Koop Afrikaans vir Kersfees!

06 Desember 2017

Oor Kerstyd tel ons ons seëninge, daarom is dit vir ons so lekker om geskenke te gee. Dis heerlik om te weet dat jou liefde vir die Afrikaanse taal glad nie hoef terug te staan wanneer jy hierdie jaar Kersgeskenke vir jou geliefdes soek nie.

””
Maak vanjaar juis ʼn Afrikaanse feesviering en begin sommer deur ʼn feesboodskap op Afrikaans.com af te laai. Met so ʼn pragtige kaartjie, boonop met ʼn unieke Afrikaanse boodskap, gaan jou geskenke jou geliefdes se harte verbly in die taal wat hulle harte vinniger laat klop. Of skryf jou eie en stuur dit vir ons (jy het nog tyd tot 16 Desember). Dalk verras ons jou met ’n pragtige ontwerp, boonop met jou naam verewig daarby! Jy kan die kaartjies druk, aanstuur of pos of jy kan dit met jou vriende op sosiale media deel. Gaan loer hier om meer uit te vind.

Belangrik om te weet ...

Interessante statistiek wat Rapport ʼn jaar of wat gelede getwiet het, is mense se voorkeure wat betref Kersgeskenke. Die navorsing sê 41,3% mans verkies kontant, 40,3% verkies sjokolade, 38,3% se keuse is geskenkbewyse, 37,9% kies klere en skoene as geskenk en 36,9% verkies ʼn boek in die Kerskous.

Die vroulike geslag verskil uiteraard hiervan. 51,6% kies sjokolade, 40,3 verkies grimering en parfuum, 47,8% kies ʼn geskenkbewys, 42,9% sal graag ʼn skoonheids- of spabehandeling wil kry en 42,9% se keuse val op boeke.

Die meeste tieners daarenteen wil rekenaarspeletjies in die Kerskous hê, ʼn volle 44,3%. 28,1% verkies CD’s, 27,6 % kies kontant, en netsoveel kies klere en skoene of ʼn boek.

””

Uit al hierdie verskillende kategorieë, is dit net by boeke en CD’s waar jy werklik ʼn Afrikaanse aankoop kan maak. Dit is daarom verblydend om te weet die florerende Afrikaanse boekbedryf is ʼn lewendige bewys dat Afrikaans groei en blom en vooruitboer. Of jy nou ʼn resepteboek, ʼn reisgids, ʼn digbundel, ʼn kinderboek, ʼn romanse, ʼn speurverhaal, ʼn politieke boek of ʼn outobiografie wil lees: jy sal dit in Afrikaans kry. Boonop bied die moontlikheid om dit oor die Internet te bestel ook aan enigeen in die verste uithoeke van ons land en selfs oor die waters die geleentheid om die boeke van hulle keuse as Kersgeskenke te kan gee.

Vir jonger kinders is boeke altyd gewild, veral wanneer Pa en Ma dit gaan voorlees. Kyk gerus na hierdie skakel om te sien watter kinderboek die een gaan wees om jou kind of kleinkind se hart te steel.

ʼn DVD bly nou maar ʼn gewilde en geliefde Kersgeskenk en dan draai dit boonop so maklik toe! Vir die wat van ’n nostalgiese reis hou, is daar ʼn hele paar ou Afrikaanse flieks, soos Somer, Snip en Rissiepit, Liefste Veertjie en Kwikstertjie wat in hierdie formaat beskikbaar is by musiekwinkels soos Musica en al die aanlynwinkels soos Loot en Take a Lot. Indien jy jou aankope op die Internet doen, word dit boonop by jou voordeur afgelewer. Gewilde vertaalde Afrikaanse televisiereekse soos Pinocchio, Heidi en Nils Holgersson maak wonderlike geskenke vir die kleingoed.

Van die uitmuntende Afrikaanse rolprente wat oor die afgelope paar jaar bewys het dat die Afrikaanse rolprentbedryf uitstekend vaar, dink maar aan Verraaiers, Noem my Skollie, Vir die Voëls en Modder en Bloed, is alles ook beskikbaar as DVD’s. Vir die avontuurlustiges kan een van die Voetspore-reekse ook ʼn heerlike Kersgeskenk wees.

