Woordwoekeraars – lekkerlees Afrikaanse blogs

10 Januarie 2018

Mond uitspoel, pret in Afrikaans, nuwe woorde en unieke gedagtes – dis maar net die begin van lekker blog in Afrikaans en daar is ‘n magdom om uit te kies. Ons stel jou graag bekend aan ‘n paar lekkerlees-blogs en nooi jou uit om jou Afrikaanse blog aan ons voor te stel sodat ons die nuus kan versprei en jy lesers kan bykry. Op Afrikaans.com vind jy ‘n ellelange lys vir elke smaak en voorkeur. Soek jy inspirasie, raad, medereisigers of mense wat jou belangstellings met jou deel? Klik hier vir nog. Stuur jou e-pos aan myafrikaans@afrikaans.com

Hier is ‘n paar gunstelinge

Die Kleur van my Pen 

’n Afrikaanse blog is die blog van Martha Poller, ’n Namibiër van Keetmanshoop. Hier deel Martha allerhande stories, kortverhale en staaltjies.
Volgens Martha het sy reeds van haar geboortedag af die begeerte om te skryf en te publiseer en die blog gee haar die geleentheid om juis dit te doen.
Lees dié blog wanneer jy lus is vir ’n lekker unieke Afrikaanse storie.

Colyn maak Man Kos

Dit is somer! Wat kan dan lekkerder wees as om ’n lekker Afrikaanse blog te lees.

Colyn maak Man Kos is die kos-blog van Colyn Serfontein en handel oor Colyn se liefde en lewe vir en rondom kos maak. Colyn beskryf homself as “’n doodgewone ou wat hou van kos maak,” en hy is veral lief daarvoor om die tipe kos te maak wat “mans se monde laat water maar waarvan vrouens ook hou.”

Lees dié blog as jy idees en resepte soek wat manlief se mond gaan laat water, of as jy kos moet maak wat jou vrou se voete onder haar gaan uitslaan.

Groen vingers

Dit is die perfekte tyd om die een plek waarvoor jy altyd te besig is bietjie op te knap: Jou tuin. Lees gerus een van die twee tuinmaak-blogs om jou te inspireer en vir vars, nuwe idees.

Groen Vingers is 'n gratis openbare inligtingsbron vir die kweek van groente, vrugte, kruie, blomme, bome en ander tuinplante in Suidelike Afrika. Alles in Afrikaans. Op Groen Vingers is enige persoon welkom om 'n bydrae te maak of 'n vraag te stel. Vrae word aan die publiek gestel en deur die publiek beantwoord. Ervare tuiniers deel gereeld hul kundigheid en praktiese raad in 'n poging om ons almal groen vingers te gee.

Hierdie webwerf bedien die Suid-Afrikaanse tuinier met raad oor 'n verskeidenheid van aspekte van tuinmaak. Dit sluit in tuinbeplanning, saai en uitplanting, bewerking, klimaat, grond, bemesting, snoei en spesies.

Ek het ’n tuin in Afrika

Ek het ’n tuin in Afrika is die blog van Maree Clarkson. Sy beskryf haarself as “‘n waterverfskilder en ‘n student van die Natuur”. Sy woon op haar stukkie Afrika-grond in Tarlton (Gauteng, Suid Afrika). En is verlief op die lewe, hoenders, tuinmaak en inspirerende mense. Sy sê gereeld dankie vir alles, is baie vroeg op in die oggende en glo daaraan om te vergewe – dit vat gans te veel energie om kwaad te bly!

In en om die huis

In en om die huis is die blog van “twee vindingryke vroue wat altyd op soek is na nuwe idees.”

“Kosbare vriendskappe vergaan nie sommer nie en so tussen die koppies koffie en tee het hierdie twee vriendinne met ‘n blink plan vorendag gekom. Die geselsies was sonder ophou oor gedeelde passies in die lewe, alles in en om die huis, en van daar het die klein saadjie van ons droom begin ontkiem en nou steeds groei hy elke dag nog sterker en sterker...”

Hier kan jy allerhande idees en wenke oor onder meer kos maak, tuin maak, jou huishouding, geskenke en vele meer kry.

Hierdie is ’n lekker blog om te lees wanneer jy vasbrand in die huis of tuin.

De Van Zijls in Nederland

De Van Zijls in Nederland handel oor die wel en wee van ’n Afrikaanse gesin se avontuur in Nederland. Die gesin wat oorspronklik van Langebaan af kom het die geleentheid gekry om na Nederland te emigreer en gee vriende, familie en ander belangstellendes die geleentheid om in hul reis met “baie lag, bietjie trane, en ek hoop met vreeslik baie vreugde,” te deel.

Lag en huil saam met hulle en hul uitgebreide gesin wat onder meer hul 13-jarige dogtertjie, 10-jarige seun en Dobby (Rough Collie), Neska (Jack Russel), Mia (bontkat) en Loki (gemmerkat) insluit.