As almal vêr is - ’n Afrikaanse Kersfees in die vreemde

14 Desember 2017

Duisende Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners noem deesdae ’n ander land as Suid-Afrika ‘huis’. Almal ken iemand wat besluit het om ’n nuwe lewe, in ’n ander deel van die wêreld, aan te pak. Hoewel hierdie skuif nuwe geleenthede bring soos die blootstelling aan nuwe tale, kulture en mense, beter reis- en werksgeleenthede en ’n veiliger lewe, maak dit vir hierdie brawe ekspats nie die verlange na hul geboorteland en die mense wat hul agtergelaat het enigsins makliker nie. Ons aanvaar dikwels die voorreg om Kersfees onder die Afrika-son te vier as vanselfsprekend, maar vir baie ekspats is hierdie voorreg nie beskore nie. 

Luister na Laurika Rauch se weergawe van Somerkersfees:

Petronell Vorster het met ’n paar Suid-Afrikaanse ekspats gesels oor hoe hulle Kersfees in hul nuwe lande vier, watter Afrikaanse tradisies hul voortsit en ook die lekker en sleg van Kersfees in die vreemde.

’n Europese Kersfees

Fröhliche Weihnachten
Vir die afgelope ses jaar het De Wet, Heleen, Cara en Stean Herselman ’n nuwe tuiste in die Cologne-Bonn-omgewing van Duitsland gevind. Die Herselmans het in 2011 die stof van Afrika vir die sneeu van Duitsland verruil toe ’n werksgeleentheid vir Heleen die skuif moontlik gemaak het. Tans werk Heleen in die IT-bedryf, De Wet lektor in finansiële bestuur en korporatiewe prestasiebestuur en Cara en Stiaan is studente aan die Universiteit Rhein Waal in Kleve.

Vir die Herselmans begin die feestyd al vroeg in November met die wêreldbekende Kersmarkte van die omgewing. “In die aanloop na Kersfees, van einde November tot met Kersfees sal ons natuurlik meer as een keer 'n Kersmark besoek, waar ons glühwein drink en onder andere iets soos ‘bratwurst’ (braaiwors)', ‘reibekuchen’ (diepgebraaide aartappelkoekies), ‘fishbrotchen’ ('n stuk gebakte vis in 'n broodrolletjie), ‘flammlachs’ (vlamgebraaide salm), ‘fleischspiese’(tipe van sosatie) of ‘grunkohl’ (groenkool) eet terwyl ek altyd suikergebraaide amandels vir nagereg opsoek. Deel van die lekkerte van dié Kersmarkte is om dit saam met vriende te deel en ons ontmoet gewoonlik een maal per Kersfees ander Saffas by so ’n Kersmark waar ons saam eet, kuier en lag,” skryf De Wet per e-pos.

Hoewel die Herselmans hou van reis en dikwels oor Kersfees in die Alpe in Italië of Frankryk is waar hul ‘n skivakansie hou, probeer hul steeds wanneer hul wel tuis is, om iets van die Suid-Afrikaanse manier van Kersfees vier te behou. “Wanneer ons wel by die huis is oor Kersfees vier ons Kersfees op Oukersaand deur die American Protestant Church in Bonn (APCBonn) waar ons lidmate is, se Kersdiens by te woon en daarna by die huis te gaan kuier en geskenke uit te deel, net soos ons dit in Suid-Afrika gedoen het. Kersdag self sal ons 'n groot aansit-ete met opgemaakte tafel vir middagete hê. Afhangende van mense se beskikbaarheid sal ons vriende nooi, wat meestal ander Suid Afrikaners is, of familie as kuiermense hier hê wat die feesmaal saam met ons geniet.”

Volgens De Wet maak die winterseisoen die atmosfeer van Kersfees in Duitsland heeltemal anders as ’n Suid-Afrikaanse Kersfees, maar “dit bly steeds, na ses jaar hier, 'n tyd van verlang. Hoewel ons seker maak ons vier Jesus se geboorte met vreugde, verlang mens erg na jou familie en vriende wat ver is, en daar bly altyd 'n hunkering oor die tyd in mens.”

Kersfees in Europa.

‘n Duitse Kersmark.

’n Kanadese Kersfees

Ross-Kersfees
Marissa en Thian Ross het in die begin van 2015 die skuif na Calgary in Kanada gemaak. Nadat hulle in 2014 vir ongeveer drie maande daar was vir Thian se werk, het hul verlief geraak op die stad en land en besluit om dié skuif permanent te maak.

