Ontmoet die wenner van Hoe lyk Afrikaans in jou dorp!

08 Oktober 2017

“My ‘taaldorp’, ek skryf vir jou ‘n hartsbrief.”

“Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing. Tyd snel verby en jou volwasse reis bring jou terug na Hoopstad. Met ongesegde leemtes plant jy weer wortels in, gee rivierwater en hoop vir genade van ouds.”

So skryf Truida Genis (42) van Hoopstad. Truida is Saterdag, 7 Oktober tydens die Dorp van die Jaar-makietie in Mosselbaai aangekondig as die wenner van afrikaans.com se “Hoe lyk Afrikaans in jou dorp?”-kompetisie.

Het jy geweet Mosselbaai het die grootste natuurlike getypoel ter wêreld? Truida kuier by die Punt op Mosselbaai. (Foto: Marietjie Burger)

Meer oor Truida

Truida is ongetroud en woon saam met haar grys straatkat en ’n sagmoedige Great Dane. Sy bedryf haar eie onderneming, maar sê sy wag in spanning dat een van die vele eiers in die entrepreneursmandjie binnekort in ’n goue eier gaan verander.

””

Truida se straatkat en sagmoedige Great Dane

””

Sonsondergang geneem deur Truida

Haar passie is nog altyd haar medemens wat met vandag se lewe sukkel of bloot net ‘n hupstoot nodig het in die regte rigting. Sy het veral ‘n sagte plek in haar hart vir kinders. Truida het ’n B Prim Ed-graad.

Truida sê sy kan nie regtig iemand of iets uitsonder wat haar passie vir Afrikaans aangewakker het nie, maar sy weet net dat sy poog om nog ten volle te LEEF in haar taal!

Wat is dit van Afrikaans wat haar bekoor en so passievol daaroor laat skryf?
“Ek leef met passie in my taal. Ek lag in Afrikaans, ek huil in Afrikaans en ja ek vloek ook in Afrikaans as die Bokke verloor. Dit is vir my ‘n groot uitlaatklep om in my taal te skryf en my gedagtes te laat uitborrel. Ek dink die beste beskrywing vir die gevoel, is soos daai lang, aanloklike leerbank by die sielkundiges in films - as ek skryf, maak my hart vanself oop.”

Haar gunstelingplek is haar sussie se wildsplaas buite Hoopstad teen die Vaalrivier. Hier is waar sy graag gaan kuier om net weer al haar “kop-eiers in een mandjie te kry”. Die pragtige sonsondergange met die kameeldoringbome op die agtergrond is ook eie aan haar dorp en iets wat haar baie na aan die hart lê.

Haar gunsteling- Afrikaanse woord?
“Smartvraat (omdat dit mense wat van opdraende hou so mooi saamvat.”

En wat van Afrikaans is vir haar #onmisbaar?
“Met geen twyfel . . . my Afrikaans se vermoë om aan te pas. As ek dink waar Afrikaans vandaan kom tot waar Afrikaans hom vandag bevind, kan ek net stil raak en respek toon vir die taal se doelgerigte vooruitgang en suksesvolle groei na ’n uitdagende verlede. Ek is sommer opgewonde oor die toekoms van my taal as ek kyk na die sukses van TV-produksies soos Kwêla en Die Boekklub, kalm musikante soos Kaleidoskoop en baanbrekers soos Karen Zoid, asook die sukses van Afrikaanse rolprente en akteurs wat kan meeding met Hollywood-sterre en -films. Om nie te praat van die webtuiste afrikaans.com se uitstekende pogings om ons taal nog vurig en hedendaags te hou deur opwindende bemarkingspogings nie.

“My pap hart word ook net nog papper as ek in “Mall of Africa” in Midrand rondloop op Erfenisdag en ‘n dame komplimenteer met haar eg tradisionele drag. “Jy lyk so mooi.” Sy antwoord my met die grootste glimlag in ‘n gebroke aksent: “Baie dankie!” Sy het my verstaan en dit waardeer. Dit was spontaan en beide se intensie was hartlik, want ons almal hoort hier. “

Truida sê sy het hoë verwagtinge vir Afrikaans, want “opgewonde Genis” droom nog in Afrikaans. Dit is moeilik vir ons jeug om positief te bly en ‘n toekoms te sien. Ek moedig almal aan om op te hou smartvrate wees en net ten volle in Afrikaans te leef.
Daar is plek vir ons almal onder hierdie een son … alles is volmaak gemaak en in ons keuseryke hande gelaat vir vooruitgang. Dis ‘n keuse . . . dit is jou ware geloof.

So lyk haar inskrywing:

Hoopstad

Hoopstad: Jy praat nog altyd my moedertaal . . .

