‘n Dertig jaar lange loopbaan – sonderling ... uniek, talentvol = Nataniël

28 Oktober 2017

Nataniël doen alles wat hy aanpak met oorgawe. Sy sukses getuig van harde werk en die vermoë om geleenthede raak te sien. Alita Steenkamp vertel die storie agter die storie.

””

Nataniël. Fotograaf Clinton Lubbe. 

””

ʼn Jong Nataniël.

Nicolaas Swart: “Nataniël is sekerlik die mees visioenêre en intelligente persoon van ons tyd. Hy is enig in sy soort, eksentriek, perfeksionisties en daar is geen einde aan sy kreatiwiteit nie.”
Charl du Plessis: “Nataniël se talent lê in sy veelsydigheid. Hy is ’n sakeman, liedjieskrywer, sanger, klere-ontwerper, verhoogregisseur en dan nog kok en vermaaklikheidskunstenaar van formaat."

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf die woord eksentriek as: sonderling, anders as die gewone… ʼn Beter woord as eksentriek, om ons geliefde Nataniël te beskryf, vind jy moeilik. Van die eerste dag wat hy ʼn verhoog betree het, het hy dit duidelik gemaak: hy háát gewoonheid want hy was sy hele lewe lank anders, en so sal dit bly. Met vernuwende denke, hope kreatiwiteit en ʼn visionêre en grensverskuiwende benadering, het Nataniël oor die jare ʼn reuse-aanhang opgebou en het hy op ʼn sekere manier, volksbesit geword. Min ander solokunstenaars kan hom dit nadoen om dieselfde teater, weke aaneen, aand vir aand vol te pak, soos wat Nataniël al vir etlike jare met The Theatre of Marcellos by Emporors Palace in Kemptonpark doen. Met enige Nataniël-vertoning kan ʼn mens seker wees dat jy iets gaan sien wat jy nog nooit voorheen ervaar het nie. Asemrowende, soms verbluffende kostuums, skouspelagtige dekor, musiek van die hoogste gehalte en natuurlik is daar ook skaterlag oomblikke, want niemand kan ʼn storie vertel soos wat Nataniël dit, met sy kenmerkende heesheid en doodeerlike, aardse benadering, doen nie.

””

Charl du Plessis, Nataniël se klavierbegeleier. Foto: Facebook. 

””

Nicolaas Swart, produksiebestuurder van Nataniël House of Music
Fotograaf: Clinton Lubbe.

Vanjaar het Nataniël sy dertig jaar lange loopbaan in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gevier met ʼn kleurryke produksie, 30 years, 90 minutes waarin hy gehore vermaak het met hoogtepunte van die afgelope 30 jaar. Vir hom was daar egter geen kitsroem of bekendheid nie. Hy is aanvanklik deur sekere konserwatiewe elemente geteiken, daar is op hom geskiet en hy moes selfs een maal, net in sy onderklere, saam met die res van die konsertgangers uit die teater storm ná ʼn bomdreigement. In 2016 is hy by die Huisgenoot Tempo-toekennings vereer as ʼn Afrikaanse Erfenislater en soos wat ons Nataniël ken, was hy glad nie op sy bek geval in sy bedankingstoespraak nie, en het hy eerlik en uit sy hart uit vertel dat niks vir hom maklik gekom het nie: “Daar is duisende mense, party is bly, die res is woedend, wat nie kan glo dat so ʼn oomblik kon aanbreek nie. Ek werk nou al 32 jaar, 29 daarvan as solokunstenaar, en dit het nie maklik begin nie. Ek was nooit mooi of cute nie, ek het nie rondgeloop met ʼn sixpack of vierkantige tieties nie. Elke deur wat oopgegaan het, het ek oopgebid of oopgeskop. Dit het gesorg dat ek nooit deel van iets was nie, dat ek my loopbaan op die kantlyn begin het en dat dit die plek is waar ek nog steeds tuis is.”

