“Afrikaans is ...”

23 Oktober 2017

Smôrens vroeg is die vriendelike stem van Heindrich Wyngaard 'n Ambassadeur vir Afrikaans, een van dié wat die nuus en gebeure van die dag vir ons in Afrikaans bring. Heindrich is een van die aanbieders van Monitor, ’n vroegoggend nuusprogram op RSG. Op Sondagaande gesels Heindrich en ander kenners oor ʼn verskeidenheid van onderwerpe in die aktualiteitsbesprekingsprogram, Kommentaar, op dieselfde radiostasie. 

Heindrich Wyngaard gesels met Izaan Steenkamp van die Groot Ontbyt oor Afrikaans #onmisbaar.

In Heindrich se loopbaan in die media was hy onder meer artikelredakteur van Insig en politieke redakteur by Die Burger en Rapport. Hy was vir ’n tydperk veldaanbieder op Kwêla en die aanbieder van kykNET se Wat’s die storie? Hy tree ook gereeld as gasjoernalis op kykNET se Verslag op. Uit Heindrich se pen het al verskeie boeke verskyn onder meer Die Gevleuelde Woorde en Wyshede van Peter de Villiers en Bursting Through the Half-gap, ʼn biografie oor een van sy rugbyhelde vir wie hy gereeld die sandemmertjie aangedra het, die Springbok Errol Tobias. Heindrich is tans besig om sy biografie oor Zephany Nurse, A Home for Zephany, by te werk en in Afrikaans te vertaal. Dit was vir hom nog altyd belangrik om sy mense se stories te vertel en elke geleentheid wat hy kry om dit te doen, gryp hy aan. Heindrich het Dinsdagoggend, 24 Oktober op die Groot Ontbyt gesels oor Afrikaans wat #onmisbaar is in die Suid-Afrikaanse samelewing. Lees meer oor Heindrich hier.

Lees ook ...
Onderhoud – LitNET: Heindrich Wyngaard oor A home for Zephany.