#waarsitlekka … in Afrikaans!

#waarsitlekka … met letterpret in Afrikaans! 

Wys ons #waarsitlekka… in Afrikaans. Dit is tyd vir letterpret en ons letter van die week is ... K!

Dink jou eie woord uit, skryf ’n rympie, deel jou gunstelingwoord of maak ’n video! Miskien vorm iets in die natuur 'n K ... miskien is daar ’n kinderrympie wat jy vandag weer onthou ... Kotiljons, kabeljou, krater, knuffel, kafdraf en klonterige melkkos ...

Ons begin eersdaags by A ... 

Kreatief met K – kan jy nou meer!

Korswil en kuier met kwinkslae en kaperjolle rondom die letter K het heelwat kreatiewe bydraes op ons Facebook-blad opgelewer. So hoor ons ’n krielhaantjie is ’n klein parmant en daardie stofvergaarders is bloot kaggelkakkies.

As jy vergeet om in die oggend jou gesig in te kleur en so “kaal” ’n brood gaan koop, bied die “kind” agter die kasregister so kou-kou vir jou (die pensionaris!) kieriekorting aan! Kan jy nou meer! Sommige lesers, soos Denise McLoughlin, het haar Afrikaanse kreatiwiteit met die letter K gedeel: “... Die taal kikker my op – klop aan my hartsnare – hoef nooit op te krop, want my taal is kerriebrandlekker – is ’n konvooi van kragdadige, kosbare, knop-in-die-keel woorde – is my trooskombersie ...”

Juanita van der Westhuizen gaan weer kuier-kuier om met K wanneer sy skryf: “Kuier by Koffiefontein – koop daar ’n klein bietjie wyn – koop kameeldoringhout vir die koud – ’n knetterende vuurtjie vir die laaste uurtjie – koffiekapitaal met karamelkoek vir ’n bietjie krag.” En wie onthou nie dié raaisel nie: “Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie ... wat is ek? (’n Besem)”

Ons Ambassadeurs vir Afrikaans het ook pret met K!

Eric van der Byl deel die volgende raad:
Kannie is nie dood van kruiwa stoot.
Kennis vermeerder met meer kanse.
Knyp te wees leer ons bid.
Kinders kan kennis gebruik om ons land van ondergang te red...
Kryt en kennis versamel in kunskaskenades.
Kry klomp kennis en raakknap.
Kranse is mooi maar kansvatters soveel te meer sonder om te krepeer.
Kern dring deur tot ’n keerpunt.

Koos Marais lewer so kommentaar:
Kollegeklokke se klepels kondig klinklaar
Ons kwekelinge se kennis kom nie klaar
Die kwaksalwers kewel en kaveer
Op koers om koloniale kantore en kennis
Te kruisig, klakkeloos, kontraproduktief, en korrup
Kamerade, kroes, kras, en kordaat keer
Kandidate kan nie klas toe nie
Koerante en kletskamers se kommentaar:
Ons koning kyk hoe die kaartehuis kantel.

Fransjohan Pretorius sê die letter K is vir hom wonderlik, want:
“ ... in die woord "ek" staan hy naas die "e", sodat ons moet besef dat "ek" niks beteken sonder waardering vir die een wat naas my staan, en dat die twee saam iets beteken en gelykwaardig is. Want net "e" sê niks.“

En ons eie Alita Steenkamp laat K lewe met:
Klipsalmander kaalgatperske, kabeljou en Koekenaap,
kavalkade, kommissaris, kerriekos en katelknaap
kortpad, klakous, kolfbeurt, knorhaan,
klokkie, Kalkbaai, koffie, klankbaan,
Kakamas, kakelaar, karavaan en kabinet
kodewoord, kolfkampie, Kommetjie en kabaret
kwinkeleer en koketteer, kalibreer en kontroleer,
krokodil en viskroket,
K staan mos elfde in die alfabet!

Kortom – dis klinkklaar. Die K-woord het ons laat kopkrap en kake kners, maar met ‘n koesiester op ‘n kleinbordjie en ‘n koppie koffie vir die keel, kraai ons koning en ken ons kreatiwiteit geen perke nie.

Kom speel saam! Dis pret en sommer goeie oefening vir daai grysstof.

#waarsitlekka #MyAfrikaans

Kyk hier na nog inskrywings!

 

Kyk hier … Marietjie van Tonder - Die K van kiekies
Kyk hier … Caren Kearley - Kapokhaantjie Kraai Koning
Kyk hier … Linnie Van Niekerk - K-staan vir KRUIS

 

Kyk hier … Denise McLoughlin - Die K in Afrikaans
Kyk hier … Sonei Zeelie - Klaasvakie
Kyk hier … Lukas Engelbrecht - Kortstondig

  

Vind jou inspirasie hier ... 

 

Lundi Khoisan, ‘n Ambassadeur vir Afrikaans gesels met Sharney Nel en deel die ‘lekka’ van haar Afrikaans.
Ingrid Bell – se pragtige gedig: Seisoene
Paul Ferreira – se lied: Seisoene

 

Kyk hoe dans die reën vir Kobus Olivier
Vir Nicolene van der Walt lê die lekker in musiek
Kyk hier … Yvonne Laing onthou hoe lekker dit is om in ‘n plaasdam te swem

 

Wat is lente nou sonder ‘n lekker braai. Hiersit lekka!
Martin Nieuwoudt se sonnige Sondag
Vir Melanie Christians is dit ‘n hakiesdraad in Sutherland

 

Mirna Marais se seisoen vol belofte