Bartho Eksteen – Wynmaker van formaat

Aangename kennis

In die wynkringe is daar al deur kenners na Bartho Eksteen verwys as M’sieur Sauvignon Blanc, ’n meester wanneer dit kom by die maak van wit wyne. Bartho het grootgeword op die plaas La Bri buite Franschhoek, en alhoewel daar wingerde op die plaas was, is daar nie wyn gemaak nie. In sy matriekjaar in die koshuis by Hoër Landbouskool Boland, het Bartho eendag verveeld deur ’n loopbaangids geblaai en stil gaan staan by ’n beroep wat dadelik sy aandag getrek het: wynmaker. Hy het ’n bietjie meer oor die kuns van wynmaak gelees en daar was by hom geen twyfel wat hy verder met sy lewe wou doen nie. ’n Wynmaker sou, in sy woorde, nie net sy werk raak nie, maar ook sy lewe.

Na sy studies het Bartho die verdere kuns van wynmaak op verskillende wynlandgoedere, soos Kleine Zalze, Rooiberg, Romansrivier en Wildekrans verfyn, voordat hy uiteindelik sy eie handelsmerk op die been gebring het: Bartho Eksteen Wyne in Hermanus. Bartho was ook van die vennote wat die suksesvolle Hermanuspietersfontein-wynkelder in Hermanus begin het. Benewens die uitstekende wyne was hierdie kelder veral bekend daarvoor dat hulle slegs Afrikaans op al die etikette gebruik het.

In 2011 het Bartho en sy vrou Suné ’n opleidingskelder by die Boland Landbouskool begin waarmee hulle die wynbedryf en sy kunsies asook die kultuur van wynmaak, aan die jonger geslag wil oordra. Bartho se seun, Pieter Willem het intussen sy studies voltooi en het deel van sy pa se onderneming geword. Sy sussie, Shani, is tans besig met haar onderwysstudies. Die familie het ’n klein plasie in die Hemel en Aarde Vallei in Hermanus gekoop waar daar tans onder die Wijnskooletiket wyn gemaak word.

Bartho is lief vir die buitelewe en gaan duik graag om kreef uit te haal. Hy ry ook graag fiets, en kuier saam met sy gesin. Daar sal dan altyd ’n heerlike glasie wyn in die omtrek wees.

Hoe lyk Bartho se Afrikaans?

Bartho lag en sê hy word altyd gevra of hy nie dalk êrens uit die Noord-Kaap uit kom nie, want sy aksent herinner aan die van die Noord-Kapenaars al het hy nie eers familie daar nie. Afrikaans is vir hom so belangrik dat al die Wijnskooletikette slegs in Afrikaans gedruk word. Deel van die motivering van hierdie besluit, is dat jy op ’n top Franse wyn geen ander taal as Frans op die etiket sal kry nie. Die verskillende wyne in die Wijnskoolreeks dra almal name wat verband hou met die onderwys. Daar is Meester, Dom, Blom, Soetmuis, Vloekskoot, Sluitsteen en Ou Skool.

Hoe leef hy Afrikaans?

Bartho vertel hy lees graag Afrikaanse boeke en koerante en die Afrikaanse Bybel, maar gaan na ’n Engelse kerk. Sy hele lewe verder is Afrikaans. In die bemarking van sy wyne is dit vir hom heerlik om selfs in Nederland en België sy wynproegeleenthede, op versoek van die gaste, in Afrikaans aan te bied.

Sy projek:

Bartho se projek fokus daarop om die kennis wat hy oor die jare versamel het, aan die jonger geslag oor te dra. In 2010 het hy, met die ondersteuning van Diners Club International, die Hoër Landbouskool Boland en ’n paar ander borge, die opleiding begin. Die projek is gerig op opleiding en verskeie wynkursusse wat ook formele Wine & Spirit Education Trust-kursusse insluit. Die sogenaamde “Broeikasprojek” help jong wynmakers om topgehalte wyne onder mentorskap te produseer.

Daar is ook ’n entrepreneursprogram wat studente wat klaar gestudeer het, help om ’n onderneming in die wynbedryf te vestig. Daar is ook ’n behoefte aan mentors uit die bedryf wat betrokke kan raak met kundigheid en wat aan hierdie jongmense opleiding kan gee in verskeie aspekte van die wyn en gasvryheidsbedryf.
.

Maak gerus kontak:

Besoek https://www.facebook.com/Wijnskool-162664817129831/ of stuur ’n e-pos aan Bartho@hermanus.co.za

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeurprojekte.