Annecke Redelinghuys – Deel vrouwees met woorde en musiek

Aangename kennis

Annecke Redelinghuys woon deesdae in Moonta Bay in Suid-Australië, maar tog is haar bande met Suid-Afrika en Afrikaans nog besonder sterk. Annecke het grootgeword in Durban, maar in Pretoria aan Hoërskool Wonderboom gematrikuleer. Ná skool het Annecke by die Universiteit van Pretoria gaan studeer en ’n BA-graad en ’n Hoër Onderwysdiploma behaal. Sy het net vir ’n jaar skoolgehou voordat sy as ’n spesialiskonsultant vir groot mediese fondse begin werk het. Toe sy in 2009 besluit het om na Australië te emigreer, het haar onderwysopleiding dit vir haar moontlik gemaak. Annecke het al meer as 30 Afrikaanse liedjies geskryf en die sanger Mathys Roets, het onder meer Annecke se liedjies “Dwergieman” en “Lyf” opgeneem. Sy het twee kinders, ’n seun en ’n dogter wat saam met haar na Australië verhuis het en sy is ook al ouma van een kleindogter. Annecke se verloofde, Jan du Toit woon in Pretoria. Haar vermoë om te kan skep, met poësie of musiek, is vir haar spesiaal, maar wat veral uitstaan, is die voorreg om te kan leef en mens te wees.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Annecke vertel dat haar pa ’n taalpuris was wat daarop aangedring het dat sy en haar sus suiwer Afrikaans praat. Daarom maak sy tot vandag toe die doelbewuste keuse om nie haar tale te meng nie. Selfs in Australië is daar genoeg mede-Suid-Afrikaners met wie sy heerlik in Afrikaans om ’n braaivleisvuur kan kuier.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Annecke sê sy verlustig haar in die woordkuns deur die skryf van Afrikaanse musiek en gedigte wat sy op sosiale media en haar blog plaas. Sy maak ook opnames van die voorlesings van haar gedigte wat sy beskikbaar stel vir mense om na te luister.

Haar projek:

Annecke se liedjies wat sy geskryf het, is opgeneem op twee CD’s, Dejavu en Labarint. Haar musiek is ook op YouTube en iTunes beskikbaar. Sy het ’n Afrikaanse produksie met die titel Kaalvoetreis deur die Siel van ’n Vrou geskryf. Dit neem luisteraars met musiek en poësie deur die delikate siel van die vrou en in die produksie word hulle saamgeneem op die vele fasette van vrouwees. Sy hoop om toenemend al hoe meer vroue en mans op hierdie Kaalvoetreis saam te neem.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-pos aan annecke.redelinghuys@gmail.com of besoek http://anneckeredelinghuys.blogspot.co.za/