OppieStasie: Afrikaanse radio in Australië

05 Februarie 2018

 

Erika von Kaschke, die stem agter die mikrofoon. Foto: Facebook

Wat doen jy as die verlange na jou moedertaal en geboorteland te veel word? Jy begin 'n Afrikaanse radioprogram in jou nuwe land!

Erika von Kaschke het die vlaktes van die Karoo verruil vir die stad van liggies in Australië, Perth, waar sy haar liefde vir Afrikaans uitleef met haar radioprogram, OppieStasie op Radio Fremantle 107.9 FM.

Die idee om 'n "tannie wat op die draadloos praat" te wees, spook al van kleins af by Erika en soos die noodlot dit wil hê, het 'n sameloop van omstandighede dit vir Erika moontlik gemaak om dié droom te laat waar word.

Na 'n ontmoeting met 'n radioaanbieder by 'n werksfunksie in 2009, het Erika 'n advertensie in die plaaslike koerant gesien wat mense die geleentheid bied om te leer hoe om in die radiobedryf te werk. Erika het aansoek gedoen vir die program en gesê dat sy 'n Afrikaanse program wil doen. Die res is geskiedenis.

Volgens Erika was die projek 'n direkte uitvloeisel van haar verlange na haar geboorteland en liefde vir Afrikaans. Erika vertel ook dat baie ekspats haar al vertel het dat hul gehuil het die eerste keer wat hul Afrikaans oor hul radio's gehoor het.

Om die sukses van haar program te verseker en haar konneksie met Afrikaans lewendig te hou, lees Erika graag Afrikaanse skrywers se werk en luister sy na Afrikaanse musiek. Haar gunstelingskrywers sluit onder meer Philip de Vos, Annelie Botes, Marita van der Vyver, Antjie Krog, Uys Krige, André P Brink en Deon Meyer in. Sy het egter 'n spesiale plek in haar hart vir JM Coetzee en die manier hoe hy met Afrikaans kan toor. Volgens Erika "is Afrikaans 'n poëtiese taal, amper soos 'n taal van passie wat mense nie altyd verstaan nie. As jy driftig wil wees, is Afrikaans die taal om dit in te doen!"

Vir Erika is Afrikaans die wonderlikste taal wat daar is. "Dit is 'n kombinasie van kulture, 'n skermskoot van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat alle rasse transendeer."
Maar Erika is nie net passievol oor Afrikaans nie, sy het 'n diep liefde vir al 11 van Suid-Afrika se amptelike landstale en glo dat dit Suid-Afrika se diversiteit vertoon en dat Suid-Afrikaners tale as kulturele bates moet begin beskou.

Besoek OppieStasie se Facebook-blad hier.

Lesers kan elke Sondagmiddag tussen 15:30-16:30 (UCT + 8) op Radio Fremantle 107.9 FM na 'n lewendige uitsending van OppieStasie luister.