 

Ondersteun ook hierdie Kersfees een van ons uitstekende Afrikaanse kunstenaars en stop vir iemand ʼn CD in die hand. Daar is talle nuwe CD’s om uit te kies, of gee een van jou ou gunstelinge as ʼn geskenk aan iemand anders.

Wat jy ook al kies, mag dit hierdie jaar aan die ontvanger net soveel vreugde verskaf soos aan jou wat dit spesiaal, in Afrikaans, uitgesoek het!

Alita Steenkamp is ‘n vryskutskrywer en het moeite gedoen om jou Kersfeesinkopies vir jou makliker te maak. Hier is unieke idees, fantastiese produkte en waar jy dit kan opspoor. 

Vyftien opwindende Afrikaanse geskenkidees

 

  1. Het een van jou geliefdes groen vingers? Kies dan ʼn lieflike Afrikaanse roos, gekweek deur Ludwig’s Roses, as geskenk. Dit sal jare se plesier verskaf.
  2. Vir iemand wat hou van die strand sal ʼn mooi strandsak met ʼn gunsteling- Afrikaanse tydskrif daarin, die ideale geskenk wees.
  3. Teken vir iemand in op Netwerk 24 by https://www.mysubs.co.za/voucher. Met so ʼn intekening kry die persoon al die nuus in Afrikaans, sowel as ʼn hele paar Afrikaanse tydskrifte aanlyn te lees. Daar is verskeie opsies ten opsigte van geskenkbewyse.
  4. Besoek Maroela Media se Koöperasie, ʼn aanlynwinkel wat enigiets van boeke, speelgoed, koffie en T-hemde verkoop. Alles dinge wat jou taal praat! Wie onthou nog die heerlike Boereplaas-bordspeletjie wat ons jare gelede gespeel het? Hierdie eg-Afrikaanse en Suid-Afrikaanse bordspeletjie word ook hier te koop aangebied vir ure se gesinspret.
  5. Indien jy ʼn Kapenaar is, spring vinnig en raap die laaste paar kaartjies op vir Afrikaans is Groot, wat volgende jaar in Maart in die Kaap te sien sal wees. Die mense in Gauteng kon nie uitgepraat raak daaroor nie.
  6. Sekere van volgende jaar se belangrike kunstefeeste se kaartjies is reeds aanlyn beskikbaar. Indien dit vir iemand ná aan jou moontlik gaan wees om een van hierdie feeste by te woon, koop kaartjies vir ʼn Afrikaanse produksie wat jou oog vang. ʼn Gedeelde ervaring is iets wat geen geld kan koop nie.
  7. Moedeloos omdat magnetiese woorde om jou eie gedig of versreël op die yskasdeur mee te skryf net in Engels beskikbaar is? Maak dan jou eie deur die magnetiese almanak wat jy verlede jaar by ʼn verskeringsmaatskappy of eiendomsagentskap gekry het, te gebruik. Kies soetklinkende Afrikaanse woorde, druk dit uit op plakkers wat jy op die magneetplaat vasplak en sny die woorde dan uit. Plaas alles in ʼn plastiekhouertjie en siedaar! Jou eie oorspronklike Afrikaanse geskenk vir iemand wat daarvan hou om met woorde te speel.
  8. Bestel ʼn muurplakker met die woorde van Breyten Breytenbach, Antjie Krog of Philip de Vos daarop! Omskep die woorde van Spoegwolf in ʼn muurplakker en gee dit vir jou jong volwasse kind. Loer in by: http://www.stickythings.co.za/shop/custom-wall-decal-quote/
  9. Borg ʼn woord as geskenk aan iemand na aan jou. Dit sal enigeen spesiaal laat voel, (mits jy die regte woord kies). http://www.wat.co.za/index.php/af-ZA/borg-n-woord
  10. Verf ʼn paar klippies met jou gunsteling- Afrikaanse woorde daarop om enige tuin of balkon ʼn Afrikaanse kleur te gee.
  11. Maak ʼn resepteboek met die familie se gunstelingresepte wat jy in jou eie handskrif skryf en vir jou dogters gee. Dit sal uiteindelik ʼn erfstuk word.
  12. Koop ʼn dagboek wat jy verpersoonlik deur oral in die dagboek mooi Afrikaanse gedagtes te skryf. Indien jy nie self kreatief voel nie, gaan loer gerus op Pinterest waar jy baie Afrikaanse idees sal kry. Jy kan ook Langenhoven se pittige spreuke nadertrek wat reg deur die jaar pret sal verskaf.
  13. Gaan loer in by Vrouekeur vir ʼn heerlike resep om toffies te maak. Vrouekeur het verlede jaar hulle lesers aangemoedig om hierdie toffies in ʼn mooi fles te verpak met pragtige Afrikaanse woorde daarby. Enige handgemaakte lekkergoed, koekies of beskuit sal ekstra spesiaal wees wanneer jy ʼn Afrikaanse kleur en geur daaraan gee.
  14. Hou op pad na jou vakansiebestemming stil by ʼn oulike padstal. ʼn Oulike padstal sal sorg dat hy sy Afrikaanse kliënte gelukkig hou met Afrikaanse leefstylprodukte. Geniet die vetkoek of roosterkoek en kies ʼn Afrikaanse item vir iemand se Kerskous. ʼn Paar waarby jy nie durf verby ry nie is Dassiesfontein tussen Caledon en Botrivier op die N2, Die Pienk Padstal in Kakamas, Peet se Padstal op die R516 (Rooiberg/Thabazimbi-pad) en Die Daggaboer Padstal, 48km vanaf Cradock op die N10.
  15. Deel 1 van Die storie van Afrikaans (Protea Boekhuis, 2017) deur W.A.M. Carstens en E.H. Raidt sal die ontvanger daarvan op ʼn heerlike reis met Afrikaans, en haar geskiedenis, wegvoer en maak beslis ʼn wonderlike Kersgeskenk.