Truida Genis: Afrikaans in my dorp . . . Hoopstad bring my herinneringe, my wortels en waar ek myself tans weer bevind. 'n Afrikaanse bekendheid, nie net my praattaal nie, my lag-, huil- en reistaal, wat jou terugbring waar jou siel begryp en nie noodwendig spreektaal regverdig nie. Dis 'n harmonie van reuke van omgeploegde lande met 'n rooigrondhorison na 'n welverdiende somer-donderbui. 'n Junievakansie se speel in 'n vrag witmielies en biltong maak. Die sandsteenkerk 'n rusplek van helde, verryk met my moeder se as en Japie Greyling se beeld. Hoërskool Hoopstad-atletiek is die plek waar sweet, pannekoek, jaffels en Deep Heat ten volle sin maak in een omgewing. Tyd snel verby en jou volwasse reis bring jou terug na Hoopstad. Met ongesegde leemtes plant jy weer wortels in, gee rivierwater en hoop vir genade van ouds. Jy bevind jouself in 'n grootmens-gesprek wat baie sin maak in jou taal. My “taaldorp”, ek skryf vir jou 'n hartsbrief. 'n Huldeblyk van helde, party geval en ander aan die vet kant van die lewe. Dankie vir die reis en die vreugdes van liefde wat wag. Jy praat nog altyd my moedertaal . .

Ingrid Erlank, Afrikaans.com se redakteur praat met Truida Genis

Die ander inskrywings ...


Truida se Mosselbaai Makietie-herinneringe

 

””

Lekker musiek, heerlike kos, 'n feestelike atmosfeer en hope pret – die Mosselbaai Makietiefeesterrein het iets gebied vir elke smaak. Hier toets Truida van die plaaslike produkte.

””

Mosselbaai is ‘n karaktervolle dorp met unieke winkels. Truida het die strate behoorlik rooi geverf!

””

Truida en haar suster, Marietjie Burger, kon heerlik rondrits in hul Kia – ‘n medeborg van Kwêla Dorp van die Jaar.

””

‘n Naweek van heerlike bederf.

””

Sandkuns ter viering van die wendorp.

””

Pieter Koen het makietiegangers vermaak en wens ons wenner geluk.

””

Marietjie Burger, Truida se suster, deel in haar vreugde.

””

Ingrid Erlank en Clara Olivier van Afrikaans.com saam met musikant Willem Botha en die twee Hoopstadsussies, Truida Genis en Marietjie Burger.

””
””

Organiseerders

””

Verteenwoordigers van Kwêla, Nelius Ferreira en Therese Benade (voor) saam met die uitvoerende onderburgemeester, Dirk Kotzé en verteenwoordigers van die reëlingskomitee wat die dorpsfees, oftewel die groot Makietie, georganiseer het. (Foto: Mosselbaai Advertiser).

””

Clara Olivier (Afrikaans.com) saam met die Kwêla -span

Feesgangers

 

 

Meer oor die kompetisie

Afrikaans.com was vanjaar ’n trotse borg van die gewilde Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie waarin Mosselbaai met die louere weggestap het.

Die borgskap was vir ons ook die ideale geleentheid om weer die mooi en uniekheid van Afrikaans in al die verskillende dele van ons land te herontdek en om ons dorpe deur die oë van die inwoners te beleef, saam met hulle deur hul strate te loop, te sien hoe daar in Afrikaans sake gedoen word, skoolgegaan word, gekuier word en geskep word. Uit die inskrywings was dit duidelik: Elke dorp is verskillend, maar op elke dorp kry jy een of ander vorm van Afrikaans.

Deelnemers kon iets skryf, ’n video of foto’s instuur en talle kon nie uitgepraat raak oor hulle dorp se Afrikaans nie en party het ons lekker laat lag met die raak uitdrukkings wat in hul geweste gebruik word. So ook was die pragtige Afrikaanse benamings vir ondernemings in Stilbaai soos musiek vir die ore. Name soos: Gister se Goeters (tweedehandse goedere), Pakketmoles (skryfbehoeftes en drukwerk), Mengelmoeskardoes (winkel) en straatname soos Perdekuil, Noemnoemsingel en Kinkelbossteeg.

Afrikaans se lof is behoorlik besing en ’n mens het net weer besef: “Afrikaans is ’n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture van ons land.” – Nelson Mandela

Mosselbaai – Kwêla Dorp van die Jaar

Die Kwêla Dorp van die Jaar-toekenning is tydens die groot, gratis Makietie Saterdagaand, 7 Oktober, behoorlik gevier. Honderde trotse inwoners van die skilderagtige dorpie het saam partytjie gehou.

Therese Benade en die Kwêla-span het saam met inwoners die dag spandeer om die gesogte toekenning te vier. Hulle het 'n insetsel oor die feesvieringe opgeneem wat op 22 Oktober uitgesaai sal word. Bekende vermaaklikheidskunstenaars soos Pieter Koen en Emo Adams het opgetree en plaaslike talent het die program aangevul.

Benewens die Makietie, behels die prys vir die Kwêla Dorp van die Jaar-toekenning dat Mosselbaai lugtyd ter waarde van R1 miljoen op kykNET ontvang. Die Kwêla-span het ‘n reklame-insetsel vervaardig wat op tydgleuwe, waarop ooreengekom is, uitgesaai sal word.

Lees meer ...