Ashmund Martin: Geen rowwe diamant nie

Aangename kennis

Ashmund Martin het sy eerste treë gegee in Prieska, ’n klein dorpie in die Noord-Kaap. As kind het hy ure lank voor die kassie gesit, weggevoer deur sy gunstelingaanbieders en -programme. Sy lewe het eers ’n paar draaie geloop voordat hy uiteindelik sy nis gevind het. Ashmund het in Kaapstad in die kleinhandelbedryf gewerk voordat hy hom in 2009 in Johannesburg kom vestig het om die vermaaklikheidsbedryf te betree.

Ashmund se eerste deurbraak was as navorser en leerling-aanbieder vir Kwêla, die Afrikaanse leefstylprogram op kykNET. Daarna is hy aangestel as eksterne kommunikasie-koördineerder by M-Net. Hier het hy die publisiteit van programme soos Idols SA, Survivor SA, Big Brother Africa en MasterChef SA behartig. In 2013 het sy rol verander en hy het toe spesiale projekte vir M-Net, M-Net Series en M-Net Movies hanteer.

Al was Ashmund agter die skerms doenig, het hy nie sy passie om self as kunstenaar op te tree, laat vaar nie. Hy het stemwerk gedoen vir die MTN SAMA’s, Idols SA, kykNET & kie en SAB Miller. In 2014 het hy die geleentheid gekry om in sy eerste rolprent, Rowwe Diamante, op te tree. Dit het baie deure vir hom as aanbieder, sanger, akteur en seremoniemeester oopgemaak. Ashmund was ook die gasaanbieder op Cliff Central en ’n bekende gesig in die Caste Lite “Republic of Extra Cold”-advertensie. Tans is hy ’n aanbieder op 50/50 op SABC 2 en staan hy in as radio-omroeper op Groot FM.

Hoe lyk sy Afrikaans?

“My Afrikaans lyk soos dagbreek in die Karoo wanneer die dag uit die stof opstaan met sy ligblou lug wat weer lewe skep,” sê Ashmund, “Wyd en glad soos die stil Oranjerivier en heerlik soos ’n soet, oopgesnyde waatlemoen gevul met genot.”

Hoe leef hy in Afrikaans?

Ashmund leef Afrikaans deur sy werk om stories te vertel net soos dit in Afrikaans vertel kan word: op radio, by die kerk, deur sang of selfs op die kassie. Hy leef dit ook om dit met ander te deel, of sommer net lekker om ’n tafel te sit en kuier en luister.

Maak gerus kontak:

Vir besprekings:
Carlynn de Waal-Smit: carlynn@contractors.org.za 
Ashmund Martin: mundmark@gmail.com

Volg Ashmund op:
Facebook: www.facebook.com/search/top/?q=ashmund%20martin 
Twitter: twitter.com/Ashmund_Martin 
Instagram: www.instagram.com/ashmund

https://www.youtube.com/watch?v=ZebJ-GmbwA0
https://www.youtube.com/watch?v=BFmOswqZLGw