Só ry die trein ... die luuksheid wat geld nie kan koop nie – Gielie Hoffmann

24 Julie 2017

Niks verpersoonlik die uitdrukking “die reis is die bestemming” meer as ‘n rit op ‘n trein nie.

Gielie Hoffmann, Ambassadeur vir Afrikaans, vertel.

Vyf kilometer voor Matjiesfontein klim ons uit die trein. Die son is pas op. Die lug is dun. Met geen verdere aanwysings as “volg die pad” begin ons stap. Ek kyk rondom my. Dis net die Suid-Afrikaners wat afgeklim het. Almal gesels in Afrikaans ... want ons weet. Ons weet. Niks is mooier as die oggenduur in die Karoo nie; die veld, die plante, die klein diertjies. Jy kan dit nie koop nie. En daarom heg ons waarde daaraan. Ons soek wat geld nie kan koop nie.

Vir lank was ‘n rit op die Rovos Rail op my wenslys. Niks verpersoonlik die uitdrukking “die reis is die bestemming” meer as ‘n rit op ‘n trein nie. Ek wou in ‘n landskap inry en dit nooit heeltemal agterlaat nie. Vlieg gee jou glad nie daardie opsie nie. Kar-ry net as jy kan stop en afdraaipaaie vat en jou pas kan verminder. Met ‘n trein is dit als buite jou hande. Reis as bestemming. Dis byna die teenoorgestelde van wat reis vir baie geword het: die afmerk van plekke, die neem van selfies by monumente, die adrenalien-inspuiting. Op ‘n trein sien jy niks spesifiek nie. Geen selfie kan die oomblik vasvang nie. En jou hartklop bedaar tot skrikwekkende laagtes.

Daarom dat ons afgeklim het van die trein. Ons wou nog stadiger beweeg. Nog meer niks sien. Die ander (meestal oorsese) gaste op die allerluukse trein het dit nie nodig geag nie; terug by die huis sou dit niks impak hê op foto’s of in die oorvertel en dramatisering van jou storie nie. Dis ontneem van alles wat skitter.

My generasie is weer besig om dit van vooraf te omarm. Vriende gaan op staptoere diep in die boendoes in. Ek het self tien dae in die Tankwa gaan stap. Stap gee ons toegang tot plekke en tyd en mense wat ons seker op geen ander manier sou kon kry nie. Ander omarm weer kleintydse gebruike soos padkos onder bloekombome, kombersie op die bonnet. Ja die koffie is dalk designer maar die fles is nog ouma s’n. Nog gaan steek hulle hande in skottels vleis êrens op ‘n plaas. Leer van sny, snitte en stop. Om te verstaan waar kos vandaan kom.

Ek wil nog gaan leer deeg-werk by tannie Theresa de Vries van Kokkedoor-faam. Maar in haar kombuis naby Brandvlei. Sy het êrens ‘n skilferkors gemaak vir melktert wat nou nog by my spook. Net so droom ander weer oor die maak van knipmesse, roei al langs die Oranjerivier, ‘n eie vrugteboord en die meegaande glimmende flesse in die spens.

Hoekom is dit? Is dit nostalgie na ‘n wêreld wat nie meer bestaan nie? Is dit ‘n oorlewingsmeganisme wat as teengewig dien vir die res van ons lewens? Ek dink dis meer as dit. Dis ‘n herdefinieering van waar ons inpas en wat ons wil wees. Ja, ons het koopkrag. Dit maak dat als en nog wat aan ons afgesmeer word. En dis nie net sleg nie. Maar ons wil amper begin bou aan die post-koopkrag ekonomie. Self, sien ons meer as net verbeeldinglose verbruikers. Ek sien dit al hoe meer op verjaarsdae en troues: geskenke is nie meer die in-ding nie, dis liewers ervarings wat jou vriende nou vir jou skep. Gee mekaar tyd en moeite. Dis luukser as enigiets op Yuppiechef.

Ongelukkig het die privatisering van spasie gemaak dat al hoe ons soms toegang daartoe kry, is as dit gekoop kan word. Om vir 2,5 dae van Pretoria tot in Kaapstad te kon kuier met vriende was elke sent werd. Om te kon aansit vir ‘n oormaat spys en drank was heerlik. Min doen dit beter as Rovos Rail. Maar eintlik, eintlik het ek betaal vir daai stilte vroegoggend toe ek wakker word en die trein voel beweeg. Almal nog aan die slaap. Om die venster oop te maak. Met geen idee waar ek in die wêreld is nie. Geen selfoonsein of TV-skerm om my aandag te eis nie. Ek het tot agter in die trein gestap. Die sitkamer se deur oopgemaak. Op die bank buite gaan sit. Gesien hoe die Karoolig begin verkleur. Ver in die agtergrond die trokke op die N1 begin hoor. Vir daai oomblik was daar niemand anders op die trein nie. Daar het die reis die bestemming geword. En dit is wat luuksheid is.