’n Terugblik op 80 jaar van Afrikaanse radio

06 November 2017

Op 27 Oktober 1937, om halfelf die oggend, het die eerste uitsending van Radio Suid-Afrika vanuit Kaapstad plaasgevind. Nie net was dit ’n historiese oomblik vir ons taal nie, dit het ook bygedra tot Afrikaans, wat eers in 1925 deur die destydse regering as amptelike landstaal erken is, se radikale ontwikkeling en groei. Uiteraard het daar heelwat veranderinge oor die afgelope 80 jaar plaasgevind. Nie net in die medialandskap nie, maar ook in die politieke, sosio-ekonomiese en tegnologiese sfere van Suid-Afrika. Tog gaan Radio Sonder Grense steeds van krag tot krag en het dié radiostasie homself oor die dekades in die huise en harte van Afrikaanssprekendes regoor die wêreld tuisgemaak. Petronell Vorster gee ‘n oorsig.

Die feesvieringe

Vir hul verjaarsdagvieringe het RSG besluit om die SAUK se klankargief met ’n vergrootglas te fynkam en baie van die gewildste programme oor die laaste 80 jaar is weer uitgesaai. Luisteraars kon hulle verkneukel in die avonture van Staal Burger, Leon Schuster se aapstreke in Vrypostige Mikrofoon of na ou dramas, musiek- en sporthoogtepunte luister. Die heruitsendings het groot aanklank by luisteraars gevind en anders as in die verlede kon luisteraars met behulp van sosiale media behoorlik saam feesvier.

Onthou jy nog?

””

Roelf Jacobs, bekende radio-omroeper en sy karakter, die nimlike Otterjasie op Siembamba.

””

Fanus Rautenbach – een van Suid-Afrika se bekendste radio-omroepers, skrywers en mediapersoonlikhede.

””

Die oorspronklike span van Staal Burger – Voor Annette Barnard (Doedie), Daan Retief (Staal), Miems de Bruyn (Dada), Nic Swanepoel (regisseur). Middel: Jan Pohl (Willem), Pieter Hauptfleisch (slim boef), Fanus Rautenbach (verteller), Lourentz Schultz (oom Zac), Mike Heine (Koos), Jan Briel (dom boef). Agter: Roelf van Jaarsveld (klank en byklanke).

””

Fanus Rautenbach en Leon Schuster agter die mikrofoon. Fanus het Flink uit die vere aangebied en Leon Vrypostige mikrofoon.

Gerhard Viviers, legendariese rugbykommentator.

Volgens Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, het hierdie heruitsendings klem gelê op die groei van Afrikaanse radio. “Alles was nie noodwendig altyd goed in die verlede nie, en ons het op programme afgekom wat vandag erge aanstoot sou gee. Dit is egter duidelik dat omroepers en programmakers oor die 80 jaar heen baie kreatiewe mense met uitstekende talent was! Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaanse radio in 2017 anders is as in die verlede, maar nie verkeerd of swakker nie. Ons kan trots wees op alles wat Afrikaanse radio bereik het,” sê sy.

Wat is RSG se wenresep?

RSG se sukses kan grootliks toegeskryf word aan hul aanpasbaarheid en die feit dat hulle hul luisteraars altyd eerste plaas. “Luisteraarsinteraksie en deelname is vir RSG baie belangrik. Die luisteraars moet tuis voel, moet gebonde voel en moet voel dat RSG omgee. Dat RSG inligtingsprogramme vir hulle gee wat hulle help en bemagtig in hul alledaagse lewe,” sê Magdaleen. Met meer as ’n miljoen daaglikse luisteraars, is dit duidelik dat dié resep werk.

Sekere programme het ook as’t ware instellings geraak. Programme soos U eie Keuse, wat reeds sedert 24 Oktober 1945 uitgesaai word (en ook die oudste program op Afrikaanse radio is) is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Volgens Magdaleen verkies luisteraars van vandag programme waar interaksie kan plaasvind. “Inbelprogramme waar luisteraars kan saampraat en hul menings gee en vrae vra oor sake soos mediese dinge, regsaspekte en finansiële inligting, is baie gewild.”

