Charles Skeen: Hy vind ’n tuiste in Afrikaans

Aangename kennis

Alhoewel Charles Skeen baie trots is op die Skotse bloed wat saam met Nederlandse bloed in sy are vloei, het hy uiteindelik sy tuiste gevind in Afrikaans, die taal waarin hy skryf, leef en God aanbid. Charles het grootgeword en skoolgegaan in Lyttelton. Na skool het hy aan die Normaalkollege in Pretoria studeer en sy onderwysloopbaan het afgeskop by ’n laerskool in Leslie in Mpumalanga. Nadat hy die onderwys verlaat het, was hy merendeels betrokke by volwasse opleiding by instansies soos die Ontwikkelingskorporasie, die Nasionale Weermag en Louis Trichardt se munisipaliteit. Charles het ook sy hand aan boerdery gewaag in die Levubu-distrik, maar na ’n hartomleidingsoperasie, moes hy die boerdery vaarwel toeroep. Daarna het sy lewe ’n interessante draai gemaak en hy het begin skryf en dig. Charles en sy vrou Karin, het gaan aftree in die pragtige Lampiesbaai wat deel vorm van die groter St. Helenabaai aan die Weskus. Hulle het twee dogters en twee seuns en is die grootouers van drie kleindogters en ’n kleinseun. Charles is ook ’n geesdriftige amateurfotograaf wat graag sy foto’s van die Weskus se natuurprag op Facebook deel.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Dis vir Charles ’n voorreg om in sy moedertaal te kan kommunikeer, skryf, profeteer en die Afrikaanse kultuur oor te dra aan almal wat wil lees en luister.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Charles leef Afrikaans deur die skryf van Bybelstukkies, Afrikaanse gedigte, kortverhale en Afrikaanse lirieke. Hulle is ook aktiewe lidmate van die NG Kerk St Helenabaai, en doen mee aan al die plaaslike Afrikaanse feeste.

Sy projek:

Charles se skryfwerk het interessante draaie gemaak en sy heel eerste Engelse gedigte is in ’n Amerikaanse digbundel gepubliseer. Hy publiseer tans op verskillende Internetplatforms soos Woes en Facebook. Benewens sy boeke, Die Eenheidsgeskiedenis van die Soutpansberg Kommando vanaf die Groot Trek tot die jaar 2012 en Spore op die Savanne Diereverse, is van sy gedigte in versameldigbundels soos 4 – Gedigte en Rym opgeneem. Van sy kortverhale is opgeneem in Die Tiende Provinsie.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Charles, of besoek een van sy Facebookbladsye: https://www.facebook.com/charles.skeen1 en https://www.facebook.com/bababromvlieg/

Lees sy blog: http://straatdigter.blogspot.co.za/