TT Cloete – ons onthou ‘n briljante digter en fyn waarnemer

31 Julie 2017

Dis reeds dertig jaar gelede, in 1997, wat ek as honneurstudent die voorreg gehad het om by prof T.T. Cloete klas te kry. Hy het teen daardie tyd reeds moeisaam beweeg en ek en Willie Burger, deesdae professor in Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria, het sommer elke week na sy huis gegaan vir die lesings. Dan het ons drie om die eetkamertafel gesit en gesels oor Literêre teorieë en die skatte in die Afrikaanse- en wêreldletterkunde. Op 29 Julie was dit reeds twee jaar wat prof Cloete se stem stil geword het en tog staan hy en sy poësie rotsvas in die Afrikaanse letterkunde.

Prof Burger het na Cloete se dood gesê dat daar veral drie dinge is wat hom bybly van die honneursklasse aan die huis van prof Cloete, die huis daar reg oorkant die tennisbane.

“Die eerste was sy vermoë om lang dele uit die wêreldletterkunde aan te haal en te verwys na skrywers en boeke waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Sy indrukwekkende kennis van letterkunde – van die Egiptiese, Hebreeuse, Griekse en Latynse letterkunde, deur die Middeleeuse, die Renaissance, die Romantiek, tot die Moderne literatuur was eenvoudig verstommend.

“Die tweede aspek van daardie lesings in die rustige woonbuurt wat 'n blywende indruk gemaak het, was Cloete se vermoë om fyn te lees. Dit was soos 'n ontdekkingstog wanneer hy begin met 'n klank of met een woord se betekenis totdat hy uiteindelik op meesterlike wyse alles saamknoop en terugsit op sy stoel met die glinstering van die ontdekker van Monomotapa in sy oë.

“Die derde ding wat 'n blywende indruk gelaat het, was die verskyning, so halfpad deur elke lesing, van tannie Anna. Tannie Anna het dan vir ons in Royal Albert-koppies tee bedien saam met Turkstra Bakkery se "hoefies" (sulke lekker soet, bros koekies). Daarna het sy sommer in die klas bly sit en net soos ons aan professor Cloete se lippe gehang. En as hy so triomfantlik al harder praat wanneer sy analise 'n klimaks bereik, kyk sy na ons met 'n gesig wat van trots straal.”

Oor sy liefde vir sy vrou, Anna, is daar baie geskryf en van sy heel mooiste verse is die gedigte wat hy vir haar geskryf het soos die een:

Anna

In die ryping van ons jeug
het ons mekaar met die Prediker verheug.
En nou al meer en meer vel en been sonder
vleis is ons saamhoort ’n groeiende wonder.
Baie van die rypword het ek vandag
vergeet en ons smoorverlief se smoor
is lankal oor en baie van ons saamlag,
maar ek het nog fragmente daarvan oor
in my onthou. Ons het saam in ’n helder son
in a summer season, when soft was the sun
in Brugge geloop. Ek onthou die carillon,
Gezelle se huis, gragte met swane
en Villon en Carcassonne
en ’n mooi skildery van ’n courtisane
in die Louvre, maar van alle onthou
van my en van jou onthou ek jou
helder langs my, in profiel langs my
oral uit die wit lig van my land gesny.
Daar is jy in ’n fyn helder omtrek
dit in die helderste helder hou ek
teenaan my.
Ek herken jou voetstap in ’n besige straat
in ons dorp van baie ver. Die beste het gebly.
Ek hoor jou stem sonder dat jy praat.
Kyk ek sonder jou, is daar skille
oor my diep oogkasse, en ek
kyk sonder pupille.
Ek soek jou omtrek om my getrek,
ek soek jou in die appel van my oog.
Kyk ek na die melkweg, in die gras,
in die water, na die boog
van die aarde, altyd iewers is jy ingepas.

Luister en kyk hoe lees prof. Cloete sy gedig, ‘Anna'.

Herinneringe aan hierdie lewensveranderende ontmoetings, sal my lewenslank bybly. Nie net was sy kennis van literatuur indrukwekkend nie, maar ook sy fyn waarnemingsvermoë wat hom beslis in staat gestel het om sy treffende gedigte te skryf. Hy sou nie huiwer om sy lesing te onderbreek en deur die venster van sy huis die fyn suikerbekkie aan ons wys wat besig was om nektar uit die kelk van ’n blom te suig nie.

Prof Cloete het ons vertel hoe hy eers laat in sy lewe al sy gedigte uit ’n laai van sy lessenaar gehaal het. Hy wou nie as jong man debuteer nie, want toe was iemand soos NP van Wyk Louw die man wat die kitaar geslaan het. Eers op die ouderdom van 57, in 1981, het hy met die verrassende bundel, Angelliera, gedebuteer. Dit het geblyk die regte besluit te wees want nou kon die poësie van TT Cloete, ook die wat vir jare in die laai gelê het, na waarde geskat word. Sonder T.T. Cloete se poëtiese nalatenskap sou die Afrikaanse letterkunde veel skraler gewees het.

Lees ook:

http://www.litnet.co.za/tt-cloete-1924/
http://joanhambidge.blogspot.co.za/2015/07/t-t-cloete-sterf.html
http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/Huldeblyk-aan-TT-Cloete-En-wat-bly-is-die-liefde-20150802