Hoe het dinge oor 80 jaar verander?

In 1937 was die koms van televisie ondenkbaar, om nie eers van rekenaars, die Internet, selfone en sosiale media te praat nie. Tog het tegnologie nie die dood van die radio veroorsaak nie, maar dien dit eerder as ʼn aanvulling vir radio as medium. Tegnologie is ook volgens Magdaleen die grootste merkbare verandering wat oor 80 jaar plaasgevind het. Hoewel Afrikaanse radio steeds op die lug is, het dinge soos Potgooi, Twitter, Facebook, Instagram en die webblad met addisionele inligting, radio in beeld en radio in klank op DStv ook bygekom. “Tegnologie het RSG globaal gemaak, baie ekspats is deesdae afhanklik van Afrikaanse radio vir verbinding met hul familie en gesin,” sê sy.

Ander belangrike veranderinge sluit in:

  • RSG klink anders, dit reflekteer die verskeidenheid tongvalle van Afrikaans.
  • Die inhoud is baie meer inklusief.
  • Die musiekaanbod en speellys het verbreed (kragtens genres en tipe musiek).
  • Sensuur oor inhoud ter wille van ideologie of politiek bestaan nie meer nie.

Vryheid van spraak is vry van inmenging.

Hoe lyk vandag se RSG?

Een van RSG se grootste sterk-, en sommige kan argumenteer swakpunte, is die feit dat hul as openbarediensstasie ’n wyer gehoor moet akkommodeer. Anders as onafhanklike gemeenskaps- en kommersiële radiostasies (Afrikaans, Engels en gemengde stasies) kom hul luisteraars van ‘n gemengde agtergrond wat ouderdom, opvoedingsvlak, geloofsoortuigings en taalvoorkeure betref. Daar moet iets vir elkeen in die gesin wees om na te luister, van jongste spruit tot oumagrootjie. RSG moes gevolglik met die jare wegdoen met hul streng ‘Afrikanerkultuurstasie-beeld’. Onder leiding van Magdaleen Kruger, is RSG grootliks suksesvol om tred met die tye te hou. Vandag se RSG poog om jonk, vars en soos Magdaleen dit stel “steeds ’n vrolike dame, ’n vermaker, ’n metgesel, ’n universiteit en ’n goedgemanierde gas in jou huis, kar of in die gym te wees.” Hierdie siening word ook gereflekteer in die programme wat jy vandag op RSG aantref. Daar is werklik iets vir almal.

Luister hier hoe gesels Magdaleen Kruger oor haar passie vir radio en Afrikaans

Hoewel die stasie steeds ‘n Christelike aanslag het, is die godsdiensprogramme korter en is daar ‘n groter verskeidenheid. Sondae is nog grootliks gefokus op Christenskap met programme soos Lewende Woord, Sondagjoernaal, Loof die Here, Oggenddiens en Sondag met Fritz. Deur die loop van die week is daar ook daagliks ’n Vroegoggend-, Aand- en Laataandgedagte. Tog poog RSG om ook vir luisteraars van ander geloofsoortuigings voorsiening te maak met onder meer Islam in Fokus en Ikra.

Vir die jonger lede van die gesin word daar ook ruim voorsiening gemaak. Vir voorskoolse en laerskoolkinders is daar programme soos Storiedieretuin, Klaas Vakie roep en Kinderpret. Tieners en jongmense kan saam luister na Kopkrap, Kompas, Tempo en Oppiradio.

Aktuele sake word ook wyd gedek in programme soos RSG Landbou, Monitor, Spektrum, Oggend op RSG, Middag op RSG en Tjailatyd. Ander programme wat ook op meer ernstige sake fokus, is onder meer RSG Geldsake, Finansiële Fokus, Rand en sent, Ons en die onderwys, Hoe verklaar jy dit?, Groeipyne en Kommentaar.

