Hou die liefdespot aan die prut!

12 Februarie 2018

Met Cupido se pyltjies wat wild en wakker rondvlieg, veral gedurende die maand van die liefde, is die groot uitdaging altyd om seker te maak dat jy iets spesiaals doen wanneer jy iemand se hart wil wen. ʼn Piekniek bly altyd ʼn goeie idee, skryf Alita Steenkamp.

Alhoewel Valentynsdag deur geliefdes gekaap word, kan jy natuurlik buiten jou eggenoot, verloofde, kêrel of meisie, enigiemand wat vir jou spesiaal is, saamnooi: jou kinders, jou ouers, ʼn eensame vriendin of vriend… Dit maak nie regtig saak nie. Piekniektyd gaan oor kwaliteittyd, want jy kuier heerlik in die buitelug, geniet die samesyn van spesiale mense en die kos en drinkgoed plaas die kersie op die koek. Al is Valentynsdag verby, maak dit nie regtig saak nie. Elke dag saam met jou geliefde is mos spesiaal!


Gielie Hoffmann

Foto: Fotograaf Gielie Hoffmann

Dinge kan skeefloop ...

Soms kan dinge met ʼn beplande Valentynspiekniek egter lelik skeefloop, vertel Gielie Hoffmann, ʼn ambassadeur vir Afrikaans. Vandag kan Gielie maar net lag oor die keer toe al sy planne vir ʼn romantiese Valentynspiekniek behoorlik skipbreuk gely het.

"Dinge het al skeef begin loop op die 13de Februarie toe ek my kar ingevat het vir ʼn diens. Die werktuigkundige het my verseker dat ek my kar teen die middag sal kry. Die middag het dit egter nie gebeur nie en hulle het my laat weet hulle wag nog vir ʼn onderdeel. Ek was nog heel vriendelik en het gesê dis geen probleem nie, maar ek sal die kar beslis die volgende dag nodig hê. My ryding waarmee ek oor die weg moes kom terwyl my kar gediens word, was ʼn ou plaasbakkie. Die bakkie was ʼn regte werkesel met die nodige stampe en stote en beslis nie die voertuig om ʼn meisie op ʼn romantiese afspraak uit te neem nie.

"Die volgende middag teen toemaaktyd was my kar steeds nie gereed nie, en ek het besef ek sou maar die ou bakkie as wiele moes gebruik. Vroeër daardie dag het ek gegaan en op ʼn baie mooi plek op ons plaas, alles gereed gekry vir die piekniek. Daar was selfs ʼn sagte donskombers om op te sit. Ek het ook baie moeite gedoen met lekker happies om te eet.

"Die meisie het gegiggel toe ek met Ou Werkesel by haar woonplek stop, maar gelukkig was sy ʼn gawe mens en dit was nie regtig ʼn probleem nie. Terwyl ons ry, het dit begin drup en ons het maar net vir mekaar gekyk. "Toemaar wat, op die plaas sal dit nie reën nie," het ek haar gerusgestel en by die plek wat ek mooi gemaak het en waar die piekniek gewag het, stilgehou. Ons het net gaan sit en begin eet, toe die reën meteens lostrek soos wat net ʼn tipiese Transvaalse donderstorm kan doen. Die een oomblik is daar nog niks nie, en die volgende oomblik kom die reën in emmers water neer. Ons het rondgeskarrel om alles so gou as moontlik agter op die bak te gooi, maar teen die tyd wat ons alles bymekaar gehad het, was ons sopnat. Die kos agter op, was vir alle praktiese doeleindes, oneetbaar en niks werd nie.

"Teen daardie tyd was al die ander eetplekke waarheen sy wou gaan, al vol gewees. Dit is immers Valentynsaand. Ons het boonop glad nie gelyk soos mense wat in ʼn eetplek kan instap nie. Ons enigste opsie was om by ʼn KFC stil te hou en iets te koop om te eet. Van daar af het ek maar na haar woonplek gery en haar gaan aflaai. Sopnat, met net KFC vir aandete en geen romantiese kerslig nie, het alles maar taamlik rampspoedig geëindig.

"Nie lank daarna nie het ek en sy uitgemaak. Ek hoop nie my enigste poging tot ʼn romantiese piekniek het die verhouding gekelder nie, maar die kanse is seker maar daar dat dit wel het. So ja, ʼn kar wat nie klaar gediens was nie, ʼn onverwagse reënbui, KFC as ʼn romantiese ete… alles het verkeerd geloop. Miskien sal ek eendag moet probeer om op hierdie rekord te verbeter."

