Andy Paulse

Andy Paulse: Klong uit die Bokveld

Die Koue Bokkeveld is nie net uitstekende appel- en peerwêreld nie, maar hierdie bergagtige gebied rondom Ceres spog ook met ‘n hele paar woordkunstenaars wat hier grootgeword het. Dink maar aan mense soos Boerneef, Leipoldt en Hennie Aucamp. Andy Paulse, wat op ‘n plaas in die Koue Bokkeveld gebore en getoë is, is self iemand wat daarvan hou om woorde in te span dat dit uiteindelik kunswerke word. Andy het in 1984 aan die Senior Sekondêre Skool, Fred Gaum in Ceres gematrikuleer. Al was sy ouers plaaswerkers, het hulle groot drome vir hulle seun gekoester en na skool het hy ingeskryf by die Universiteit van Wes-Kaapland. Dit was in die tyd van boikotte en betogings en na ses maande het hy huis toe gekom.

Hierna sluit Andy vir ‘n tydperk van sewe jaar by die Suid-Afrikaanse polisiediens aan waarna hy sy ontslag uit die polisie gekoop het. Die boerdery en die plaaslewe het hard bly roep en in 1984 word hy toesighouer by Westland Boerdery. Hy sou nog twee maal na ander plase skuif voordat hy in 2006 geland het by die plaas waar hy geweet het hy graag sal wil aanbly: Ceder Fruit Farm. Hy het hier begin werk as ‘n besproeiingsvoorman, maar tans is hy produksiebestuurder op die plaas. Die besigheid, wat aanvanklik uit vier plase bestaan het, het deel geword van ‘n bemagtingsprojek. Tans is daar ses plase wat deel vorm van Bokkeveld Partnership en die werkers besit 40 persent van die aandele in die vennootskap. Andy is die voorsitter van die Bokkeveld Werknemerstrust en hy verteenwoordig ook die Trust as direkteur op die Bokkeveld Partnership-direksie. Hy glo dat indien sy pa vandag nog gelewe het, hy hom voorwaar ‘n klop op die skouer sou gee vir dit wat hy in die afgelope paar jaar vermag het.

Andy is getroud met Katriena en hulle het drie kinders. In die eensame wêreld waar hulle woon, ver van die stad en al sy bedrywighede, hou Andy baie daarvan om te sit en skryf wanneer hy die kans kry. Op ‘n dag het hy een van sy gedigte op Facebook gelaai en dit het ‘n hele kettingreaksie tot gevolg gehad. Hy is genooi om aan te sluit by ‘n groepie digters op Facebook, Solovlug, en later het hy ook by ander groepe wat fokus op digwerk, aangesluit. In 2013 het Andy ingeskryf vir ‘n kursus by die Carpe Noctem Digkunsakademie, aangebied deur Nini Bennett. Hy vaar uitstekend met die kursus en in 2014 word hy aangewys as die digter van die jaar by die Carpe Noctem Digblad. Deel van die prys was ‘n kontrak om sy debuutbundel in drukvorm uit te gee en dié digbundel, Ons, is binnekort beskikbaar. Van sy gedigte en prosa is al in verskeie ander bundels opgeneem. Andy het in 2015 ook die Kruik-toekenning van die Cordis Trust vir sy Buitengewone bydrae tot deernis-aksies aan die Gemeenskap, ontvang.

Andy, wat na homself verwys as ‘n klong uit die Bokveld, het ‘n besondere waardering vir sy ouers by wie hy ‘n diep liefde vir Afrikaans geleer het. Behalwe sy liefde vir sy vrou en sy kinders, staan Afrikaans volgende in die ry. Rugby, sê hy, moet maar daarna inval.

Andy het baie respek vir iemand soos prof Adam Small en hy probeer met sy eie skryfstyl om ook te skryf soos wat daar in die Koue Bokkeveld gepraat word. Die gedig moet nie net uit sy mond uitkom en van sy tong afrol nie. Dit moet uit sy hart kom en daarom skryf hy soos die Bokvellers hom praat. Dit is immers hoe sy ma Afrikaans vanuit haar moederskoot in sy mond gelê het. Heerlike Bokveldafrikaans.