Adam Weilbach: Altyd ’n rebel

Aangename kennis

Adam Weilbach se lewensreis begin in Springs, Koos Doep se molshoopdorpie, in sy woorde. Sy grondslag van sy liefde vir letterkunde is gelê in die verhale van CJ Langenhoven, met Brolloks en Bittergal as gunsteling. Adam het reeds in Graad 10 begin om prosa en poësie te skryf. Nadat hy ’n digbundel, Yk van Breyten Breytenbach by sy Afrikaans-onderwyser ontvang het, was sy lewe nooit weer dieselfde nie. Adam beskryf homself as ’n rebel en as jong man was hy ’n getroue volgeling van die Voëlvrymusiekbeweging. Hy het nog altyd ’n swerwersbestaan gevoer, maar het nou wortelgeskiet in Bellville waar hy en sy lewensmaat, Anita, besig is om ’n ou Kaaps-Hollandse huis na sy eertydse glorie te restoureer. Onder die naam Quintin Ellis het Adam drie hoë-fantasieverhale gepubliseer. Adam is ook ’n vryskutakteur wat fokus op internasionale produksies en het al die geleentheid gehad om bekendes soos Ray Winstone en Diane Keaton tydens die verfilming van internasionale televisiereekse soos Young Pope en Black Sails te ontmoet. Adam het twee volwasse dogters, wat hom baie na aan die hart lê.

Hoe lyk sy Afrikaans?

Sy Afrikaans is welgesproke, rebels en altyd aan die ontwikkel.

Hoe leef hy in Afrikaans?

Adam geniet dit om in Afrikaans te skep en doen baanbrekerswerk ten opsigte van die ontwikkeling van hoë-fantasie as ’n nuwe genre in die Afrikaanse letterkunde.

Sy projek:

Alhoewel twee van Adam se verhale reeds gepubliseer is, het die uitgewery ten gronde gegaan. Hy is tans besig om die twee hoë-fantasieverhale weer by te werk en ’n nuwe uitgewer daarvoor te vind. Hy en Louise Eijbers, het ook die boek Phantastes deur George MacDonald, in Afrikaans vertaal. Tans werk Adam aan sy derde hoë-fantasieverhaal en ook aan ’n digbundel. Hy het benewens sy waardering vir Breyten Breytenbach ook ’n geweldige bewondering vir die werk van Ingrid Jonker en sy eie skryfwerk word ook sterk deur haar digkuns beïnvloed.

Maak kontak

Stuur ’n e-pos aan wolpensie@yandex.com