Dalk het jy al iewers ʼn bloutjie geloop, nes Gielie. Moenie dat dit jou stuit om die kans te waag vir ʼn heerlike piekniek nie. Jy gaan beslis iemand uitboul wanneer jy die heerlike geregte, ontwikkel deur twee ambassadeurs vir Afrikaans, vir jou piekniekmandjie gereed kry.

 


Heleen Meyer

Lensie-en-eiervrugslaai is ideaal vir ʼn piekniek

Heleen Meyer, ʼn gekwalifiseerde huishoudkundige, is ook die skrywer van gewilde resepteboeke soos Onthoukos, Kos is op die Tafel en Maak Vyf. Op ʼn Maandagoggend is sy ʼn gereelde gesig op kykNET DStv se Groot Ontbyt-program waar sy maklike, bekostigbare en gesonde kosblik-idees vir die hele gesin deel.

Heleen sê al het sy nie regtig erg aan die bohaai wat oor Valentynsdag gemaak word nie, bly dit vir haar lekker om haar geliefdes, enige tyd van die jaar, met ʼn spesiale ete te bederf.

"Dis vir my ʼn manier om liefde en respek te betoon en ʼn manier om wonderlike samesyn tussen mense te skep," sê sy. Heleen se keuse vir die piekniekmandjie is ʼn lekker Lensie-en-eiervrugslaai en heerlike Sjokolade-brownies as ʼn soet bederf. "Die twee resepte kan vooraf berei word en is ewe maklik om in te pak. Dis met algemene en bekende bestanddele gemaak, maar die kombinasie van geure en teksture in die slaai is altyd ʼn verrassing. Die brownies is net een van daardie resepte wat jy beslis in jou arsenaal van geliefde en beproefde resepte móét hê."

 


Annelien Pienaar

Wat is ʼn maaltyd sonder iets soets daarby?

Annelien Pienaar, ook ʼn trotse ambassadeur vir Afrikaans, se eerste resepteboek, Boerekos met ʼn Twist het verlede jaar verskyn. Annelien is ook ʼn gereelde medewerker op die Groot Ontbyt. As ma van drie Filistyne, soos sy hulle noem, weet sy behoorlik hoe om die kosblikke vol te hou.

Heerlike hoendersosaties

Annelien sê eintlik moes daar in elke week ʼn Valentynsdag gewees het. Sy hou daarvan om haar mense met ʼn spesiale ete te bederf, en doen dit elke liewe naweek. "By my sal jy altyd sjokolade as nagereg kry. Ek kies juis ʼn heerlike Toweragtige sjokoladetert vir die piekniek. Wanneer ek dink aan piekniek, sien ek in my oë ons plaasdam se wal, of onder by die rivier op die plaas. Die kersies se rooi in die nagereg maak mooi en wys die volheid van liefde. Die glans nooi jou uit om te geniet wat nóú in jou bord is. Vir my lê die lekker van saamkuier om ʼn tafel of op ʼn piekniekkombers, in die samesyn. Dit maak die gesinsbande net sterker en ons kinders leer wat liefde is. Daarom deel hulle altyd saam met ons in die vreugde van Valentynsdag."

 

Kersies
 

Maak dit spesiaal

  • Vonkelwyn gee altyd ekstra sprankel aan enige geleentheid. Daar is ook nie-alkoholiese vonkelwyn beskikbaar wat net soos die ware Jakob proe.
  • Nuttige items om te onthou, is: sonskerm, insekweerder, ʼn skerp mes, ʼn snybord, glase en borde.
  • Sny ʼn paar rooi harte van papier of plaas sjokoladehartjies in die mandjie tussen die ander eetgoed om ʼn romantiese atmosfeer te skep.
  • Klein dingetjies, soos mooi servette of ʼn rooi lintjie wat om die wynglas se steel gebind is, maak dit meer spesiaal.
  • Skakel af die fone en pak dit weg. Fokus op die geselskap en die heerlike kos en wyn.
  • Indien die weer dit nie toelaat nie, kan ʼn piekniek op ʼn kombers in die voorkamer net so goed werk. Skep die regte atmosfeer met ʼn paar kerse.
  • Sit terug en geniet die heerlike kos en jou maat of vriendin of kind se geselskap. Moenie altyd vir Valentynsdag wag om ʼn spesiale geleentheid te geniet nie.

