Anet Pienaar-Vosloo

Anet Pienaar-Vosloo: Altyd ’n tikkie Franse sjarme

In die skaduwee van ou Tafelberg lê die pragtige voorstad Oranjezicht. Anet Pienaar-Vosloo en haar man Ton, woon in een van hierdie statige ou huise, een van die Kaap se skoonhede. Uit haar studeerkamer het sy ’n wonderlike uitsig oor die hele Tafelbaai en ook die Moltenodam. Dis in hierdie studeerkamer waar dié oudjoernalis tans besig is met die afronding van haar splinternuwe boek, ’n boek vol wenke om enige vrou se besoek aan Parys ’n onvergeetlike en bekostigbare ervaring te maak.

Vir Anet lê die vreugde van die lewe in so baie dinge: goeie kos, goeie wyn, uitnemende kuns, om vars groente uit die tuin by haar huis te pluk, om betrokke te wees by verskeie liefdadigheidsprojekte, om kunstefeeste te help lanseer en veral om altyd positief te bly. Haar liefde vir die Franse kultuur, kuns en modes, en veral vir Parys, is ook onlosmaaklik deel van wie sy is. In 2010 het sy die boek, Feestelike Frankryk, saam met Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier geskryf. Die boek bevat kostelike staaltjies van die uitdaging om huise op die Franse platteland te restoureer.

Nadat Anet aan Hoër Volkskool in Heidelberg matrikuleer het, het sy ingeskryf vir ’n BA Diploma in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch. Pas klaar studeer, is sy by die tydskrif Sarie aangestel as moderedakteur en dit op die bloedjonge ouderdom van 20 jaar. Na drie jaar het Anet as skakelhoof by ’n bekende klerewinkelgroep aangesluit.

Anet en haar eerste man het hulle in Knysna gaan vestig en hier was sy een van die stigterslede van die Knysna Oesterfees. Dit het ’n hele string van betrokkenheid by talle kunstefeeste aan die gang gesit. Terwyl sy die Mej Portkompetisie by Calitzdorp se Portfees help reël het, het haar pad gekruis met die van Andrew Marais, wat haar ’n pos in die skakelafdeling van Naspers aangebied het. Anet was een van die belangrike rolspelers tydens die stigting van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Vir haar was dit besonder lekker om op hierdie manier daadwerklik betrokke te wees by die ontwikkeling van Afrikaans. Sy was ook betrokke by die organisering van vele kunstefeeste soos Aardklop, die Windhoekkunstefees, ’n kunstefees op Witrivier en die Suidoosterfees. Sy is tans nog betrokke as beskermvrou by die Suidoosterfees. Anet is ook pas aangewys as die Voorsitter van die Baxterteater en een van haar voornemens in hierdie pos is om meer Afrikaanse produksies na die teater te bring.

Anet en Ton Vosloo, die voormalige voorsitter van Naspers, is al 15 jaar getroud en nou na sy aftrede kry hulle veral die kans om te reis. Die egpaar besit ook ’n klein woonstelletjie in Parys, Frankryk en bestee graag saam tyd in die stad van die liefde.

Dis vir Anet heerlik om soms tussen al haar bedrywighede ook tyd te maak en nou en dan ’n artikel te skryf. Wanneer die joernalistiek in jou bloed is, is dit moeilik om enigiets anders te doen, sê sy en elke geleentheid wat hom voordoen om ’n storie te skryf, gryp sy aan. Anet is ook ‘n ywerige fotograaf met haar eie studio by hul huis.

’n Ding wat Anet besonder na aan die hart lê, is die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig. Sy reken dis ’n groot tragedie in Suid-Afrika dat duisende kinders van hierdie voorreg ontneem word wanneer hulle in ’n tweede of derde taal onderrig word.

Afrikaans, sê Anet, kom sit in jou hart. Elke keer wanneer sy van oorsee af terugkom, kry sy trane in haar oë wanneer sy hoor hoe mooi Afrikaans hier gepraat word. Dis dan wat sy opnuut besef Afrikaans is onlosmaaklik deel van haar wese en deel van wie sy is.