Wanneer jy op Nataniël se spore teruggaan, keer jy altyd weer terug na die huis in Wellington waar sy ouma Marie en oupa Frans gebly het. Sy kleurvolle ouma, wat oor die jare keer op keer in sy vertellinge opduik, was die een wat hom aangemoedig het om al sy wildste drome uit te leef. Om waarlik te wees wie hy is. Op haar hoë hakke het hy as klein seuntjie konserte gehou het, ouma se krale om die nek. Nataniël vertel dat dit aanvanklik nie vir hom vreemd was dat hy oral die deur gewys is nie. Hy was salig onder die indruk dat dit maar so moeilik gaan om iewers aanvaar te word. Tog was hy nooit bereid om sy uniekheid prys te gee nie, en vandag pluk hy die vrugte daarvan. Hy kan spog met meer as 6 000 lewendige vertonings, 79 verskillende verhoogproduksies, 17 albums, 6 DVD’s en twee baie gewilde televisie-reekse wat elk meer as een seisoen gehad het. Tans word die derde seisoen van Nataniël en sy sjef-broer, Erik le Roux, se Die Edik van Nantes op Woensdagaande op kykNET uitgesaai.

Kykers is gaande oor Nataniël en sy broer Erik se program Die Edik van Nantes

Charl du Plessis, wat al vir 18 jaar lank Nataniël se klavierbegeleier is, vertel sy paaie het in 2000 met Nataniël gekruis. Hy het een oggend nog in die bed gelê, toe hy meteens ʼn oproep van Nataniël kry. Dié het aan hom gesê dat hy sy nommer by ʼn professor aan die Universiteit van Pretoria se musiekfakulteit gekry het, want hy is op soek na ʼn nuwe begeleier.

“Ek kon my ore nie glo nie en het byna die bed natgemaak!” sê Charl. “Dit was net te goed om waar te wees, maar daardie oggend het ʼn lang en suksesvolle samewerking begin. In hierdie 18 jaar het ek geweldig baie by hom geleer. Ons kom baie goed oor die weg en wat dit so lekker maak, is dat hy my toelaat om ook my eie loopbaan te hê sonder enige inmenging van sy kant af. Wanneer twee kunstenaars saamwerk, vryf dit partykeer op mekaar af, maar ek het van die begin af besluit om my eie styl te volg, want wat Nataniël doen, is uniek.

“Een van die dinge wat ek by Nataniël geleer het, wat hom as kunstenaar so suksesvol maak, is dat hy ongelooflik baie respek vir sy gehore het. Hy praat nooit af na hulle toe nie en besluit ook nie voor die tyd iemand sal nie hierdie grappie vang nie. Hy doen sy musiek op so ʼn manier dat hy weet hy gaan sy gehoor lig tot waar hy is. Nataniël bied ook nooit twee keer dieselfde ding aan nie en hy herhaal nooit nie. Jy kan vandag ʼn show van Nataniël gaan kyk en weer oor ʼn jaar en dit gaan iets totaal nuuts wees. Nuwe kostuums, nuwe stories en nuwe musiek.

“Dis heerlik om saam met Nataniël rond te reis vir die verskillende vertonings en ons speel ook in die mees uiteenlopende venues. Die gehore wissel van konserwatiewe ooms en tannies tot jongmense wat na hulle eerste Nataniël-show kom kyk en oorrompel word. Sy humor is natuurlik aansteeklik en ek geniet Nataniël se wye musieksmaak wat vir my, as musikant, altyd ʼn uitdaging is,” sê Charl.

Nicolaas Swart se pad het met die van Nataniël gekruis toe hy in 2005, as deel van die sanggroep Hi-5, by een van Nataniël se produksies betrokke was. Terwyl hy studeer het, het hy in 2008 begin werk vir Nataniël se winkels, Kaalkop Studio en in 2013 is hy voltyds aangestel as produksiebestuurder van Nataniël House of Music. Sedert 2010 is Nicolaas ook as sanger deel van die produksies.

Waarvoor hy ʼn besondere waardering het, is Nataniël se goedhartigheid, sê Nicolaas. “Sy goedhartigheid, lojaliteit en vrygewigheid teenoor sy familie, vriende en medemens is vir my sy kosbaarste karaktereienskap. Die verskil wat hy maak wanneer geen pen daaroor kan skryf of foto daarvan kan vertel nie, getuig daarvan dat hy dit ook in die oortreffende trap aanpak, nes sy ander professionele beroepe. Hy is werklik ʼn meester op alle gebiede, werk harder as enigeen anders wat ek ken en verdien dus werklik alle sukses wat na sy kant toe kom.”

