Die Boekklub 2 – Splinternuwe stories wat wag om vertel te word

01 Julie 2017

“Die proses was vir my van die begin af positief t.o.v. briljante teks, mede-akteurs, regisseur, d.o.p, vervaardigers, lynvervaardiger tot grimering en kostuums. Keuses vir ’n wenresep met integriteit."

– June van Merch

Vroeg in 2016 het die lede van ’n boekklub in die klein Karoodorpie, Merweville, diep in die harte van almal wat hulle wel en wee gevolg het, geklim. Die verhaal van die hipster Tom Niemandt, wat onkant betrap word deur sy ouma se dood, en die voorwaarde in haar testament dat hy slegs haar gastehuis kan erf indien hy vir ’n jaar op die Karoodorpie tuisgaan, het natuurlik vele vertakkings gehad en dit was nie bloot net Tom, gespeel deur Armand Aucamp, en Sofia, die gastehuisbestuurder, gespeel deur June van Merch, wat kykers week na week voor die kassie laat inskuif het nie. In die loop van dertien episodes van Die Boekklub het al die verskillende lede van dié klub se lewensverhale kleurryk ontvou en elke week het gesorg vir nuwe intriges. Alles netjies saamgebind deur die wonderlike lint van die letterkunde en boeke.

Armand Aucamp saam met die skrywer en regisseur, Louis Pretorius.

Jorrie van der Walt, kinematograaf van Die Boekklub 2.

Dit was vinnig duidelik dat Die Boekklub kwaliteit vermaak is, ’n ware juweel, soos een resensent daarna verwys het. Reeds by 2016 se Huisgenoot Tempo-toekennings is Armand Aucamp aangewys as akteur van die jaar vir sy rol in Die Boekklub. By vanjaar se SAFTA- toekennings wat in Maart by Sun City plaasgevind het, is Jana Cilliers bekroon as beste byspeler vir haar rol as Anna en Louis Pretorius het die toekenning vir die beste televisiedraaiboekskrywer ontvang. Ook by die ATKV se Mediaveertjie-toekennings in Mei vanjaar het Die Boekklub weggestap met vier toekennings: Dit is aangewys as beste dramareeks, Louis Pretorius het die Veertjie ontvang vir die beste draaiboek; Quentin Krog wat die regie van die eerste reeks behartig het, is bekroon as beste regisseur en June van Merch is aangewys as die beste aktrise in ’n dramareeks.

June van Merch is briljant as Sofia.

Louis Pretorius, skrywer en regisseur van Die Boekklub 2.

Met so baie vere in die hoed is die druk groot op al die rolspelers betrokke by die nuwe seisoen van hierdie reeks om weer eens gehalte televisie te maak. Louis Pretorius sê die druk van almal se hoë verwagtinge het aanvanklik swaar op sy skouers gerus.

“’n Mens was verskriklik bewus van die feit dat mense baie van die eerste reeks gehou het en daardie verwagtinge het my in ’n groot mate gekniehalter. Ek het maande lank gesukkel om te begin skryf, maar ek het doodeenvoudig deur dit gewerk. Van die derde episode af het dit net begin vloei en ek dink ons het iets geskep wat ten minste so goed is soos die eerste reeks. Dit voel asof die stories net verder gaan en ek dink wanneer die kykers op 11 Julie na die eerste episode van die nuwe reeks gaan kyk, gaan dit vir hulle voel asof hulle weer tuisgekom het,” sê Pretorius.

Die sukses van Die Boekklub is ’n kombinasie van vele dinge, sê die joernalis en televisieresensent, Emile Joubert. “Die een ding van die reeks wat my werklik opgeval het is die werklike sjarme daarvan. Die aanslag was hartlik en gemoedelik en die wonderlike Karoolandskap as milieu tesame met die diversiteit van karakters was vir my verstommend gewees. Die egtheid van die toneelspel en die manier waarop almal wat betrokke was by die reeks - van die regisseur en elke akteur, tot die kameraman - aan hierdie storie geglo het, het alles baie eg en genuine gemaak. Nader as wat Die Boekklub aan die perfekte televisiereeks is, kan jy nie kom nie. Dit neem Afrikaanse drama na ’n nuwe vlak ,” sê Joubert.

Armand Aucamp met die Huisgenoot Tempo-toekenning wat hy as beste akteur in ’n dramareeks gewen het.

De Klerk Oelofse wat Lourens, die nuwe speurder en nuwe boekklublid speel.

Lee-Ann van Rooi wat Gerwin speel. Gaan sy liefde in hierdie reeks vind?

Armand Aucamp wat die rol van Tom Niemandt speel is ook een van Afrikaans.com se ambassadeurs. Armand meen die sukses van hierdie reeks lê in die eerlikheid daarvan. “Baie televisiereekse en films vervoer ’n mens na ’n ander wêreld en ’n ander realiteit, maar ek voel Die Boekklub doen die teenoorgestelde. Die karakters is op so ’n eerlike manier geskryf, jy kan nie anders as om die vrae wat Tom aan die begin en einde van elke episode in die vorm van ’n voice-over vra, ook aan jouself te vra nie. Die Boekklub forseer jou juis om na binne te kyk en daarom vind mense geweldig aanklank by die reeks, ” sê Aucamp

https://kyknet.dstv.com/video/die-boekklub-armand-aucamp

Die lang wag om te sien wat verder aan met Tom, Sofia, Anna, Herman en die ander inwoners van Merweville gaan gebeur, is byna op ’n einde. Moet egter nie van enigeen verwag om die aap uit die mou te laat oor wat alles in die nuwe reeks voorlê nie. Pretorius, wat self die regie van hierdie tweede reeks behartig het, verklap dat daar ’n hele paar nuwe karakters bykom, onder meer die speurder Lourens wat ook by die boekklub aansluit. Hy word gespeel deur De Klerk Oelofse. “Die Boekklub 2 fokus steeds baie sterk op verhoudings. Vir my was die grootste vreugde in die skep van beide reekse dat ek kon speel met die karakters en kyk waarheen ek hulle kan vat. Daar is niks so lekker soos om stories te vertel nie. Ek is ’n hopeless romantic en wil eintlik net mooi stories vertel. Dit maak Die Boekklub so lekker, want daar is nie antagoniste nie, daar is nie ’n baddie nie. Dit is bloot net die lewe wat gebeur op die klein dorpie.

“Uiteindelik is Die Boekklub se boodskap ook dat ons almal ons eie grootste vyand is. Om dan te sien hoe die karakters in Die Boekklub deur hul eie probleme werk, kan hopelik vir elkeen wat daarna kyk van waarde wees. Eintlik voel ek skaam wanneer ek daaraan dink dat al hierdie stories uit my kop gekom het, en tog was almal bereid om soveel energie en soveel talent hierin te stort. Ons almal wat hierby betrokke is, sien uit daarna om dop te hou hoe die dinamika van die reeks net verder kan groei.”

https://kyknet.dstv.com/video/die-boekklub-2-bedaar