Anzil Kulsen: Die Noord-Kaap en sy mense is in haar bloed

Aangename kennis

In die Noord-Kaap praat die mense kleurvolle Oranjerivierafrikaans. Anzil Kulsen, ’n skrywer en projekbestuurder by die ATKV is ’n boorling van hierdie gebied. Sy het grootgeword op Keimoes, en deesdae woon sy in Upington. Anzil het ná skool ingeskryf vir ’n BCom-graad, maar sy het gou agtergekom dis nie die sakewêreld wat haar hart vinniger laat klop nie. Vanaf 2000 tot 2003 volg sy ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aangebied deur die Writer’s Bureau van Londen. Twee jaar gelede het sy haar BA-graad deur Unisa voltooi en tans is sy besig met haar Honneursgraad in letterkunde. Anzil is al 16 jaar getroud met Heine Kulsen en hulle het ’n seun en dogter. Vir Anzil is dit heerlik om saam met die familie te gaan kampeer, en wanneer sy die geleentheid kry, werskaf sy graag in die tuin. Anzil het ’n groot liefde vir die Noord-Kaap en sy mense. Daar is ’n hartlikheid en gevoel van samehorigheid onder die mense, sê sy. Uit Anzil se pen het al drie jeugverhale verskyn: Zita, Hart vol sand en Sorry maak nie gesond nie. Sy is ook besig om te werk aan die reeks, Karatekas waarin die hoofkarakters karate beoefen. Daar is al twee titels in hierdie reeks gepubliseer en in Engels vertaal. Anzil het ook al verskeie kortverhale, rubrieke en artikels in tydskrifte gepubliseer. Vir Anzil verskaf dit groot plesier om as deel van haar werk met ’n bakkie vol boeke na afgeleë gemeenskappe te ry en daar met die mense oor boeke te gesels. Sy bied ook kreatiewe skryfkursusse aan, doen spel- en narratiewe terapie en help mense op hierdie manier om ontvlugting van al die daaglikse probleme en swaarkry te vind.

Hoe lyk Anzil se Afrikaans?

Afrikaans is haar asemhaal, eet, droom en slaap. Anzil probeer om met haar skryfkuns al die dialekte van die Noord-Kaap te weerspieël. Dis net inwoners van hierdie gebied wat sal weet dat ’n tirk ’n tipe akkedis is, verduidelik sy. Sy pas haar taal aan na gelang met wie sy praat, maar ons taal is dinamies en die Afrikaans wat in Upington gepraat word, is nie dieselfde Afrikaans as die wat in Kimberley gepraat word nie. Dan kom die Namakwalanders boonop van ’n ander planeet af, sê Anzil tong in die kies. Volgens Anzil is haar grootste stryd om die uitgewers te oortuig dat sekere sinne se woordorde moet bly soos sy dit geskryf het. Dis hoe daar in die Noord-Kaap gepraat word, en basta!

Hoe leef sy Afrikaans?

Anzil lag en sê dis ou nuus dat die mense in die Noord-Kaap Engels net uit selfverdediging praat. Al die stories wat sy skryf, doen sy in Afrikaans. Alhoewel jy dalk meer geld kan maak indien jy in Engels skryf, oorweeg sy dit glad nie. Sy doen wat sy doen nie vir die geld nie; vir haar is dit ’n hartsaak.

Anzil se projek

As deel van haar pligte as projekorganiseerder by die ATKV doen sy lees- en skryfbevordering in behoeftige gemeenskappe in die Noord-Kaap. Sy ry tot by die verafgeleë woonbuurte wat nie toegang tot biblioteke en boeke het nie en dan neem sy vir die mense boeke. Daar word dan boekbesprekings gedoen, en die lees en skryf word gebruik om ontvlugting te bied en uiting te gee aan gevoelens. Daar is meer as een manier om by Anzil se projek betrokke te raak. Die behoefte aan Afrikaanse boeke sal nooit minder word nie en skenkings is baie welkom. Anzil het ook mense nodig wat self moeilike omstandighede oorkom het wat met die mense na wie sy uitreik, kan gesels. Skype-onderhoude is ook ’n werkbare moontlikheid.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan Anzil: Anzilk@atkv.org.za

Ambassadeursprojekte:

Klik hier om meer te leer van ons ambassadeursprojekte.