Vir Marissa en Thian was dit belangrik om die tradisies van hul nuwe land te beproef, maar ook terselfdertyd, ou Suid-Afrikaanse tradisies te behou. “Ons het vorige Kersfeeste byvoorbeeld gaan ski, of in die park gaan ysskaats en dan huis toe gegaan en ons trots Suid-Afrikaanse Kersetes geniet. Ons probeer altyd Kersdag braai (as dit nie te koud is nie), anders maak ons kouevleis soos ham en hoender (nes elke jaar saam met familie in Suid-Afrika), bykosse soos pampoenkoekies, aartappelslaai en BAIE nagereg,” skryf Marissa.

Die Rosse verwag ’n tweeling wat voor Kersfees 2017 hul opwagting gaan maak en volgens Marissa sal dit “Kersfees heelwat anders laat lyk as die vorige jare.”

Vir die Rosse is die lekkerste deel van Kersfees in Kanada ’n wit Kersfees vol nuwe herinneringe en tradisies, maar hul mis dit ook om Kersdag saam met geliefdes by die huis te spandeer.
 

Marissa en Thian Ross.

Kersfees 2015 het Marissa se ma en stiefpa vir haar en Thian kom kuier.

’n Thaise Kersfees

Michele Pienaar
Michele Pienaar bly al die afgelope ses maande in die Ooste van Thailand waar sy by ’n privaatskool Engels gee. Hoewel sy nie beplan om haarself permanent daar te vestig nie, het sy nog geen planne om terug te keer na Suid-Afrika nie.

Omdat Thailand ’n Boeddhistiese land is, word Kersfees nie daar gevier nie, maar dit keer Michele en die groot groep ‘farang’ (foreigners) wat saam met haar daar woon nie om Kersfees te vier nie. “Ons het besluit om ons eie Kersfees tydens die naweek van die 23-24ste Desember te hou, aangesien ons verplig word om te werk op die 25ste. Ons beplan om op die Sondag ’n groot Kersete te maak en as ’n familie saam te geniet waarna ons die dag op die strand sal geniet.”

Michele is opgewonde oor die geleentheid om Kersfees saam met vriende van ander kulture te vier en ook om die ware Kersboodskap vir ander oor te dra aangesien hul op Kersdag ’n Kerskonsert by haar skool gaan opvoer. “Tydens hierdie konsert word ons die reg en voorreg gegun om die ware Kersverhaal aan die leerders oor te dra.”

Hierdie is Michele se eerste Kersfees weg van Suid-Afrika en vir haar gaan die grootste verskil tussen Kersfees tuis en Kersfees in die vreemde wees dat sy familie verruil vir vriende wat soos familie geword het.

 Michele Pienaar gee Engels by die Kulsirisart Skool in die Ooste van Thailand.
 

Kersfees in Dubai

Francois en sy meisie, Yolanda
Francois Varkevisser werk al drie en ’n half jaar lank in die gasvryheidsindustrie by die Atlantis the Palm Hotel in Dubai. Tans is hy die maitre’d by die Gordon Ramsey-restaurant, The Bread Kitchen.

Volgens Francois het ’n mens nie iets soos Kersfees of nuwejaar wanneer jy in die industrie werk nie aangesien dit altyd die besigste tyd van die jaar is, maar vir hom is Kersfees familietyd en wanneer jy in die buiteland werk, word jou vriende en kollegas jou ‘nuwe familie’. “Ons probeer om elke jaar ’n Kersete saam te hou en ons doen ook jaarliks die Secret Santa-ding, want wie wil nou nie ’n geskenkie op Kersfees kry nie,” spot hy.

Vir Francois het die geleentheid beteken dat hy blootgestel word aan verskillende kulture en mense. “Ons is 83 nasionaliteite wat saamwerk by die Atlantis en Kersfees is die perfekte tyd om meer van mekaar se kulture te leer.”

Die verlange oor die feestyd huis toe is soms erg en Francois skryf dat dit die tyd van die jaar is wanneer jy “wens jy kon ’n koppie saam met jou ouers, of ’n koue enetjie saam met jou broers geniet.”

Francois Varkevisser en sy meisie Yolanda Han.

Kersfees en Nuwejaar is Francois se besigste tye in Dubai.