Die generasie wat fluister maar gehoor wil word

02 November 2017

Gielie Hofmann is betrokke by leierontwikkeling en sy passie is om jong Afrikaanses in moeilike en veranderde tye te oriënteer. Gielie bestuur ’n opwindende fotografie-projek, #DisMySuidAfrika, op Instagram in Afrikaans. Daarmee poog hy om die kleinste oomblikke vol van groot waarhede vas te vang. Hy is ook ‘n Ambassadeur vir Afrikaans

Onlangs gesels ek met ‘n vriend van my wat ‘n bekwame improvisasie-komediant is. Bedoelende, hy tree dikwels op sonder enige teks en dink alles uit soos wat die vertoning aangaan. Dis natuurlik veral indrukwekkend as dit deel is van ‘n groep waar niemand ‘n idee het wat hulle die volgende sestig minute gaan doen nie.

Hy deel toe met my ‘n interessante tegniek wat hulle gebruik; as dit jou beurt is om te praat mag jy glad nie die woorde “nee” of “maar” gebruik nie. Al verskil jy hoe van wat nounet gesê is. In plaas daarvan gebruik hulle die woorde “ja” en “en”. Dit verseker dat die vertoning vloei en daar nuwe bestemmings bereik word. Met “nee” en “maar” bly hulle rondhardloop in verskillende rigtings.

Hulle wil gehoor word ...

Vandag se tieners wil gehoor word. Ek sien dit daar waar ek met hulle werk, hetsy as leiers, atlete of kultuurtiere. Hulle het opinies, emosies, vrae, onsekerhede, antwoorde, idees en heerlike opmerkings wat hulle met vrymoedigheid deel. Totdat iemand sê “nee” of “maar”.

Die oomblik as hulle voel iemand oordeel hulle, of stem nie saam nie, of stel nie eintlik belang in wat hulle sê nie, skakel hulle af. Hulle hou op om deel te neem en te deel. Dadelik val hulle terug op die oorbekende eenwoord-antwoorde waarvoor tieners berug is ... gesê met geen entoesiasme of aanduiding van verdere gesprek nie.

Gesprek, dialoog en goeie luistervaardighede is dus onmisbaar vir vandag se jongmense. Elke generasie het sy eie optog. En sodra ‘n generasie voel dis nou hulle beurt om te praat staan die volgende generasie al reg om hul stem dik te maak. Natuurlik gaan hulle nie altyd ontwikkelde idees perfek kan uitdruk in keurige Afrikaans nie. Dankietog daarvoor! Meestal is hierdie idees juis robuust, energiek, subjektief en met skerp hoeke. Nie mooi toegedraai met linte en sellofaan nie.

Ons sien dit in die opvlam van onvoorbereide redenaarskompetisies. Daar waar jong sprekers amper hul eie stem terugvat en praat soos wat hulle regtig praat nie; nie hierdie oorafgerigte aflewerings van volwassenes se blinkgepoetsde toesprake nie. Elke keer as my paaie kruis met jong sprekers is ek verbaas oor hoe sterk hulle voel oor sekere kwessies. En tog word hulle in die media uitgebeeld as ‘n generasie wat niks het om te sê nie.

Nou hoekom is daardie idees dan juis so belangrik? Dit gee ons ‘n direkte, in-diepte blik op hierdie generasie se harte. Dit wat hulle mee worstel, woel, oor wonder en ja, mee woeker. Want danksy platforms soos Instagram en SnapChat systap hierdie generasie hul ouers en onderwysers se sensors en versprei hulle gretig die woord.

En hulle doen dit meeste van die tyd in Afrikaans. Die taal is ‘n onmisbare gedeelte van hulle gesprekke. Dis die generasie wat aanklank vind by die woorde van Jaco “Bittereinder” van der Merwe, Bibi Slippers, Jannes Erasmus en Bouwer Bosch. Hulle dra hulle harte op hulle mou in beeldryke Afrikaans. Ek sien en hoor hoe hierdie kinders Afrikaans voel waar dit saakmaak. Langs die pad gaan party van hulle dalk ouer letterkunde en musiek ontdek; ek kry egter die idee hulle stel meer daarin belang om hul eies te skep. En dit is nie noodwendig in album- of bundelvorm nie. Dis nie noodwendig op winkelrakke nie. Dis eerder op mooi geȉllustreerde foto’s, insperende boodskappe, pragtige tatoëermerke en in gesprekke. Daaglikse gesprekke. Hulle skree nie, hulle fluister. En omdat meeste van ons net aandag gee aan dit wat dadelik gesien en gehoor kan word, mis ons uit daarop. Dit is ons fout, nie hulle s’n nie.

Kyk hier ...