Arnold Geerdts: Gemaklik agter die mikrofoon

Aangename kennis

Min het Arnold Geerdts geweet, toe hy as ’n skoollaaitie die Springs Advertiser in sy tuisdorp afgelewer het, dat hy eendag ’n loopbaan in die mediabedryf sal volg. Ná skool het hy juis by die Springs Advertiser as sportjoernalis begin werk voordat hy in 1985 op Springbokradio en Radio 5 begin uitsaai het. In dieselfde jaar het hy sy buiging as sportverslaggewer op televisienuus gemaak, in Afrikaans en Engels. Arnold se loopbaan het besonder baie hoogtepunte opgelewer waarvan verslaggewing oor groot sportgebeurtenisse soos die Olimpiese Spele, internasionale gholftoernooie, toetsrugby en die Comrades Marathon deel is. Die lysie sportsterre met wie hy onderhoude gedoen het, is indrukwekkend en sluit name soos Gary Player, Jack Nicklaus, Shane Warne en Linford Christie in. Arnold is twee maal deur die SABC met ’n merietetoekenning as sportjoernalis vereer en is deesdae een van SuperSport se mees ervare aanbieders. Hy is self ’n ywerige gholfspeler en hou baie van padwedlope en het al elf Comrades marathons voltooi. Arnold is getroud met Lily en hulle het twee seuns en twee dogters. Arnold sonder sy verhouding met God, sy huwelik, kinders, om te hardloop en lees uit as die dinge wat hom werklik gelukkig maak.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sy Afrikaans is ’n stofstorm in die Vrystaat, ’n diep liefde vir ons eiesoortige blou lug. Dit is die “lewe of sterwe” van ons volkslied en ’n preek in sy moedertaal. Sy Afrikaans is ’n Van der Merwe-grap, die Afrika-son wat op hom skyn en ’n nat kerfie biltong.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Arnold leef Afrikaans met trots en met ’n oop gemoed. Hy leef dit eerlik, nes ons die taal praat.

Sy projek:

Deur die jare het Arnold ’n belangrike bydrae gelewer as sportjoernalis. Hy is trots op die feit dat hy as ’n Afrikaanse seun kon leer om Engels beter te praat as die meeste Engelssprekendes. Mense vra hom dikwels: “Wat is jy eintlik, Engels of Afrikaans?” Hy glo dat ons Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners die taal kan uitbrei deur ’n ander taal goed te leer praat, maar steeds eg en getrou aan ons eie te bly.

Maak gerus kontak:

Maak kontak: myafrikaans@afrikaans.com