Alanka Craffert: Afrikaans is Alanka se selfportret

Aangename kennis

Alanka Craffert is nie ’n tipiese plaasmeisie nie. Van kleins af het haar enorme verbeelding gesorg dat sy haarself pens en pootjies in ander wêrelde plaas. Soms sou sy singend op ’n swaai sit, ’n hanslam op die skoot. Ander kere sou jy haar weer met ’n kamera in die hand betrap waar sy ’n maatjie of familielid op ’n video verewig. Sy het reeds as laerskoolleerder kortverhale oor drake met kolletjies geskryf of haarself in haar verhaal ingeleef as ’n openbare swembad wat kliphard lag wanneer mense se tone hom kielie. Storievertel, vermaak en kuns is wat Alanka van kleins af gelukkig maak. Sy het al by verskeie kunstefeesverhoë (KKNK, Woordfees, Aardklop) haar lyf aktrise gehou, in ʼn rolprent of twee gespeel en is tans besig met die vestiging van haar eie kreatiewe konsultasiefabriek waar sy verskeie onderskeie produksies en woordkunsprojekte aanpak wat in 2018 die lig sal sien. Alanka verdien tans haar brood en botter deur vir Tixsa (ʼn privaat, aanlynkaartjiebesprekingstelsel en eenstop-geleentheidsbestuur-en-toegangsbeheerstelsel) te werk. Wanneer die wêreld haar druk, ontsnap sy met ’n glas wyn terwyl sy perspektief vind in ’n Liewe Heksie-boek of haar ander Bybel, die Groot Verseboek.

Hoe lyk haar Afrikaans?

Alanka glo die wêreld bestaan uit stories, nie atome nie en haar storie het in Afrikaans begin. Afrikaans is vir haar alchemie, ‘n wyse waarop onedele of niksseggende items, deur woorde en sinne in waardevolle begrippe omtower kan word wat eindelik oorgegiet word in stories. Stories is wat ons van totale vervreemding weerhou. Ons leer onsself en ander ken deur in mekaar se stories te deel. Vermy om te preek en vertel eerder ‘n storie wat harte aanspreek.

Hoe leef sy in Afrikaans?

Alanka poog om Afrikaans lewendig te hou deur stories te vertel op verskeie platforms, hetsy via die verhoog, video’s, gedigte, musiek of deur haar Afrikaanse blog. Sy besoek ook gereeld Afrikaanse kunsprojekte en produksies om haar mede-ambassadeurs, wat Afrikaans pleeg, te ondersteun.

Haar projek:

Alanka vertel haar storie, oor al die stories om haar, met behulp van haar webtuiste, www.alanka.co.za Hier blog sy oor haar vreemde verwondering vir die wêreld. Sy glo dat die alledaagse iets eksoties het om te ontsluit, maar jy moet fyn daarvoor uitkyk. Sy doen dit alles met ‘n sterk fokus op Afrikaans.

Maak gerus kontak:

Stuur ’n e-posduif aan hello@alanka.co.za

Webtuiste:www.alanka.co.za
Facebook: Alanka Craffert (@alankastories)
Twitter: @alankacraffert
Instagram: @alankacraffert