Karaoke-kampioen sing volgende jaar Afrikaans

26 Januarie 2018
””

Sy staan op 'n wêreldverhoog, die skare juig en jil en roep haar naam. Die ligte is op haar en dan sing sy ... met oorgawe!

Denice Marais, Suid-Afrika se karaoke-kampioen is 'n plaaskind van Heidelberg met 'n droom van juffrou word, maar wanneer sy op daardie verhoog staan, betower sy die gehoor. In haar hart sing sy vir miljoene ... en dit, sê sy, is waarom sy wen ... tesame met "'n bietjie talent", natuurlik!

Sy sing Celine Dion en Adele, maar haar hart klop Juanita du Plessis. Dit is Juanita se liedjies wat sy sing by begrafnisse, troues en in die kerk. Dit is die liedjies waarvoor haar gemeenskap haar ken, want sien, daar is nie regtig karaoke op Heidelberg nie en boonop was daar nie ruimte vir haar moedertaal verlede jaar in die kompetisie nie. Maar dit alles gaan nou verander!

David September, hooforganiseerder van die World Karaoke Championship (KWC) in Suid-Afrika sê Denice se prestasie in Helsinki, Finland waar sy deurgedring het tot die wêreldfinaal en 15de geëindig het, was nie net vir haar die begin van 'n nuwe hoofstuk in haar lewe nie. "Ons het besef daar is baie groter moontlikhede met die kompetisie. Nie net kan ons die landswye kompetisie vanjaar uitbrei na die junior afdelings nie (2 tot 12 en 12 tot 17 jaar) nie, ons kan alle tale insluit.

"Ons is veral opgewonde oor Afrikaans. So baie deelnemers is Afrikaans en wil in Afrikaans sing. Die lekkerte van die nuwe, groter kompetisie is dat deelnemers nie meer beperk is tot die Engelse kunstenaars se musiek nie. Hulle kan self skep of ons kan bestaande liedjies omskakel in karaoke-treffers." Hy sê die belangrikste elemente wat van jou 'n goeie karaoke-kunstenaar maak, is jou verhoogpersoonlikheid, jou uitspraak en jou interpretasie van 'n liedjie. "Veral die twee laaste, is mos baie makliker, meer natuurlik en outentiek in jou eie taal!" David sê mense is onder die indruk dat karaoke net in kroeë of kuierplekke beoefen word. "Die nuwe formaat en geleenthede ook vir jonger kunstenaars maak dit meer toeganklik en ons sien uit na groot gemeenskapskonserte en optredes wat hieruit sal voortvloei." Hy sê die droom is om die kompetisie te neem na elke uithoek van Suid-Afrika. "Ons sien die behoefte van mindergegoede mense wat ook geleenthede soek om hul drome waar te maak. Ons grootste uitdaging bly befondsing sodat ons wyd en syd kan reis en al die plattelandse dorpe ook kan bereik." KWC 2018-inskrywings is nou oop en hy moedig elkeen aan om in te skryf. Hoe meer inskrywings ontvang word uit jou omgewing hoe groter is die kans dat die kompetisie in jou dorp aangebied kan word. "Dit is soms moeilik vir mense om vêr te reis om aan so 'n kompetisie deel te neem en ons hoop dit groei en ontwikkel sodat ons soveel moontlik mense 'n kans kan gee." Skryf hier in.

 

Oor Denice: "Sy is 'n uitsonderlik talentvolle kunstenaar met haar hart en siel in haar musiek. Karaoke gee vir talentvolle mense 'n platform waar hul blootstelling kry aan gehore, hul verhoogpersoonlikheid kan ontwikkel en waar hul selfvertroue net kan toeneem."

Denice se droom om 'n laerskoolonderwyseres te word, bly en sy is nou 'n tree of twee nader. Sy is gevra om betrokke te raak by die organisasie van Suid-Afrika se World Karaoke Championship en sy is ook hul beskermvrou. Sy tree op by skole, gemeenskapsbyeenkomste, hospitale en kerke en sy kan spaar vir haar opleiding. "Daar is geen rede om nie albei drome waar te maak nie", sê sy.

Sy is Sondagaand, 28 Januarie om 18:00 op Kwêla (KykNET, DStv-kanaal 144) te sien, wanneer sy haar storie vertel. Moet dit nie misloop nie. Die 23-jarige Denice Marais is bedoel vir groot dinge ... sy is 'n inspirasie. Of dit nou op die wêreldverhoog is, of wanneer haar volgende droom waar word ... voor 'n klas vol kinders.

Luister hier ...