Toweragtige sjokoladetert

Bestanddele - Tert
4 groot eiers, geskei
200 g witsuiker
1 E kraanwater
125 g botter (moet botter wees, gesout is reg)
70 g koekmeel, gesif
40 g kakao, gesif
knippie sout
400 ml volroommelk
100 ml room
¼ t kremetart vir styf klits van eierwitte

 

Metode

  1. Voorverhit oond na 150 ℃. Smeer ʼn ronde koekpan met koekpansmeer en plaas eenkant. Kry ʼn oondpan waarin die koekpan gemaklik sal pas. Panafmetings is 22 cm. 'n 25 cm-pan sal ook reg wees.
  2. Smelt botter en laat afkoel. Verhit melk en room tot liggaamstemperatuur en laat afkoel.
  3. Klits eiergele, suiker en water saam vir 3 minute en klits die botter in ʼn dun straaltjie by.
  4. Sif die koekmeel, kakao en sout saam en meng goed met die eiermengsel en voeg die melk by en vou in.
  5. Klits die eierwit met kremetart tot stywe punt-stadium, vou in beslag in. Die beslag is nou baie loperig en die eierwitte is half skuimend bo-op en wil nie mooi inmeng nie, asof dit weer opstyg na bo. Moet egter nie te veel meng nie. As die streperigheid verdwyn, giet dan in gesmeerde pan.
  6. Maak die pan tot 5 mm van bo af vol. Dit kook nie oor nie en sal net soos ʼn soufflé na bo rys en weer afsak wanneer dit afkoel.
  7. Giet beslag in 22 cm ronde koekpan. Kook ʼn ketel met water en giet die kokende water in die oondpan. Plaas die koekpan met beslag in die oondpan en bak dan vir 50-60 minute by 150 ℃.
  8. Sodra die koek gaar is, verwyder uit die waterbad en laat goed afkoel by kamertemperatuur.
  9. Plaas dan oornag in koekpan in die yskas om ferm te word en te set. Keer die volgende oggend uit en giet die sjokolade-ganache oor die koue koek. Plaas weer in yskas en bedien koud.

Bestanddele - Ganache

½ k witsuiker
½ k kakao, gesif
¼ k water
½ k botter, gesout
½ k goue stroop
1½ k sjokoladesplinters (goeie kwaliteit sjokolade)
½ k room

Metode

  1. Plaas die suiker, kakao, water, botter en gouestroop in ʼn kastrol en verhit sodat die suiker smelt. Sodra die suiker gesmelt het, kook vir 2 minute en verwyder van hitte.
  2. Voeg die sjokoladesplinters en room by die warm mengsel en moenie roer nie, draai die kastrol in die rondte. Die sjokolade sal baie vinnig smelt as dit ʼn goeie gehalte sjokolade, soos bv. Lindt 70-90% is.
  3. Klits dan met ballonklitser deeglik deur. Laat die mengsel goed afkoel en plaas dan verder in yskas vir 30 minute voordat dit op die koek gesmeer word.
  4. Plaas verkoelde koek op ʼn mooi koekbord. Smeer die ganache met ʼn slaplem-mes oor die koek.
  5. Plaas in yskas tot bediening. Versier met vars bessies, soos framboos (raspberries) of kersies!
  6. Die oorblywende sous kan gehou word vir iets soos plaatkoekies of wafels, ʼn malvalekkerbraai, ens. Raklewe - 8 weke in die yskas.

Hoender Satay

Hoendersosaties met 'n sousie by, is een van my gunstelinghappies om in die Filistyne se kosblikke te pak. In die Boerekos met ʼn Twist-kookboek is daar Ouma Hantie se Knoffelroomsous en op die webtuiste die Pindakaassous. Marineer die hoender in ʼn eenvoudige jogurt-en-olyfolie-sous en die hoender is heerlik sappig. Daar kan ook stukkies groente tussen die vleis ingeryg word indien jy verkies om so ʼn "chargrilled" smaak in die sosaties te kry.

Bestanddele
6 groot hoenderborsies
6 lang sosatiestokkies vir 2 ure in yswater geweek
1 k gewone jogurt of appelkoosjogurt
¼ k olyfolie
¼ t matige kerriepoeier (sambal)
¼ t fyn knoffel
¼ t fyn gemmer
1 t fyn fenegriek (fenugreek by Natures Choice se rakprodukte)
Sout en peper na smaak
Bedien met Pindakaassous, beskikbaar op die webtuiste.

Metode

  1. Sny die borsie in 8 stukkies en ryg op stokkies. Moenie te styf ryg nie, want die marinade moet tussen die vleis kan ingaan.
  2. Meng die res van die bestanddele saam en giet oor die sosaties.
  3. Marineer in yskas vir twee ure of langer. Ek vries die vleis ook so en haal uit en gebruik soos nodig. Sousresep verdubbel baie goed.
  4. Braai die sosaties oor die kole of op ʼn riffelpan wat goed vooraf verhit is.

Lekkerste lensie-en-eiervrugslaai

Resep uit Maak vyf/ Make five
Lewer 4 - 6 porsies.

