Annelien Pienaar: Deel graag die vreugde van kosmaak

Aangename kennis

Kleintyd, op die familieplaas in Skeerpoort, moes Annelien Pienaar kook, naaldwerk doen, en met die plaaswerk help en so het sy haar talente ontdek en vaardighede ontwikkel. Hierdie sjef en voedselkundige het ná matriek aan Hoërskool Hartbeespoort,’n BTech-graad aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf. Reeds tydens haar studie het sy besef dat kosmaak die ding is wat haar wêreld laat draai. Met haar eerste pos as patroonontwerper vir Bernina het sy ook die vreugde van opleiding ontdek en dit het haar gemotiveer om nagraads ’n onderwyskwalifikasie aan die Universiteit van Pretoria te verwerf. Baie studente is deur die jare met haar kennis verryk.

Nadat Annelien en haar man na ’n kort verblyf in Kanada, teruggekeer het Suid-Afrika toe, het hulle besluit om op die familieplaas in Skeerpoort te gaan woon. Hier het sy ’n ou koeistal omskep in ’n kookateljee met gastekamers waar studente kan tuisgaan. Annelien, wat al baie gereis het, geniet dit veral om kontreikos te eet waar sy ook al tuisgaan. Sy stel intens in mense belang en vertel ook graag stories saam met haar resepte op haar blog. Annelien is getroud met Hanru wat sy as haar rots en kameraad bestempel. Hulle het twee seuns en ’n dogter.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Annelien se Afrikaans is suiwer en kleurvol en sy geniet dit om in Afrikaans te kook, maar ook stories te vertel. Dis vir haar belangrik om ook keurige Afrikaans te gebruik, selfs in ’n foonboodskap.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Sy lees, luister, skryf en praat goeie Afrikaans. In Kanada het ’n apteker hom verkneukel toe sy in perfekte Afrikaans vir haar man vertel dat sy “de bliksem” in is omdat sy nie pynmedikasie vir haar kind kon kry nie. Hoe moes sy weet die apteker praat vlot Afrikaans?

Haar projek:

Op haar Facebookblad https://www.facebook.com/groups/boerekostwist/ en haar blog, Boerekos met ’n Twist – http://boerekostwist.blogspot.co.za/ deel Annelien inligting oor die kookkuns. Enigeen wat dus nie geld het om te studeer nie, kan hierdie inligting gebruik om ’n inkomste te verdien met hul bak- en brouwerk. Annelien is ook besig met die afronding van haar kookboek, Boerekos met ’n Twist wat in Julie 2017 by Human en Rousseau verskyn.

Maak kontak:

Stuur ’n e-pos aan boerekostwist@gmail.com of skakel haar op 0795956198.

Besoek https://www.facebook.com/www.bosenbergguestfarm.co.za/ of volg haar op Twitter: https://twitter.com/PienaarAnnelien

Annelien Pienaar se gebakte biltongkaaskoek

Kors:
250 ml koekmeel
250 ml gerasperde cheddarkaas
250 ml koue gerasperde botter of margarien (vir bakdoeleindes)

Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng tot krummelrig. Druk in gesmeerde pan van ongeveer 24 cm in deursnit. Die kors word nie vooraf gebak nie en die vulsel kom direk daarop.

Vulsel:
350 g roomkaas (NIE maaskaas nie)
5 groot eiers
250 ml room
40 g bokmelkkaas of bloukaas of brie
500 ml gekerfde biltong
5 ml gerookte paprika
Sout en peper na smaak
10 ml dille tippies
5 ml vars knoffel

Room die eiers, roomkaas, room en bokmelkkaas saam en voeg die geurmiddels by. Vou die biltong laaste in. Skep vulsel in die ongebakte tertdop en bak vir 45 tot 60 minute by 180˚. Bedien koud of warm met ’n slaaitjie.
Besoek Annelien se opwindende kosblog: http://boerekostwist.blogspot.co.za/
Kyk hier hoe gesels Annelien oor haar passie vir Afrikaans en boerekos