Semoér se skrywer se stem nou stil

12 Junie 2017

PG du Plessis: Semoér se skrywer se stem nou stil 

 

Prof. Hans du Plessis saam met skrywer, Ilse Salzwedel, met die bekendstelling van sy boek: Tussen die klippe. Foto: Maroela Media

 

Hy sal sy groot vriend van die laaste meer as dertig jaar altyd onthou vir veral twee goed: sy kennis van die skryfkuns en sy sin vir humor, het prof. Hans du Plessis, bekende skrywer en akademikus, aan Ilse Salzwedel vertel.

Prof. Hans du Plessis, toe net nog iemand wat daarvan gedroom het om eendag ʼn skrywer te word, se paaie het die eerste keer in 1969 met die van PG du Plessis gekruis. Laasgenoemde was op die redaksie van die Sestigers se letterkundige tydskrif, Kol en PG het besluit om Hans se eerste “woordseltjies”, soos hy dit self noem, te publiseer. Groot was sy verbasing toe hy die toe reeds gerekende dramaturg in die vroeë sewentigs raakloop en die dadelik ʼn paar reëls uit een van Hans se Kol-gedigte voordra. “Hy het toe vir my gesê hy dink ek sal nog ver kom, want ek verstaan dat ʼn gedig ritme nodig het.”

Dit was eers toe PG so drie dekades gelede by sy vrou Marie aangesluit het op hul plaas in die Rysmierbultdistrik dat die twee Du Plessis-skrywers – “ons is nie familie nie” – hartsvriende geword het. (Voor dit het PG gependel vir werk, en Marie het die boerdery behartig.) Soos dit skrywers betaam, het hulle graag oor die skryfkuns gesels. En mekaar se siele goed versondig ook daaroor. Hans skerts dat hy jare later PG se raad teen hom kon gebruik toe hy al die ritmefoute in een van die segmente van die radiodrama Teerling aan hom kon uitwys. 

Hulle het mekaar egter nie net geterg nie, maar ook aangemoedig en goeie raad gegee. Dit was Hans wat gesê het PG moet weer in Afrikaans skryf nadat hy hom vererg het vir Afrikaanse resensente se reaksie op sy Engelse roman The married man's guide to adultery. “Hy het Fees van die Ongenooides oorspronklik geskryf as ʼn Engelse dramareeks vir televisie. Nog voordat dit op televisie uitgesaai het, het ek vir hom gesê hy is laf om dit nie in Afrikaans te skryf nie. Dit was pure Steinbeck, net in Afrikaans, en het baie herinner aan Steinbeck se East of Eden.
So het die twee vriende gestry totdat PG uiteindelik bes gegee het en die reeks in ʼn Afrikaanse roman verwerk het. “Dis beslis een van die hoogtepunte van die Afrikaanse letterkunde,” sê Hans vandag.

Hy was een van die min mense wat die laaste jaar of wat nog by PG aan huis kon kuier. “Hy was verlede jaar hierdie tyd so afgetakel van die kanker dat hy niemand wou sien nie. Dan het ons maar oor die foon gesels.” Daarna het dit vir ʼn ruk weer beter gegaan, en enkele weke gelede het Hans en prof. Bernard Odendaal van die ATKV Skryfskool by NWU uitgery plaas toe. Min het hulle geweet hul vriend se tyd loop uit. “Toe het hy wraggies weer die kans gebruik om vir Bernard te vertel hoe onnosel ek is dat ek nie die woord riewe (vir ondergrondse riwwe) ken nie. Hy het hom behoorlik verkneukel daarin.”

Wat gaan hy die meeste van sy vriend mis? “Sy skerp, soms swart humor. En hy was mos nie eintlik taktvol nie. Natuurlik ook ons gesprekke oor die skryfkuns. Sy pa was ʼn onderwyser wat baie wyd gelees het, en PG was net so belese. Hy het verskriklik baie geweet van plots, en het my baie daarvan en van dialoog geleer. Maar hy het altyd gesê mens kan nog rondom dialoog skryf, maar nie sonder ʼn sterk plot nie.”

Moet egter nie dink die plot-lesse is rustig oor ʼn koppie koffie gedeel nie.

Hans vertel hoe hy eendag by PG gekla het dat uitgewers nie sy roman wil uitgee nie. “Hy het gesê hy verstaan hoekom. Ek vra toe hoe hy dit kan sê as hy nog nie eers die boek gelees het nie? ‘Man, ek kan mos hoor jy het nie ʼn storie nie’ het hy so ewe geantwoord.” En toe voortgegaan om vir Hans te verduidelik dat ʼn goeie boek ʼn goed uitgedinkte plot en narrative pull moet hê. “Ek het nie ʼn idee gehad wat narrative pull is nie, maar wou nie onnosel klink nie.” Hy het literatore gevra, nagelees en selfs gaan Google om meer daaroor te probeer uitvind, maar moes oplaas maar weer vir PG gaan vra. Die het vertel dat Hans dit nêrens sou kry nie, want hy wat PG is, het dit by sy pa geleer. En toe verwys hy sy vriend na die boeke van Dan Brown. “Gaan lees dit – want al kan die man nie skryf nie, het hy narrative pull.”

