Vaselinetjie se Afrikaans

30 Augustus 2017

Vaselinetjie is ’n storie oor die definiëring van die betekenis en oorsprong van ’n mens se identiteit en ras in die warboel van post-Apartheid Suid-Afrika. Dit handel oor ’n wit meisie wat deur bruin mense grootgemaak is ... 'n trots Afrikaanse produksie en is die verhaal van 'n kind se soeke na 'n eie identiteit in 'n veelrassige Suid-Afrika en binne 'n gemengde gesin.

Wenner - Silwerskermfees 2017

Die boek is geskryf deur Anoeschka von Meck en filmmakers René en Corné van Rooyen het die storie verwerk en in ’n aangrypende rolprent omskep. Vaselinetjie is bekroon met die (Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa en die MER-prys vir jeuglektuur).

In die laaste paar jaar was daar 'n waarneembare opbloei van Afrikaanse rolprente wat 'n opwindende deel vorm van die algehele Suid-Afrikaanse rolprentbedryf wat lyk of dit besig is om uit sy kreatiewe nate te bars! Hoewel baie van die Afrikaanse rolprente verstrooiingsvermaak is, word daar nou ook duidelik ander, ernstiger genres aangepak en skroom regisseurs nie om kwelvrae in Afrikaans aan te pak nie. Vaselinetjie is een so storie!

Kyk wat sê Anoeschka oor hierdie groot eer ...

Anoeschka vertel self - Vaselinetjie se Afrikaans 

Die Afrikaans wat in die dialoog gebruik word (selfs die kragwoorde), is baie noukeurig nagevors met die doel om eg Suid-Afrikaans te wees in die mengelmoes-Afrikaans wat deur kinders van verskillende kulture wat saam in 'n kinderhuis grootword, gepraat word.

 Ek het aan my eie skrywersbas ervaar wat die verskil is om 'n storie of iemand se dialoog met gevoel te probeer oordra van Afrikaans na Engels. Die Afrikaans in die boek Vaselinetjie is so eg moontlik - ek het letterlik met afluister-ore op die kinderhuis se speelgrond diens gedoen en sodra ek kon, neergeskryf wat ek gehoor het. Die feit dat ek toe pas uit die buiteland gekom het, het my hoorvermoë vir spesifieke vermengings van Afrikaans en veral vloekwoorde, verskerp. Hoe hierdie kinders in die laat 1990’s Afrikaans gepraat en kragwoorde gebruik het, het duidelik die klimaat weerspieël waarin hulle besig was om 'op te groot' en omdat hulle uit verskillende streke en kultuurgroepe bymekaar was, was die Afrikaans vir my iets uitsonderlik om na te luister. Met die vertaling van die boek van Afrikaans na Engels het ek en my vertaler ons totaal vasgeloop teen die versteekte nuanses van Afrikaans – iets waarvan ek toe eintlik onbewus was totdat ons die Engelse eweknie vir sekere Afrikaanse uitdrukkings en kragwoorde wat die kinders gebruik het, probeer vind het. Hier het ek een van my grootste ontdekkings oor Afrikaans gemaak: wanneer iemand in Afrikaans vloek, maak nie saak hoe kwaad nie, is daar steeds 'n tipe 'humor' daarin vervat. Afrikaans blyk 'n ingeboude 'buffer' teen gemeenheid en werklike kruheid te hê al is die woord wat gesê word, hoe kru. Met Engels is dit beslis nie so nie. Hoe vertaal jy iets soos 'Jou nageboorte!' wat een kind 'n ander een toesnou?

Om Vaselinetjie se verhaal in 'n Afrikaanse rolprent te sien en hoor gestalte kry, was 'n onvergeetlike belewenis op soveel vlakke. Maar een ding is duidelik aan die hele produksiespan oorgedra: sekere dinge, sekere gevoelens wat 'n mengsel van goed en sleg en nog iets is, kan net in Afrikaans klank vind.

Afrikaans, myns insiens, bevat 'n dimensie wat nie net die prentjie is wat hier voor jou oog vorm nie. Afrikaans is soos om oor 'n vlakte uit te kyk en sommige dinge is naby, maar doer ver gly 'n muisvalk en sy skaduwee langs 'n rooi duin verby en al kan jy die klank nie op daai distansie hoor nie, VOEL jy die totale impak daarvan.

Agter die skerms ...

Anoeschka von Meck – die foto is geneem net buite Bulletrap (Noord-Kaap)nadat die laaste toneel van Vaselinetjie geskiet is.

 

Fianka Barnard in die straat in Nababeep vir die toneel waar Vaselinetjie vir die eerste keer huis toe kom en Oupa en Ouma haar by die bus ontmoet. 'n Roerende toneel wat die ouers van 'Klein Vaselinetjie' (Nicole Bond) in trane gehad het toe hulle dit op die monitor vir die eerste keer sien!