Vir musiekliefhebbers is daar ook ‘n noot vir elke oor. Van die immer gewilde U eie Keuse tot Musiek sonder grense, Tjil, Kapityt!, Country-klanke, Nic se goed, Dis Opera, Musiek en liriek, Musiekbonbons, Vastrap en SA Top-20 om maar net ’n paar te noem.

Kuns- en kultuurliefhebbers kan saam luister aan onder meer Die tale wat ons praat, RSG Kuns,Skrywers en boeke en Radioteater.

Programme waar luisteraarsinteraksie plaasvind, vind ook groot aanklank, Praat saam, Iets vir iets, Werksoek, Siele aan diens en Gelukwense aan bejaardes is ‘n paar van die programme waar luisteraars aktief tydens die uitsending kan deelneem.

Die verskeidenheid en variasie wat RSG aan hul luisteraars bied kan moeilik geëwenaar word. RSG is ook beslis suksesvol om lojale luisteraars te kweek, en te behou.

In ’n mark waar daar meer as 250 Suid-Afrikaanse radiostasies is om van te kies, kan RSG homself op die skouer klop met sy plek as sewende grootste radiostasie met 1,5 miljoen daaglikse luisteraars in Suid-Afrika.

Van die jong stemme op RSG

 

””

Renske Jacobs (Roelf Jacobs se dogter) is een van die jong stemme vandag op RSG.

””

Jody Hendricks vir RSG Sport.

””

Jean Esterhuizen vir Naweek Aktueel sowel as Monitor en Spektrum.

””

Arehan Brand bied Kompas en Kopkrap aan – programme vir jongmense oor loopbaanmoontlikhede en nuttige leerhulp.

””

Lynette Francis tydens haar interaktiewe Praat Saam-gesprek.

””

Martelize Brink bied Oggend op RSG aan saam met Johan Rademan.

””

Heindrich Wyngaard bied Kommentaar aan op Sondae en is deel van die Monitor-span.

””

Esté Gross, vryskutomroeper en insetselvervaardiger by RSG.

””

Suzanne Paxton bied Spektrum aan.

””

Tjailatyd se Amore Bekker saam met haar ateljeegas, Richard van der Westhuizen.

””

Sue Pyler, Etienne Ludick en Fritz Klaaste – deel van die Middag op RSG-span.

””

Johan Rademan is 'n stem op Oggend op RSG. Hier gesels hy met Pieter-Dirk Uys.

Hanri Wondergem doen ‘n onderhoud vir RSG se Monitor en Spektrum met Danie Langner van die FAK.

En gee jou oor aan die nostalgie …

Wanneer jy as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner grootword, is sekere dinge vanselfsprekend. Jy het waarskynlik êrens in jou voorgeslagte ’n Potgieter of ’n Steyn. Jy het ook waarskynlik jou skoolvakansies op Margate, Hartenbos of in die Krugerwildtuin deurgebring. Die kanse is ook baie goed dat jy, saam met jou moedersmelk, ’n stewige dosis Afrikaanse radio ingekry het (Jou ouderdom bepaal of dit Radio Suid-Afrika, Afrikaans Stereo, Radio Sonder Grense of ’n kombinasie van die drie is).

Vir baie Afrikaanssprekendes is hul radioherinneringe sterk gepeper met nostalgie. Gielie Hoffmann (33), een van Afrikaans.com se ambassadeurs, vertel dat RSG as klankbaan vir sy kleintydherinneringe dien. Hy onthou hoe hulle as kinders na Siembamba en Jongspan geluister het, sy ma na Vrouerubriek, sy oupa en pa Saterdae na Boeremusiek en ook hoe die radio in sy oumagrootjie se latere jare haar enigste verbintenis met die wêreld geword het. “Radio het vir ons die nuus gebring. Weerverslae. So het ek die landkaart leer ken. Cradock, Eshowe. Kakamas, Messina … Mooi name wat ek eers later in lewende lywe sou sien. Vandag skakel ek in en hoor nuwe stemme en nuwe idees, maar ek doen dit omdat ek daardie ou stemme nog in my kop hoor. Iets wat televisie nie kan regkry nie,” vertel Gielie met heimwee.

