Astrid de Vos

Astrid de Vos: Kreatief in Afrikaans

Astrid de Vos het grootgeword op ’n Laeveldse vrugteplaas naby Malelane met boorde propvol tropiese vrugte. Sy begin haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Nelspruit, maar skryf later matriek aan Hoërskool Menlopark in Pretoria. In 1979 verwerf sy ’n BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met Afrikaans-Nederlands; die Afrikaanse letterkunde was immer nog ’n groot liefde by haar. In 2007 behaal sy ’n Honneursgraad in Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Astrid skop haar loopbaan af as joernalis by die Oggendblad. Haar lewe maak ’n onbeplande draai en sy word ’n korporatiewe joernalis. Aanvanklik was sy huiwerig oor hierdie koers wat haar loopbaan ingegaan het want sy was bang dat dit te ver verwyderd is van die kreatiewe krag van Afrikaans wat nog altyd haar hart vinniger laat klop het. Tog vaar sy goed as korporatiewe joernalis, onder meer by die Raad op Finansiële Dienste.

Astrid is sedert 2009 by die Dagbreek Trust betrokke, aanvanklik as deeltydse skakelbeampte. In Februarie 2014 word sy as een van die trustees van Dagbreek Trust aangestel en sy is ook die skakelbeampte en trustee van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Haar taak by hierdie trusts is om projekte te soek wat befonds kan word om Afrikaans te bevorder. Sy oorweeg en valueer sulke projekte en soms inisieer sy ook projekte vir befondsing. Vir haar is dit besonder lekker om op hierdie manier weer in noue kontak met die kreatiewe sy van Afrikaans te wees.

Astrid dien ook op ’n aantal direksies soos Pendoring, VivA – die Virtuele Instituut vir Afrikaans, NATi (die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) en die Rapport Onderwysfonds.

Astrid en haar man Francois woon in Pretoria en hulle het drie kinders. Die jongste twee, ’n seun-en-dogter tweeling, studeer nog en bly by hul ouers in die huis. Die oudste seun studeer ook maar woon in Kaapstad. Vir haar is dit goed om elke dag nog deel van haar kinders se lewe te wees.

Wanneer die geleentheid opduik, hou Astrid daarvan om rustig te lees, te fliek of na die teater te gaan. Sy is ook besonder lief vir visuele kunste. Die gesin hou daarvan om saam vakansie te hou by die see, veral iewers in die Oos-Kaap. Die Bosveld is ook ’n groot aantrekkingskrag, want dit is vir haar veel beter om te wees waar die natuur se dramas, eerder as die mensdom en sy dramas, die dag dikteer. Astrid stap ook graag en probeer tyd maak vir joga. Sy speel graag gholf, maar die tyd daarvoor is maar altyd beperk.

Uit die aard van haar werk as skakelbeampte en trustee by Dagbreek Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys kan sy help om die energie rondom die gebruik van Afrikaans in gesonde rigtings te stuur en dit geniet sy besonder baie. Saam met haar kollegas en vennote bearbei sy haar om Afrikaans kultureel, letterkundig, akademies en vakkundig te laat ontwikkel en blom. Hulle werk hard om jongmense trots te maak op Afrikaans sodat die jongmense in die toekoms ook moeite sal doen om te verhoed dat Afrikaans vervlak.

“Die veelsoortigheid en kreatiwiteit van ons taal se sprekers maak Afrikaans besonder en spesiaal. Daar is nie nog so ’n karaktervolle gemeenskap in die wêreld soos die Afrikaanssprekende gemeenskap nie. Afrikaans verdien haar regmatige plek as amptelike taal. Suid-Afrika se wêreldklas grondwet en die 6.8 miljoen mense wat Afrikaans as huistaal gebruik, bepaal en bevestig dit. Wanneer ek kyk na jongmense se skraal vooruitsig om in Afrikaans te bly studeer en te werk, besef ek hoe belangrik dit is dat die Afrikaanssprekende gemeenskap saamstaan om op hulle taalregte aan te dring. Die tyd daarvoor het aangebreek,” sê Astrid.