'n Spel met woorde ... te lekker!

25 Januarie 2018

Blogger, Adele Basson, kyk sedert 2010 met humor na die alledaagse en deel haar gedagtes en stories op haar blog, Woordspel. Hoekom Woordspel? Sommer omdat sy "mal is oor woorde en vanweë die gereelde dubbelsinnigheid" in haar stories. Sy het onlangs Facebook vaarwel toegewens en vertel in haar jongste blog, "Koebaai Facebook", hoekom en of daar iets is wat sy mis.

Hier is 'n voorsmakie uit twee van haar stories: "Die New World" en "Sussie kraam ... amper".

Verlede jaar besluit Adele om af te skaal en verkoop in die proses haar luukse kar en vervang hom met iets kleiner - heelwat kleiner. In haar woorde: " ... ek lyk waarskynlik soos 'n walvis wat in 'n perlemoendop probeer wegkruip". So gebeur dit dat sy na werk 'n afspraak het by 'n winkelsentrum in 'n area wat sy nie goed ken nie. Sy ry die afrit verby, besluit om sommer die volgende een te vat en beland so "in 'n ander wêreld... Die pad onder my het verander in 'n spierwit, blink iets…. Alles blink… Mense, almal in dieselfde klere staan op aan weerskante van my en staar my aan. En ek? Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry ... en die volgende oomblik is ek uit hierdie New World plek, en staan ek in 'n tipe van kampie langs 'n treinspoor, tussen 'n klomp karre... Maar iets sê vir my dat dit nie vir my bedoel is nie. Ek draai toe maar om, en gaan weer die New World binne…

Die uiteinde? Lees gerus hier verder waar Adele haar nou eintlik bevind het ... Al wat ons kan sê: Sy het nie NET 'bliksem' gesê daardie dag nie ...

In 2015 is Adele se jongste sussie swanger en tel hulle al die weke totdat sy moet kraam. Intussen is dit die amper-mamma se verjaarsdag en gaan eet die familie by die BBQ steakhouse ... op 'n besige Saterdag "naby payday en die restaurant is redelik vol ... daar is bitter baie kinders". Daar word oor alles en nog wat gesels (meestal oor babas) en kos bestel toe die swanger sussie "skielik 'n gilletjie gee, afkyk en 'n enkele sin uiter: 'hier's 'n kind hier onder!" Lees gerus hier wat toe verder gebeur het "in 'n vol restaurant waar dit 'n halfuur neem om water te kook ... en almal weet jy het warm water en handdoeke nodig tydens kraam!"

Lees hierdie en Adele se ander, skreeusnaakse stories op haar blog, Woordspel.

Blog jy dalk in Afrikaans of weet jy van blogs wat jy kan aanbeveel?

Ons nooi jou uit om jou Afrikaanse blog aan ons voor te stel sodat ons die nuus kan versprei en jy lesers bykry. Op Afrikaans.com vind jy 'n lys vir elke smaak en voorkeur. Klik hier vir nog. Stuur jou e-pos aan myafrikaans@afrikaans.com

Lees ook: Woordwoekeraars - lekkerlees Afrikaanse blogs hier.