Alana Bailey

Alana werk hard om ons erfenis te bewaar

Alana Bailey is ʼn vrou wat vele hoede dra. Nie net is sy die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en die hoof van hierdie burgerregte-organisasie se internasionale skakeling nie, maar sedert Mei 2015 dien sy ook as lid van die minister van Kuns en Kultuur se taakspan oor erfenistransformasie. Daarby is sy ook ’n skrywer wie se kinderboek, Die Prinses van die Afrikavlaktes, met beide ʼn ATKV-Woordveertjie en die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur bekroon is. As lid van die taakspan oor erfenistransformasie vertolk sy ’n belangrike rol om te veg vir die behoud van sekere monumente en standbeelde in Suid-Afrika sodat dit nie verlore raak in die proses van transformasie nie. Alana het grootgeword in Krugersdorp en aan Hoërskool Monument gematrikuleer voordat sy haar tersiêre onderrig aan die Universiteit van Pretoria voltooi het. Sy het ʼn meestersgraad in Historiese en Erfenisstudies aan dié universiteit behaal. Afrikaans is, in die woorde van Lina Spies, al taal waarin ek ek kan wees. 

In 1990 het sy die wêreld van migrasie betree toe sy begin werk het by die Maatskappy vir Immigrasie. Haar werk by die maatskappy het uiteindelik daartoe gelei dat sy in 2003 aangestel is as die hoof van die Kom Huistoe-Veldtog vir remigrerende Suid-Afrikaners wat saam met Solidariteit van stapel gestuur is. Sedert 2005 is Alana werksaam by AfriForum en tans is sy die adjunk- uitvoerende hoof van die ITK-afdeling van AfriForum. Hierdie Internasionale Skakeling en Taal en Kultuur-afdeling is betrokke by taalveldtogte, onderwysveldtogte en erfenisbewaring. Sy is ook deurgaans besig met navorsing vir AfriForum.

Alana is iemand wat baie daarvan hou om te skryf en het al verskeie formele wetenskaplike en minder formele artikels oor kultuurgeskiedenis en migrasie gepubliseer. Sy het ook al verskeie kortverhale geskryf, maar ook besluit om haar hand aan skryfwerk vir kinders te waag en ingeskryf vir ’n kinderverhaalkompetisie wat LAPA aangebied het. Die verhaal, Die Prinses van die Afrikavlaktes, waarmee sy ’n tweede plek in die kompetisie behaal het, is in 2007 deur LAPA uitgegee. Alhoewel die grootste bevrediging vir haar daarin gelê het dat die verhaal gepubliseer is, is sy ook besonder dankbaar vir die pryse waarmee die boek bekroon is.

Vir Alana is dit besonder lekker om deur al die verskillende dinge waarby sy betrokke is, die geleentheid te kry om nie net die een kant van haar menswees wat navorsingsgerig is te kan uitleef nie, maar ook die ietwat aktivistiese ander kant. In die Taakspan van die Minister van Kuns en Kultuur kos dit soms harde werk om mense van ’n teenoorgestelde standpunt te oortuig dat die monumente en standbeelde uit ’n vroeëre era tog ’n plek het in ons land en dat dit uiteindelik deel van ons almal se erfenis is.

Alana se liefde vir Afrikaans het in haar ouerhuis gestalte gekry. Haar grootouers was almal besonder lief vir die taal en sy het altyd storieboeke as geskenke ontvang. Albei haar oumas en haar pa en ma was almal wonderlike storievertellers en by hulle het sy beslis die liefde om stories te kan vertel, geërf. Alana glo vas dat ons ʼn ereskuld het teenoor ons voorgeslagte en ʼn verpligting jeens ons nageslag om ons kosbare taal te beskerm en uit te bou.

Sy glo vas aan die toekoms van Afrikaans. Al is die invloed van Engels baie sterk op die oomblik, dink sy die gehalte letterkunde wat in Afrikaans verskyn, en die harde werk van ’n sterk gemotiveerde klein groepie mense wat regtig taalbewus is en hard werk vir die voortbestaan van Afrikaans, sal Afrikaans in die toekoms indra. Die verskyning van die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls in Augustus 2017 maak haar baie opgewonde, want nie al die tale in die wêreld het so ’n uitstekende hulpmiddel, wat gereeld bygewerk word, tot hulle beskikking nie. Alana is ook ’n kampvegter vir moedertaalonderrig en glo baie sterk in die positiewe bydrae wat dit tot ʼn kind se leergereedheid kan hê.

Sy is ook ’n lid van die Afrikaanse Taalraad, die uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers en direkteur van Maroela Media, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting.

Naas Suid-Afrika, Afrikaans en die bewaring van ons erfenis, is Alana se ander belangstellings lees en reis. Sy woon in Pretoria.