Dink ook aan:

  • Afrikaanse T-hemde soos die wat jy op Liefde Wen, Kaboo Design, Valhalla Tees, of Kakiebos raakloop.
  • Aanlynwinkels soos Streepsak, Hartsgoed en Mooi Goete bied ʼn wonderlike verskeidenheid van Afrikaanse leefstylprodukte.
  • De Afrikander Handelshuis wat geleë is by die Voortrekkermonument in Pretoria. Hierdie winkel verkoop ontwerpers T-hemde en talle ander Afrikaanse leefstylprodukte.
  • Geskenke vir mans wat te kry is by Buffelsfontein Baard-olie. Dis nie net produkte om snorre en baarde in bedwang te hou nie, maar jy sal hier ook skoene, geweersakke en so meer raakloop.
  • ʼn Afrikaanse speltoetser wat enige kommunikasie en skryfwerk in Afrikaans, foutloos sal laat verloop. Afrikaanse Skryfgoed stel ʼn spel- en grammatikatoetser beskikbaar wat volledig met Microsoft® Office 2016 en Windows 10 versoenbaar is.

Alita se Kerslysie

Watter Afrikaanse Kersgeskenk sal my hart vinniger laat klop? Die volgende vyf items, sonder enige spesifieke voorkeurvolgorde, sal my sprakeloos laat:

  1. Die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS)
  2. Chris Karsten se Koms van die Motman of Irma Joubert se Mentje, kind van Pas-OpKamp
  3. ʼn Afrikaanse Scrabble (Kom nou Mattel, stel weer ʼn Afrikaanse weergawe beskikbaar!)
  4. Kaartjies vir Karoo-Suite van Coenie de Villiers en Deon Meyer wat volgende jaar by die Woordfees opgevoer word.
  5. Een van Lidi de Waal se kat-skilderye.

Lees ook ...

* Afrikaans.com en die Veldtog vir Afrikaans word deur Dagbreek Trust gefinansier.