Bestanddele
15 ml (1 e) Westfalia knoffelgegeurde avokado-olie
30 ml (2 e) Westfalia gewone avokado-olie
1 groot eiervrug, in blokkies gesny
1 groot ui, gekap
15 ml (1 e) gekapte vars roosmaryn
15 ml (1 e) suurlemoensap
sout en peper
250 ml (1 k) rou bruinlensies, afgespoel
2 ekstra takkies roosmaryn
1 skyf fetakaas, in blokkies gesny
6 gemarineerde songedroogde tamaties, in repe geskeur
'n handvol vars roket- en basiliekruidblare.

Metode

  1. Verhit die twee olies oor matige hitte in 'n braaipan en soteer eiervrug, ui en roosmaryn bietjie vir bietjie tot goudbruin. Voeg meer olie by indien nodig. Skep eiervrugmengsel terug in die pan en roer die suurlemoensap by.
  2. Geur na smaak en sit die deksel op. Prut 5-10 minute of tot gaar. Skep uit en laat afkoel.
  3. Plaas die lensies met die roosmaryntakkies en 'n knippie sout in dieselfde pan. Giet 500 ml (2 k) water oor en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Stel die hitte laer en prut met die deksel op vir 30 minute of tot sag. Haal die roosmaryntakkies uit.
  4. Dreineer die lensies en spoel af met koue water om te keer dat dit verder gaar word.
  5. Meng die lensies met die eiervrug. Roer die res van die bestanddele by, geur na smaak en sit koud of teen kamertemperatuur voor.

Wenke

  1. As jy nie baie tyd het nie, kan die droë lensies met 2 x 410 g-blikke bruinlensies vervang word. Dreineer en voeg by die eiervrug met die res van die bestanddele in stap 5.
  2. Vervang die fetakaas met bokmelkkaas of sit voor met jogurt en kruisementblare.
  3. Wanneer granate in seisoen is, vervang die songedroogde tamaties daarmee. (http://heleenmeyer.co.za/2017/11/24/lekkerste-lensie-eiervrugslaai/)

Sjokolade-brownies

Lewer 8 - 10 porsies
Voorbereiding: 1 uur

Vir 'n piekniek kan dit in klein blokkies of driehoekies gesny word en sonder die sous voorgesit word.

Bestanddele
200 g (200 ml) botter
300 g (375 ml) suiker
100 g (180 ml) koekmeel
75 ml kakao
20 ml vanieljegeursel
3 ekstra-groot eiers, liggies geklits
100 g donkersjokolade, grof gekap
50-75 g haselneute, gekap

Sous
250 ml melk (of ingedampte melk of helfte melk en helfte room)
100 g donkersjokolade, in stukkies gebreek
30 ml botter
50 ml suiker
15 ml kakao
15 ml mielieblom

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer 'n oondbak of bakplaat van ongeveer 16 x 25 x 3 cm met botter. Die grootte van die bak is belangrik vir die regte baktyd en die beste resultaat.
  2. Smelt die botter en suiker oor lae tot matige hitte in 'n kastrol en roer deurentyd tot die suiker opgelos / gesmelt is. Verwyder die kastrol van die plaat. Sif die droë bestanddele saam en roer met die vanieljegeursel, in die kastrol, by die bottermengsel in. Meng deeglik.
  3. Roer die eiers bietjie vir bietjie by en roer deeglik na elke byvoeging. (As die mengsel te warm is en die eier laat stol, moet dit eers effens afkoel.)
  4. Roer die sjokolade en neute deur en skep die deeg in die gesmeerde bak.
  5. Bak 25-30 minute of net tot 'n tandestokkie/toetspen skoon uitkom. Toets op meer as een plek, ingeval jy dalk gesmelte sjokolade raaksteek, wat die stokkie nat laat lyk. Druk ook liggies in die middel op die poeding - as dit net gestol is, is dit gereed. Dit stol verder soos dit afkoel. Bak nog 5 minute indien nodig. Moenie te lank bak nie, anders word dit droog en hard.
  6. Sous: Berei intussen die sous, indien jy beplan om dit voor te sit. Plaas al die bestanddele, behalwe die kakao en mielieblom, in 'n klein kastrolletjie. Verhit oor lae hitte en roer gereeld tot die suiker en sjokolade gesmelt is.
  7. Bring die sous stadig tot kookpunt en prut 5 minute. Meng kakao en mielieblom met 'n bietjie water en roer by die sous. Roer deurentyd tot die sous verdik.
  8. Sny poeding in blokkies en sit warm of teen kamertemperatuur met die sous en roomys voor. (http://heleenmeyer.co.za/2017/05/12/sjokolade-brownies/)

Lees ook ...

Afrikaans.com - Nuttige Afrikaanse kosterme, liplekker-idiome en kosblogs.