Die Kasteel: ‘n Komedie vir konings

08 November 2017

Die Kasteel word voor 'n gehoor verfilm en jy het die kans om deel te neem.
Hierdie skreeusnaakse klug word nog tot in Januarie opgeneem ...

Wat gebeur as jy ’n Waterkloof-bloubloed is en jy jou familie-fortuin in ’n Ponzi-skema verloor? Vir die De Wet-gesin was die antwoord eenvoudig: Omskep jou herehuis in ’n boetiekhotel. Petronell Vorster het namens Afrikaans.com twee van die opnames van die nuwe KykNET-komediereeks, Die Kasteel, bygewoon en haar self byna dood gelag vir die manewales van die De Wets en hul ‘helpers’.

Lank, lank gelede (ek vermoed dit was voor ek verstand ontwikkel het) het boewe by ons huis ingebreek en onder meer die televisie gesteel, gevolglik het ek grootgeword in ’n televisielose, boekbelaaide huis. Êrens in die vroeë 2000’s het my oumagrootjie egter ouetehuis toe getrek en het ons haar stokou, piepklein TV wat nie eers ’n afstandbeheer gehad het nie, geërf.

Een van die beste ontdekkings wat die nuwe televisiestel my laat maak het, was SABC 3 se Woensdae komedieaande: The War At Home, Two and a Half Men, 8 Simple Rules… Die beste deel van hierdie programme was natuurlik dat mense op dieselfde tyd as ek, vir dieselfde simpel grappies lag!

Hierdie sitkom-styl van programme het nooit regtig in Suid-Afrika posgevat nie, en is selfs in Amerika aan die verdwyn. Deesdae word die lewendige gehoor se regte gelag vervang met opnames van mense wat lag. Dit is dan ook hoekom Die Kasteel so 'n groot bederf vir Suid-Afrikaanse gehore gaan wees. Nie net is die grappies regtig snaaks, sonder om platvloers te wees nie, die energie wat die gehoor aan die akteurs gee, verander die hele gevoel van die program. Dit is amper soos om na ’n toneelstuk by die KKNK of Aardklop te gaan kyk. Die dinge moet gebeur, sonder foute en verkieslik met so veel as moontlik reaksie van die gehoor.

Om in die gehoor te sit en te sien hoe speel die aksie voor jou af is natuurlik ook ’n unieke ervaring. Ek het onder meer geleer dat ’n toneel herverfilm moet word as die komkommerskyfies nie groot genoeg is nie, dat daar baie gesigpoeier gebruik word (op almal) en dat die akteurs ook net só lank hul lag kan hou wanneer hul karakters iets simpel aanvang of sê. ’n Mens kry ook nuwe waardering vir die ‘agter-die-skerms’-mense. Elke klein detail wat jy waarneem, is met ’n liefdevolle hand daar geplaas, kamera en klank, grimeerkunstenaars en skrywers werk net so hard soos die akteurs. Dit is die mense wat jou gunstelingsepie, -TV-program of -film moontlik maak, sonder dat jy dit eers besef.

Met Pierre van Pletzen, Josh Rous en André Odendaal as regisseurs kan jy maar weet dat dié komedie nie sommer, soos my oupa dit sou stel, “’n bespotting van die Afrikaner maak nie”. Hannes Brummer, wat die gehoor vermaak, is nog ’n pluspunt wat in die komedie se guns tel. Met sy flambojante persoonlikheid en vermoë om selfs die suurste Waterklooftannie te laat lag, verseker hy dat die gehoor ten alle tye reg is om die komedie ten volle te geniet.
Dit is ook beslis lekker om in jou eie taal te kan lag. Ons Afrikaners is immers daarvoor bekend dat ons die humor in enige situasie kan vind.

Waaroor gaan Die Kasteel?

Eckhard en Tina-Marie de Wet besit ’n herehuis in Waterkloof, Pretoria. Ses maande gelede het Eckard per ongeluk al die gesin se geld verloor, al wat hul oor het is hul woning, ‘Die Kasteel’. Die paartjie het besluit om hul huis in ’n boetiekhotel te omskep en word bygestaan deur hul millenniër-dogter, Michellay, hul naïewe tuinier, Wilson en hul sarkastiese huishulp, Cecilia. Die enigste probleem is dat nie een van die vyf regtig weet wat hul doen nie! Die kleurvolle gaste wat in elke episode by Die Kasteel kom bly, tesame met die de Wet-huishouding se onkunde, lei weekliks tot groot konsternasie en opwinding.

Wie gaan jy te sien kry?

Die koning van Suid-Afrikaanse komedie, Hannes Muller (Villa Rosa) vertolk die rol van Eckhard de Wet. Sy vrou Tina-Marie word vertolk deur die pragtige Dorette Potgieter (Villa Rosa). Hul dogter, Michellay, word gespeel deur Cintaine Schutte (Phil 101). Terwyl die De Wets se twee regterhande (lees linkerhande), Wilson en Cecilia, onderskeidelik deur Solomon Cupido (Pad na Jou Hart) en Pulane Sekepe (#Koelpixels) gespeel word. Daar is dan ook weekliks tot soveel as vier gasspelers by Die Kasteel te sien.
Die goeie nuus is dat die reeks nog tot in Januarie 2018 verfilm gaan word, en dus het lede van die publiek ook kans om in die opwinding te deel.

*Die eerste episode van Die Kasteel begin op 10 Januarie 2018 op KykNET, kanaal 144.

Die Kasteel word elke Saterdag by Sasani Studios in Johannesburg verfilm. Indien jy wil deel wees van die gehoor, stuur ’n e-pos aan kykdiekasteel@roushouse.co.za met jou gekose datum.
Datums waarop daar nog verfilm gaan word:
• 11, 18, 25 November 2017
• 2, 9, 16 Desember 2017
• 17, 23 Januarie 2018
””

Lede van die media en ander gaste geniet die pouse tussen die twee opnames.

””

Die ‘agter-die-skerm-ouens’ werk net so hard soos die akteurs.

Om ’n lid van die gehoor te wees, laat jou voel of jy jou oë geknip het en in Hollywood geland het.