Luister gerus na nog herinneringe van ander Afrikaans.com-ambassadeurs:

Mark Johannes (47)

Driekie Grobler (59)

Anzil Kulsen (40)

Koos Marais (62)

Hoe lyk die toekoms van Afrikaanse radio, meer spesifiek die Afrikaanse taal op radio?

Hoewel tegnologiese vooruitgang groot veranderinge in tradisionele media veroorsaak het, veral in die gedrukte media, blyk dit of hierdie veranderinge radio nie tot so groot mate beïnvloed het nie. Volgens die Uitsaairaad van Suid-Afrika is radio steeds die media-medium wat die meeste deur Suid-Afrikaners verbruik word. Ongeveer 38 miljoen mense luister daagliks radio. Die voordeel van radio is immers dat jy dit op enige plek, op enige wyse kan doen.
Magdaleen beklemtoon die belangrikheid van verandering, groei en aanpasbaarheid wanneer dit by die toekoms van RSG en veral hul taalgebruik kom.

“Taal op RSG mag nie stagneer nie, dit moet aanpas, dit moet die pas aangee, dit moet verskeidenheid reflekteer en dit moet aanklank vind by die verskeidenheid.” Magdaleen sê dat baie ouer luisteraars en oud-omroepers dikwels erg krities is oor hoe Afrikaans in die moderne tye gebruik word en dat hulle dit as verkeerd beskou. Haar mening is egter dat dit nie verkeerd is nie. “Afrikaans is ’n huis met baie wonings en die Nasionale Afrikaanse Openbare Uitsaaier het ’n verpligting om in al hierdie wonings aan te doen. Afrikaans op RSG is ’n kommunikasietaal om inligting oor te dra, te vermaak en te bemagtig. Op ’n warm, verdraagsame manier,” beklemtoon sy.

En of jy nou hou van die veranderinge wat oor die laaste 80 jaar plaasgevind het, en of jy nou met heimwee terugverlang na die radio van jou kinderdae, een ding is seker: Afrikaanse radio het vir die meeste Afrikaanssprekendes ʼn onmisbare klankbaan vir hul lewe geword. Baie geluk RSG, ons klink ʼn glasie op die volgende 80!

Luister weer ...

Wanneer ’n mens terug kyk na 80 jaar van Afrikaanse radio kan ’n mens nie anders as om aan die lirieke van Laurika Rauch se Die nostalgie te dink nie ...
Kom sit styf hier teen my,
jou kop agteroor.
Hoor jy hoe sag val die reën?
Nog ’n dag is verby,
nog ’n week, nog ’n maand.
Waar loop die tyd met ons heen
?

Verlekker jou saam in die radio van toeka en luister gerus na van die potgooie wat heruitgesaai is om RSG se 80ste verjaarsdag te vier. Lag saam met Leon Schuster se stuitige uitvangprogram Vrypostige mikrofoon of dink met heimwee terug na jou kinderdae, of die dae toe jou kinders nog kinders was met Siembamba en Wiegwoorde. Jy kan ook na die avonture van Suid-Afrika se gunstelingheld, Staal Burger luister of jouself verlekker deur na RSG 80 jaar Swier en Sukses te luister.

*Besoek gerus www.rsg.co.za om potgooie af te laai van heruitsendings van programme wat die afgelope 80 jaar uitgesaai is.
* Bestel RSG-programme op CD hier.
 

Petronell Vorster het in 2015 haar Honneurs in Joernalistiek aan die NWU Vaaldriehoekkampus voltooi. Sy werk tans as vryskutskrywer.