Nie 'n reuse, Namakwalandse sampioen nie. Nie 'n kameraman se kussing nie. Dít is die 'maag' van die swanger tiener wat in die veld alleen aan haar baba (Vaselinetjie) geboorte skenk!

Waar die rolprentspan ook al gaan, kom die mense op die strate uit om hul te verwelkom. Hier is Nababeep se kinders (krullers in die kop en al!) saam met aktrise, Marguerite van Eeden.

‘Breins’ sonder ego, vervaardiger Danie Bester, wat soos 'n 'gentle giant' altyd iewers in die agtergrond met sy skootrekenaar besig was.

””

Anoeschka von Meck saam met Leon Nierop by die Silwerskermfees 2017.

Ilse Salzwedel het vir Anoeschka ons Proust-vraelys gestuur. Hier is haar antwoorde. Die eerste vier vrae is spesiaal bygesit vir Afrikaans.com:

 

Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord/e?
Mooi. Leeu. Klapperys. Leeubekkie (blom). Kruidjie-roer-my-nie. Moddersliert (die gedierte in die plaasdamme). Blatjang. Ietermagog. Welgeluksalig. Ook 'n hele reeks baie kreatiewe kragwoorde wat net in Afrikaans snaaks is.

Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?
Seker al Boerneef se gedigte? Iets soos “Rooibekkies innie mieliesaad hoe loop mens tussen goed en kwaad ...” Ek is besig om myself nou eers in Afrikaanse letterkunde op te voed. Dit gaan 'n lewe vat want daar is net soveel uitmuntende werk!

Jou absolute gunsteling Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
Abdoltjie deur Alba Bouwer vir sentimentele redes. My tannie Mieta Nel het dit so meelewend vir ons gelees dat ek dit nou nog in my kop kan hoor-sien. Ek besit 'n kopie waar sy met 'n rooi pen vir my 'n brief binne-in die boek geskryf het.

Die eerste boek wat jy ooit op jou eie gelees het?
'n Kinderboek oor die Noord-Amerikaanse Indiaan, Sitting Bull. Nogal in Engels, ja! (En ek het eers in st.8 behoorlik leer Engels praat.) Geen mens kan dit verklaar nie.

Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om Jesus te ken soos Hy regtig is. En ek bedoel dit nie godsdienstig nie. Ek bedoel dit persoonlik, as 'n interdimensionele deursnit van buite liniêre tyd (waar Hy alomteenwoordig is) tot in my eie gewone lewe. Nou. Nie eendag as ek hierdie vleispak los nie.

Jou grootste vrees?
Ek dink nie dit is wys om dit uit te spreek nie. Ek vat die na die Vader.

Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
'n Geneigdheid om wroegend te wees. En dat ek nie in die lewe 'glo' soos meeste ander mense nie.

Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
My ma. Sy is vreesloos en het diere, insekte, plante en vreemdelinge opreg lief. Sy weier dat iemand iets dood maak. Sy sal 'n kakkerlak vang en soen voordat sy hom buite vrylaat. En Thuli Madonsela. Ek lief daai formidabele dame! Ek wil graag vir haar werk of selfs haar vriendin wees.

Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek sal nie skroom om 'n fortuin uit te haal om voer, kos, medisyne en skryfmateriaal aan te ry na vér afgeleë plekke waar die mense nie maklik by winkels kan uitkom nie en selde besoekers kry.

Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Enige Engelse plaasvervangers wat nou algemene spreektaal geword het. Ek werk sedert verlede jaar hard daaraan om werklik suiwer Afrikaans te praat.

By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Absoluut nie 'n opsie nie. Leuens maak my baie ongemaklik. My eie en dié van ander mense. Ek sukkel al klaar met gewone 'realiteit' en dan skep iemand nog 'n laag valsheid wat my heeltemal verbouereerd maak.

Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Die Beminde natuurlik! Hoe dan anders?

Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Ek is dikwels kinderlik gelukkig, maar 'n herhalende saligheid is wanneer ek saam met my familie om die vuur sit Kersfeestyd as ons teen die Weskus kamp. Maak nie saak na watter gesig ek kyk nie, elkeen is met my in liefde verbind.

Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Om te kan sing en 'n seilbranderplank te kan ry.

As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Hoe ek oor die lewe en myself dink. Om meer 'hier' te wees en minder in my kop te lewe!

Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Ek bid dit kom nog.

Wat is jou kosbaarste besitting?
Ek het 'n liefie-kussing wat ek oral saamdra. My oom Gommie Prinsloo noem haar die Wit Godin.

Waar wil jy die graagste woon?
Iewers met 'n suiwer onuitputlike watertafel en uitsig oor die vlaktes waar ek en my man ons eie huis kan bou.

Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Elke keer wanneer ek my geloof verloor en Yeshua verkeerd verstaan of gefrustreerd raak dat ek nog nie 'n deurbraak het om Hom persoonlik te ken nie.

Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Gierigheid. Om net al hoe meer dinge te wil besit. En die tegnologie wat dit ondersteun.

Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek vermoed ek kom heel toeganklik en vriendelik voor, maar eintlik voel ek dikwels soos 'n byna deursigtige swewende wese wat eers bewustelik gestalte in my eie lyf moet aanneem voor ek interaksie met iemand anders kan hê. Daarom hou ek van bid, soen en seks. Elkeen is 'n 'vlak' van intens 'hier' wees.

Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Ek lief boere, ja! Maar ekself sal graag 'n bouer wil wees. Ek sou nuwe tipe huise wat volhoubaar is wou ontwerp en bou.

Wie is jou gunstelingskrywers?
Basies enige van die ouer Afrikaanse skrywers noudat ek meer verstaan van wat dit van hulle gevat het om in Afrikaans te skryf. Tans is ek behep met Boerneef. Hedendaags meen ek nog altyd dat Nataniel die skryfstyl het wat presies doen wat ek graag sou wou doen: om die alledaagse te vertel op so 'n manier dat mens besef wat 'n aardige skepsel die mens werklik is.

En jou fiksieheld/in?
My wat?

En jou helde in die regte lewe?
Mense wat diere red en beskerm! Maar beslis ook die egpaar van Ravensmead, Rodney en Maria Lakay, wat albei hul bene in 'n fratsongeluk by 'n motorwedren in Knysna verloor het. Hulle ken my nie, maar ek was een van die joernaliste wat oor hulle geskryf het en buite in die hospitaalparkeerterrein vir nuus oor hulle sit en wag het. Baie keer in my lewe as dinge rof raak en ek is angstig dan dink ek aan die Lakays. Hoe ongelooflik braaf, sterk en vol moed hulle hul situasie hanteer het. Die Lakays is eenvoudig verstommende individue en het 'n magtige impak op my lewe. Hulle het my oë opnuut oopgemaak vir hoeveel 'helde' daar in ons 'gewone' samelewing is. Suid-Afrika is vol merkwaardige mense.

Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste? (En hoekom?)
Die vroue van die Voortrekkers vir hul onverskrokke deursettingsvermoë wat ek intens admireer.

Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Integriteit. Vreesloosheid. Dit kom vanself as hy in tweelingskap met Yeshua lewe. Hy deel immers Sy DNA met dié wat vra, glo en ontvang.

En in ʼn vrou?
Dieselfde. Iemand wat voluit teenwoordig in haar eie lewe en lyf is.

Waaroor is jy die spytste?
Dat ek nie st. 8 klaargemaak het of 'n outydse ordentlike Suid-Afrikaanse matriek het nie. Al die tyd wat ek al gemors het deur bang te wees. Al die smart wat ek myself al aangedoen het deur agter vet weg te kruip.

Wat is jou leuse?
Soek die Deur. Ek het dit oral in my klaskamer geskryf toe ek vir 'n wyle skool gegee het, want ek het geweet die kinders gaan weinig iets onthou wat ek hulle probeer leer, maar iets vreemd sal hulle bybly. Daar is niks meer belangrik in die lewe as om Die Deur te vind nie. As jy Hom vind, het jy alles.

Vaselinetjie , die storie ...

Vaselinetjie vertel die verhaal van Helena ‘Vaselinetjie’ Bosman, ’n wit dogtertjie, wat deur haar liefdevolle bruin grootouers op ’n afgeleë plattelandse dorpie in die Noord-Kaap in Suid-Afrika grootgemaak word.

Wanneer die welsyn egter uitvind dat Vaselinetjie nie die egpaar se biologiese kleinkind is nie, gryp hulle in en besluit om haar na ’n staatsweeshuis in die verre Johannesburg te stuur.

Die lewe in Johannesburg weerspieël hoegenaamd nie haar vorige bestaan nie en is in skrille kontras daarmee. Vir die eerste keer word Vaselinetjie gekonfronteer met die lewe se wrede werklikhede, asook ongeliefde kinders, die rook van sigaretstompies, om vriende te maak en om in te pas. In ’n wêreld waar niemand vir mekaar omgee nie, leer sy ook om nie om te gee nie.

Dit is eers wanneer sy verlief raak op die rebelse weeshuisseun, Texan Kirby, dat sy geforseer word om die ware werklikheid van haar ingewikkelde verlede te konfronteer.

Die film word op 22 September vrygestel.

Kyk die lokprent hier.

Op pad met Afrikaans ... Anoeschka se reis met Afrikaans

As Afrikaans se boesemvriendin, het Anoeschka aangedoen in verskillende streke van ons land ... daar waar Afrikaans en die mense wat die taal praat, hul storie kon deel. Klik hier om jou te verkneukel in die unieke stories van ons land en sy mense.