangrik om haar leerders soveel as moontlik blootstelling aan die wêreld daarbuite te gee.

Vyf kitsfeite oor Charnelle

  • Charnelle is baie trots op die Khoisan-bloed wat in haar are vloei.
  • Charnelle is die oudste van vier sussies.
  • Sy het in Groendal, ʼn woonbuurt in Franschhoek, grootgeword.
  • Charnelle het ʼn groot bewondering vir die digkuns van Ronelda S Kamfer.
  • Sy is deel van ‘n dramagroep, ‘Gordynchiedôp’ wat besig is met ‘n Afrikaanse drama Ons Komvandaan. Dit handel oor die geskiedenis en erfenis van bruin mense.

Charnelle oor Afrikaans

Charnelle se ma, Mitsi Groenewald het ʼn groot invloed op haar liefde vir Afrikaans. Sy het Charnelle al van die ouderdom van vier af aan boeke voorgestel. Haar Afrikaans-onderwyser by Hoërskool Franschhoek, Lynette Steynberg, het ook moeite gedoen om haar die taal te laat ontdek. Afrikaans is die enigste taal wat haar laat voel asof sy sing wanneer sy praat.

Haar projek

Charnelle het in 2017 ʼn groep skoliere ingeskryf vir die ATKV se Tienertoneelkompetisie. Die drama, Skuld is deur Charnelle geskryf en handel oor hoe die samelewing altyd ander wil blameer vir dinge wat gebeur maar eintlik introspeksie moet hou. Vir hierdie kinders was dit ʼn wonderlike ervaring om vir die eerste keer aan so iets deel te neem. Sy is baie trots op twee van die leerders wat elk ʼn bronsmedalje in hierdie kompetisie verwerf het. Sy hoop om die Afrikaanse gemeenskap te verander deur bruin mense bewus te maak van al die verskillende dialekte van Afrikaans. Terselfdertyd wil sy die boodskap oordra dat almal gemaklik moet wees met die Afrikaanse dialek wat hulle gebruik.

Maak gerus kontak

Stuur ʼn e-pos aan: charnyfm@gmail.com