Skouspelagtige vertonings is eie aan Nataniël - 'n ster sonder weerga. Foto: Facebook 

In sy wentoespraak, het Nataniël ook gesê: “Sukses is dalk vir mense ʼn goue plaat of ʼn vol tent. Vir my is sukses, geluk. Die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat kwaliteit en geluk bepaal word deur hoe naby jy in jou leeftyd kom aan jou roeping. Om elke oggend wakker te word en te weet niemand gaan my voorskryf wat om te doen nie, dat ek ʼn verskriklike dag voor het, en dat 99 persent van wat ek doen my gelukkig maak, is ʼn ontsettende groot voorreg. Ek is elke keer ongelooflik opgewonde en doen elke keer die beste wat ek kan en dit is my geluk.”

30 jaar nadat Nataniël sy eerste opname, Weird People vrygestel het, is hy steeds elke dag besig om die dinge te doen wat hom gelukkig maak. In ʼn bedryf waar na-apers floreer, was daar nog nooit enigeen wat Nataniël se unieke aard en styl kon na-aap nie. In sy andersheid, lê sy grootste bekoring. Mag hy nog vir baie jare ons vermaak, uitdaag, inspireer, amuseer en betower.  

Nataniël oor Afrikaans:
"Ek voel oor Afrikaans soos oor hondjies: Mal oor die hondjies, verpes die eienaars wat nie weet hoe om hulle te hanteer nie. Mal oor Afrikaans, verpes die dissipels wat dit wyd en syd probeer verkondig en afsmeer. Vir wat? Dis so irriterend, onnodig en uncool. Die taal bestaan en hy word geleef en bedryf en gepraat en gaan nooit verdwyn nie. Al die debatte en politiek is totaal buite verband en belaglik as jy nugter kyk na die realiteit in ons land. Word wakker en red iets wat regtig hulp nodig het. Die grootste guns wat ek Afrikaans kan doen, is om dit te praat en te skryf, dit doen ek al my lewe lank.”

””

Nataniël. Soms is hy ʼn ware verkleurmannetjie. 

””

Nataniël.

10 Kitsfeite oor Nataniël
  1. Reeds as student op Stellenbosch, het Nataniël kabarette, en soos hy sê, ander vreemdhede, op die planke gebring.
  2. Hy is ʼn ambassadeur vir Kindersorg in Suid-Afrika en het ook sy eie liefdadigheidsorganisasie, die Nataniël Progress Project, gestig.
  3. Wie kan ooit Nataniël se De Kat-advertensie, “Koop net die bleddie tydskrif!” vergeet? Hierdie advertensie het by die 1994 Loerie-toekennings die Loerie Grand Prix Award gewen – die eerste Afrikaanse advertensie om hierdie prestasie te behaal.
  4. In 2010 word hy by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees as beste manlike kunstenaar benoem vir sy vertoning “Nataniël – Die een konsert”.
  5. In 2017 het Nataniël sy eerste ateljee-album in sewe jaar vrygestel. One day in a Castle bevat elf snitte waarvan een in Afrikaans is.
  6. Wanneer jy jou selfoon laat lui in ʼn Nataniël-vertoning, sal die kunstenaar jou summier uitjaag. Hy duld nie ʼn gebrek aan selfoonetiket nie.
  7. Van sy 2011-vertoning, Combat, is daar ʼn rolprent gemaak wat in teaters vertoon is en later op DVD vrygestel is.
  8. Combat is in 2012 vir sewe Naledi-toekennings benoem en Nataniël is uiteindelik bekroon vir die beste optrede deur ʼn man in ʼn musiekspel. Combat het ook die toekenning vir beste kostuumontwerp gewen.
  9. Na Lodewyk XIV in 1685 die Edik van Nantes, wat geloofsvryheid aan die Protestante in Frankryk gegee het, herroep het, het die Franse Hugenote, waaronder die Le Rouxs, na Suid-Afrika gevlug. Nataniël se broer, Erik le Roux, het dekades later getrou met ʼn Franse meisie, Nathalie le Roux, wat ʼn afstammeling van die Katolieke Le Rouxs van Nantes is en in die Franse dorp gaan woon.
  10. Sedert 2002 verskyn Nataniël se Kaalkop-rubriek maandeliks in Sarie.

https://kyknet.dstv.com/gallery/edik-van-nantes-3-in-die-hartjie-van-nantes?utm_source=facebook&utm_medium=cpc&utm_campaign=kn_edikvannantes&utm_term&utm_content=agterdieskerms