Wie is ons?
Verskeie organisasies en individue met ’n liefde en passie vir Afrikaans het saamgekom om Afrikaans in haar verskillende vorme te vier en te verken. Ons nooi jou saam op hierdie ontdekkingstog die wye Afrikaanse landskap in. Ons vra mede-avontuurlustiges om jul unieke Afrikaanse leefwêrelde met ons te deel en ons te verras met jul uitkyk op en ervaring van Afrikaans. Afrikaans se horisonne is wyd en haar karakter is so eiesoortig soos elke mens wie se wortels in hierdie kontinent geanker is.
Laat weet ons hoe lyk jou Afrikaans!
Ons visie
Afrikaans.com is daarop gemik om die diversiteit en skoonheid van Afrikaans te vier en te verken. Op Afrikaans.com sal jy alles vind oor Afrikaans. Alle groot organisasies, feeste, optredes en projekte word hier bemark met deurklik-skakels na die verwante webtuistes. Hierdie platform is ‘n bymekaarkomplek vir alle mense wat hulself deel voel van die taalfamilie (hetsy naby, verlangs of terloops) en vir enigeen wat meer oor die taal en sy bedrywighede wil weet of sommernet nuuskierig is oor die Afrikaanse leefwêreld. Die onderwerpe is byvoorbeeld Ontspan, Beleef, Leer en Deel met afdelings vir musiek, boeke, kos ‘n nuttige feeskalender en ‘n webkatalogus met bakens om jou soektog deur die Afrikaanse landskap te vergemaklik.
By Afrikaans.com vertel ons besoekers van bestaande organisasies, projekte en navorsing, geleenthede en verwikkelinge in Afrikaans. Ons bied inligting vir die leek en die kundige, vir die nuuskierige en die ingeligte, op ‘n vars en vernuwende manier.
Afrikaans.com is ´n lewendige, dinamiese en organiese kanaal wat ‘n diens lewer aan die gebruiker.
Afrikaans.com stel ten doel:
- Om ‘n nuttige saamkomplek vir gebruikers van Afrikaans te skep en die voortou te neem in die skep van ‘n aanlynbeweging wat Afrikaans positief bemark en beïnvloed.
- Om ´n sterk, lewendige aanlyngemeenskap te ontwikkel, gesentreer rondom gebruikersbehoeftes.
- Om ´n persoonlike verwysingsraamwerk van inligting, vermaak en opvoeding vir die gebruiker te wees wat ten alle tye toeganklik is waar gebruikers ook al beweeg.
- Om nuttige inligting aan te bied.
Die Afrikaans.com-handelsmerk kan deur die volgende woorde beskryf word:
- vier
- verken
- inlig
- vermaak
- opvoed
- bemagtig
Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier.