Anna Davel: Talentvolle musieksigeuner

Aangename kennis

Anna Davel is veel meer as ’n sangeres en liedjieskrywer met ’n smeulende, volronde stem. Sy is ook ’n teaterskepper wat daarvan hou om nuwe projekte aan te pak en haar talente in ’n verskeidenheid van kreatiewe uitlaatkleppe te ontplooi. Anna het haar BA-graad in Sielkunde aan die Noordwes-Universiteit voltooi. In 1998 het sy ’n diploma in Ligte Musiek en Jazz aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie behaal. Vanaf 1998 was sy lid van die a cappella-groep Cutt Glas totdat sy in 2003 haar sololoopbaan begin het. In 2006 is haar debuutalbum met ’n SAMA-toekenning vir Beste Album: Afrikaans Kontemporêr, vereer. Anna het ook al haar slag voor die kameras gewys in rolprente soos Liefling, Die verhaal van Susannah van Biljon en Gat in die muur. Haar debuut voor die televisiekameras was in die sepie, Egoli. Uit haar pen het ’n skatkis vol oorspronklike Afrikaanse musiek verskyn.

Vyf kitsfeite oor Anna

  1. Tydens haar studiejare aan die PUK was sy deel van die Alabama-studentegeselskap waar sy ook die eerste geleentheid gekry het om as solis op te tree.
  2. Anna het in 1997 die ATKV-Crescendo gewen met haar liedjie Viooltjies.
  3. In 2012 het Anna en Ollie Viljoen ’n Tempo-toekenning vir Beste Kopskuif-album ontvang vir hulle CD, Blues en Susters.
  4. Anna het ’n honneursgraad in Sielkunde aan Unisa verwerf en is ’n opgeleide neurolinguistiese terapeut.
  5. Anna is die middelkind van vyf en die enigste dogter. Haar broers se elf kinders is vir haar baie kosbaar.

Anna oor Afrikaans?

Vir Anna is daar niks soos Afrikaans wanneer sy hartstog en passie wil uitdruk nie. “Ek kan jammer en kwaad en lief en woedend en sag en vol waagmoed wees in Afrikaans. Daar is geen ander taal waarin ek myself so kleurvol en ryk kan uitdruk soos Afrikaans nie. ”

Haar projek

In 2013 het Anna die rympies van Jaco Jacobs getoonset vir die album In die Land van Kammalielie. Dit is ook verwerk as ’n Afrikaanse musiekteatertoneelstuk vir kleuters. Sy is deel van die ATKV-Crescendo-projek wat deur die jaar landswye liedjieskryfwerkswinkels asook ’n mentorkursus, aanbied. Vroeër vanjaar het Anna die Woordkunsproduksie, Landskap, saamgestel en geregisseer en ook daarin opgetree saam met Laurinda Hofmeyr en Lizanne Barnard. Die produksie het die Woordtrofee gewen as beste Woordkunsproduksie tydens die US Woordfees 2017. Ander produksies waarin sy tans saam met ander kunstenaars te sien is, is Flennie die Snare en Oud, Nuut & Blou.

Maak gerus kontak:

Maak kontak: Stuur ’n e-pos aan info@annadavel.co.za
Besoek www.annadavel.co.za