Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach: Die skraal man met die groen trui

“Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach, die maer man met die groen trui; hy is vroom en stut en hamer sy langwerpige kop om vir u ’n gedig te fabriseer… ”

So stel Breyten Breytenbach homself voor in die digbundel, Die ysterkoei moet sweet wat in 1964 verskyn het. Met hierdie bundel het hy die Afrikaanse letterkunde onherroeplik verander. Deur die jare het Suid-Afrikaners Breyten leer ken as ’n skrywer, digter, skilder, dosent en Apartheidsaktivis wat met sy verbeeldingryke, beeldskeppende skryfwerk, slim verwysings en idiome, pragtige woordskilderye saamstel. Breyten is op 16 September 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore en word groot in Wellington waar sy ouers hul huis, die Grevilleas, as ’n losieshuis bedryf het. Die Grevilleas is in Februarie 2007 omskep in ’n kunssentrum, die Breytenbach Sentrum.

Breyten matrikuleer in 1957 aan die Hugenote Hoërskool in Wellington, waar hy ook hoofseun was. Hy wys ’n beurs van die hand om aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer en skryf in by die Universiteit van Kaapstad se Michaelis Kunsskool. In hierdie tyd word hy ’n toegewyde teenstander van die apartheidsbeleid.

In 1959 verlaat hy Suid-Afrika en ná omswerwinge in Europa, vestig hy hom in Parys. In 1962 ontmoet hy Yolande Ngo Thi Hoang Lien, ’n Franse vrou van Viëtnamese oorsprong wat aan die Sorbonne studeer het. In 1964 debuteer Breyten met die bundel Die ysterkoei moet sweet en die prosabundel Katastrofes, waarvoor hy die Afrikaanse Pers-Boekhandel-prys vir Literatuur ontvang. Hoewel Breyten na Suid-Afrika wou reis om die prys te ontvang, kon hy nie omdat die Suid-Afrikaanse owerhede geweier het om vir Yolande ’n visum toe te staan weens die Wet op Gemengde Huwelike wat hul huwelik destyds onwettig in Suid-Afrika gemaak het.

Na baie druk op die regering word daar in 1972 wel ’n visum vir ’n besoek van drie maande aan hom en Yolande toegeken en keer hulle vir ‘n skrywerskongres na Suid-Afrika terug. Daar is ook geleentheid om Breyten se ouers te ontmoet en hierdie besoek vorm die grondslag van sy eerste memoir, ’n Seisoen in die Paradys.

In Parys smee Breyten vriendskapsbande met lede van die ANC. Hy is een van die stigterslede van Okhela, ’n weerstandgroep wat apartheid uit ballingskap beveg het. Met ’n onwettige besoek aan Suid-Afrika in 1975 word hy verraai, gearresteer en tot nege jaar tronkstraf vir hoogverraad gevonnis. Na baie internasionale bemiddeling word hy in 1982 vrygelaat. Die positiewe wat spruit uit sy gevangenskap is dit wat hy geskep het tydens sy gevangenskap. In die net meer as sewe jaar in die tronk het Breyten meer as 400 tronkgedigte in Afrikaans geskryf wat in die bundel Die ongedanste dans (1975–1983) saamgevat is. Hy keer terug na Parys en verkry Franse burgerskap. Hy skryf ook ’n memoir oor die tyd in die tronk: The True Confessions of an Albino Terrorist.

In 1984 word die Hertzogprys aan Breyten toegeken vir die bundel Yk. Hy weier egter om dit in ontvangs te neem terwyl Nelson Mandela nog in die tronk sit. In 1985 kry hy die hoogste lof in Frankryk en word hy vereer met ’n Commandeur des Arts et Lettres. In 1987 speel Breyten saam met IDASA, ’n belangrike rol om die geheime ontmoeting tussen die ANC en ’n afvaardiging uit Suid-Afrika in Dakar, Senegal te ontmoet. In 1988 ken die Universiteit van Wes-Kaapland ’n eredoktorsgraad aan Breyten toe vir wat hy vir die Afrikaanse taal gedoen het.

Hoewel Breyten se kunswerke veral in Europa baie bekend is en hy lank reeds uitstallings daar hou, word sy eerste kunsuitstalling eers in 1993 in Suid-Afrika in Kaapstad aangebied. Hy ontvang ook in 1993 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van (KwaZulu-) Natal in Durban.

Vanaf Januarie 2000 is Breyten betrokke as gasprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Geesteswetenskappe, asook by die Gorée-instituut in Dakar, Senegal en by die Universiteit van New York, waar hy klasgee in hulle kreatiewe skryfprogram. Op Gorée-eiland begin hy ’n multikulturele en multidissiplinêre projek saam met kunstenaars uit Denemarke, Senegal en Suid-Afrika.

In 2009, ter viering van Breyten se 70ste verjaardag, het die dorpie Hengelo in die noordooste van Nederland 14 nuwe Afrikaanse sonnette van Breyten op stadsmure en in stadstuine aangebring.

Breyten se pen het nie na sy 70ste verjaardag opgedroog nie en sedert 2008 verskyn ’n hele paar bundels waaronder ’n versamelbundel, die singende hand en ’n nuwe bundel, na-dood, wat in Mei 2016 verskyn het.

Hy en Yolande het een dogter, Daphnée, ’n Franse joernalis. Die twee verdeel hul tyd tussen verskillende punte op die kompas: Suid-Afrika, Parys, Senegal en Katalonië, Spanje waar hulle eintlike basis is.

Breyten sê sy liefde vir Afrikaans spruit uit sy grootwordjare waar hy toenemend onder die indruk gekom het van die wonderlike rykheid van die taal. Hy was ook bevoorreg dat hy op ’n baie beïnvloedbare ouderdom, pas klaar met skool, by die Universiteit van Kaapstad deel was van ’n wonderlike vriendekring. Daar was mense soos Jan Rabie, Uys Krige, Erik Laubscher, Ingrid Jonker en selfs later Abraham de Vries. Hulle was almal mense wat passievol omgegaan het met die taal en dit het hom bewus gemaak van al die moontlikhede wat daar wag om in Afrikaans ontgin te word.

Breyten huiwer nie om op te staan vir die regte van Afrikaans nie en het saam met ander wat hulle in dieselfde kamp skaar, die Gelyke Kanse-inisiatief gestig wat wil verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch sal bly. “Afrikaans is die enigste taal op die kontinent wat haarself Afrikaans noem. Dis ’n taal met sterk strome daarin wat ’n weerspieëling is van die kulturele agtergrond van almal wat ’n bydrae tot die taal gelewer het. Dit sal ’n absolute totale verlies wees vir almal, nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook vir die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap en binne die hele gemeenskap van tale, indien Afrikaans moet verlore gaan, minder status moet kry of minder gebruik word, ” sê hy.