Anzé Bezuidenhout: Sonder woorde sal haar siel sterf

Aangename kennis

Anzé Bezuidenhout is ’n plaasvrou met ’n groot liefde vir die Bosveld, maar ook ’n entrepreneur wat haar eie padstal bestuur. Anzé het grootgeword op ’n plaas in Marble Hall-distrik, en later gematrikuleer aan Hoërskool Piet Potgieter in die voormalige Potgietersrus. Deesdae woon sy en haar man Willie op ’n plaas op die Springbokvlakte, naby Modimolle. Oor haar padstal, IetsiVanAls Curios & Biltong net buite Modimolle is sy besonder trots. Dáár omring sy haar met mooi goed en mooi mense en dit maak haar baie gelukkig. Anzé was van kleins af besonder lief vir lees en het op die ouderdom van vier die ensiklopediereeks Kinders van die Wêreld ontdek, haarself leer lees en nooit weer ophou lees nie. Anzé is al 34 jaar getroud met Willie en hulle het drie dogters en vier kleinkinders. Vir Anzé is haar gesin haar rots en steunpilaar en hulle maak haar lewe propvol mooi dinge. Haar woorde is haar asem en daarsonder sal haar siel sterf.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Anzé sê sy leef, droom en bid in Afrikaans. Vir haar is Afrikaans die wonderlikste instrument om haar gedagtes te weergee.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Anzé het ’n webtuiste www.ink.org.za geskep waar sy aan enigeen met ‘n besonderse liefde vir Afrikaans die geleentheid bied om hul liefde vir die taal uit te leef in gedigte, rubrieke, verhale en ook musiek en liriek. Wat die webtuiste besonders maak, is dat die kreatiewes met sertifikate en toekennings beloon word.

Haar projek:

Anzé se webtuiste, www.ink.org.za, is ’n waardevolle bymekaarkomplek vir enigeen wat in Afrikaans wil skep. Dit is interaktief en enige digter, skrywer of liriekskrywer kan hieraan deelneem. Op die webtuiste is daar ook maandelikse kompetisies. Die webtuiste het ook ’n biblioteek en ’n afdeling wat opleiding verskaf. Daar kan enigeen wat geregistreer het, kom leer en die werk van ou en nuwe meesters lees. Anzé glo vas aan die stelling dat kennis mag is en daarom deel die webtuiste dit gratis met enigeen wat geregistreer het. Haar liefde vir Afrikaans is haar enigste vergoeding vir hierdie wonderlike hulpmiddel..

Maak kontak

Besoek www.ink.org.za of stuur ’n e-pos aan skryfafrikaans@ink.org.za