Hans het na sy vriend se raad geluister, en sy roman weer getakel – die keer nadat hy dit ordentlik geplot het. Dit het uiteindelik as Verbrande Paradys verskyn.

Hy sal PG altyd onthou as ‘n lojale vriend. “As hy belowe het om iets te doen, het hy dit gedoen.” Bekendheid het hom ook nie juis verander nie. “Die laaste paar jaar het ons altyd gaan koffie drink as hy van die plaas af dorp toe gekom het vir iets. Dan het ons op die Akker se stoep gaan sit sodat hy kan rook. En hy het met almal wat verbykom en hom herken het, gesels. Hy was nooit snaaks met vreemdes nie.”

Maar behoede jou as Pieter Georg du Plessis besluit het hy wil ʼn kwinkslag in jou rigting kwytraak. Ek onthou van ʼn voorval tydens die 2015 ATKV Skryfskool by die NWU waar ek moes praat oor die skryf van nie-fiksie. PG, wat net na my oor sy skryfwerk sou praat, het my stip dopgehou. Dis nogal intimiderend as ʼn Afrikaanse legende net ʼn paar meter van jou af sit en luister na jou praatjies oor skryf, des te meer omdat ek hom nog nooit voorheen ontmoet het nie en glad nie geweet het wat om van hom te verwag nie. Toe dit sy spreekbeurt was, het hy na my gekyk en gesê: “Juffrou, ek weet nou nie of jy enigsins kan skryf nie, maar jy kan wragtag lekker praat!”

“Dit was tipies PG,” lag Hans. “Hy het waarskynlik lankal besluit wat hy vir jou gaan sê, en net gewag vir die regte oomblik om dit te sê. Hy het dieselfde met sy studente gedoen - hy was mos maar ʼn performer. Hy sou ʼn student uitsoek om op te fokus tydens die lesing, en sou kort-kort ʼn opmerking spesifiek teenoor daardie een maak. Die studente het aan sy lippe gehang.”

Dit was wyd bekend dat PG se vrou Marie hul skaap- en beesboerdery op hul plaas Semoér naby Rysmierbult behartig het terwyl hy in sy klipstudeerkamer geskryf het. Maar min mense weet dat PG self daardie klipkantoor gebou het met die hulp van twee werkers. “Hy het altyd gesê hy bou graag met klip, want klip het ʼn gesig. Hy was regtig nogal kreatief en baie goed met sy hande en het ook ʼn pragtige beeld van ʼn vrou se gesig uit hout gemaak. En hy was mal oor daglelies! Hy het ʼn hele studie daarvan gemaak en dit ook op die plaas gekweek.”
Volgens Hans het PG die laaste ruk moeilik geskryf. “Sy laaste werk was ʼn bydrae vir ʼn huldigingsbundel oor Van Wyk Louw, wat sy mentor en studieleier was en vir wie hy geweldig baie respek gehad het.”

Wat beskou hy as PG se grootste bydrae tot die letterkunde? “Sy dramas is beslis van sy grootste bydraes, en ek praat nie net van Siener in die Suburbs nie. En Fees van die Ongenooides is ongetwyfeld een van die hoogtepunte in die Afrikaanse letterkunde. Maar ʼn mens moet ook onthou van sy reusebydrae tot die kontreikuns. Die beste voorbeelde daarvan is seker maar Koöperasiestories en Spies en Plessis. Maar daar was veel meer as net dit.” Nes daar ook veel meer aan PG du Plessis was as wat sy skryfwerk en lekker staaltjies kon verklap.

*Pieter Georg du Plessis, in lewe onder meer onderwyser, koerantredakteur, dramaturg, skrywer, TV-persoonlikheid en dosent, is op 14 Julie 1934 in Boshof in die Vrystaat gebore. Hy is 6 Junie 2017 oorlede. Twee van sy dramas (Siener in die Suburbs en Nag van Legio) is met die Hertzogprys bekroon. Fees van die Ongenooides is in 2009 met die ATKV Prosaprys bekroon. 

  Lees meer ...

 

Lees meer

http://www.litnet.co.za/pg-du-plessis-1934/

https://www.litnet.co.za/huldeblyk-aan-pg-du-plessis-1934-2017/

http://www.oulitnet.co.za/mond/jppg.asp

http://www.oulitnet.co.za/mond/pgduplessis.asp

 

Alita Steenkamp

 

Alita Steenkamp skryf in Rooi Rose (Augustus 2014) met die viering van PG du Plessis se 80ste verjaarsdag.

Ons almal ken hom, daardie bekroonde skrywer wie se fyn woorde jou weemoedig laat
huil, óf uitgelate laat lag. PG du Plessis gesels oor suksesse en flaters en ‘daardie bliksem wat jou voorlê’ ...

Laai in PDF formaat af