Die groot vyf van Afrikaans

23 November 2016

Die afgelope eeu het daar ‘n skatkis van boeke in Afrikaans verskyn, maar van twee spesifieke Afrikaanse publikasies – die Afrikaanse Bybel en die Kook en Geniet – het daar ʼn paar miljoen eksemplare verkoop. Aan nog ander, soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), word daar reeds negentig jaar gewerk sonder dat die groot taak eers naastenby afgehandel is. Ilse Salzwedel kyk na vyf van die belangrikste publikasies in Afrikaans.

 

 

Die Bybel in Afrikaans: Ons taal se “topverkoper”

Ds SJ du Toit, een van die belangrikste figure in die vroeë stryd om die erkenning van Afrikaans, het in 1884 die groot taak aangepak om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Du Toit, die stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), was ook die redakteur van Di Patriot, die eerste Afrikaanse koerant. (Sy seun was die bekende digter Totius, of JD du Toit, wat een van die eindvertalers van die 1933-vertaling van die Bybel was.)

Die Evangelie volgens Markus was die heel eerste Bybelboek wat volledig in Afrikaans vertaal is deur CP Hoogenhout. Dis nooit gepubliseer nie, maar die manuskrip is te sien in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad.

Tussen 1893 en 1908 het gedeeltes van dr Du Toit se Afrikaanse Bybelvertalings verskyn. In 1923 het drr JD du Toit (Totius), JD Kestell en HCM Fourie, drie van die vyf eindvertalers van die 1933-vertaling, die groot taak feitlik heeltyds aangepak.

Hulle is bygestaan deur drr EE van Rooyen en BB Keet, en in 1929 het ‘n proefuitgawe van die Bybel in Afrikaans verskyn.

Op 27 Augustus 1933 is die eerste Afrikaanse Bybel amptelik in ontvangs geneem. Dit het gelei tot groot feestelikhede regoor die land.

'n Hersiene uitgawe van die 1933-vertaling het in 1953 verskyn en word steeds deur die Bybelgenootskap gepubliseer.

In 1983 verskyn ʼn nuwer, meer moderne vertaling van die Bybel. Die eindredaksie van hierdie vertaling was proff EP Groenewald, JP Oberholzer, AH van Zyl, PA Verhoef, JL Helberg en W Kempen.

Sedertdien het daar al 35 uitgawes van nege verskillende Afrikaanse Bybelvertalings verskyn en teen 2013 het die Bybelgenootskap reeds sowat 11,1 miljoen gedrukte Afrikaanse Bybels versprei. (Baie Bybels word verniet uitgedeel, en elke R45-skenking wat die Genootskap ontvang, help hulle om ʼn Bybel aan iemand beskikbaar te stel.)

Die Afrikaanse Bybel is ook elektronies beskikbaar, en net in 2012 is daar 205 780 volledige Afrikaanse Bybels op selfone afgelaai.

Daar word tans, op versoek van verskeie Afrikaanse kerke, gewerk aan ʼn nuwe vertaling van die Bybel wat so na moontlik aan die bronteks is, maar tog in goeie verstaanbare Afrikaans. ʼn Proefvertaling van die Nuwe Testament en Psalms het in 2014 verskyn.

Die 1933/1953-vertaling, 1983-vertaling en Die Bybel is aanlyn beskikbaar by www.bybel.co.za

  Lees meer ...

 

 

Verskeie generasies se gunstelingkosboek: Die Kook en Geniet

“Elke land het iewers sy hoëpriester gehad vir die ambisieuse huiskok. Mrs Beeton, Betty Crocker, Fanny Farmer, Jane Grigson, Julia Child, die lys is lank. In Suid-Afrika kon niemand nog die omvattendheid of gewildheid van Kook en Geniet oortref nie,” het Nataniël geskryf na die heengaan van SJA de Villiers, die skryfster van die baie gewilde Kook en Geniet.

Die Kook en Geniet is, naas die Bybel, die topverkoperboek met meer as ‘n miljoen eksemplare wat reeds verkoop is.

Ina de Villiers, gebore as Stoffelina Johanna Adrianna van Schalkwyk, is op 24 Februarie 1919 in Boshof gebore. Haar pa het gehoop vir ʼn seuntjie, en daarom is sy steeds na haar oupa vernoem.

Haar pa wou hê sy moet ʼn dokter word, maar na twee weke as mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch, het sy besluit om eerder BSc Huishoudkunde te studeer. Sy was ʼn toegewyde student en ook die eerste primaria van die koshuis Sonop.

Nadat sy haar graad gekry het, het sy ʼn jaar lank skoolgehou aan die Oranje Meisieskool in Bloemfontein. Daarna het sy ʼn pos as uitbreidingsbeampte by die Departement van Landbou aanvaar. ʼn Deel van haar pligte was om spin- en weefklasse op die platteland aan te bied en ʼn publikasie van die departement, Kos en Kookkuns, uit te deel. Dit was saamgestel deur die departement se huishoudkundiges, maar Ina het gevoel die boek het nie voldoen aan die behoefte wat onder mense bestaan het nie. Sy het gevoel ʼn kookgids moes baie meer resepte – en resepte met gestandaardiseerde mate – bevat, volgens spyskaarte georden wees en meer algemene inligting oor die voorbereiding en kookprosesse bevat.

Ina het die skrywery in alle erns aangepak nadat sy ʼn miskraam gehad het. Dr Mattie Jooste, hoogleraar in huishoudkunde aan die US, het haar bygestaan as raadgewer. Toe geen uitgewer belangstel om die boek uit te gee nie, het Ina en haar man, dr Japie de Villiers, in 1951 besluit om die boek self uit te gee. Sy het die boek aanvanklik vir 23 sjielings verkoop, en was nie net self die uitgewer nie, maar ook bemarker en verspreider.

In 1972 het Ina die reg om Kook en Geniet in Engels as Cook and Enjoy uit te gee, aan die uitgewer Human & Rousseau verleen. Hulle het in 1990 ook die Afrikaanse Kook en Geniet se uitgewersregte verkry, en in 1992 het daar – in samewerking met Ina - hersiene weergawes van die boek in albei tale verskyn. Saam met Ina se dogter, Eunice van den Bergh (ook ʼn huishoudkundige) het Human & Rousseau in 2009 ’n hersiene weergawe van Kook en Geniet uitgegee. Ina en Eunice het ook die baie gewilde Klein Kook en Geniet vir kinders uitgegee.

Ina is op 20 September 2010 oorlede in die ouderdom van 91 jaar. Deur haar legendariese kosboek met die meer as 700 eg Suid-Afrikaanse resepte, leef sy voort in miljoene huishoudings. Die Kook en Geniet is steeds in druk en word uitgegee deur Human & Rousseau. Dit kos R360.

  Lees meer ...

 

 

Die FAK-sangbundel: Afrikaners is plesierig!

Die FAK-Volksangbundel word beskou as die mees omvattende versameling Afrikaanse volksmusiek (lirieke én bladmusiek) en is saamgestel deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Die sangbundel se eerste verskyning in 1937 was ’n belangrike kulturele gebeurtenis, en sedertdien was dit so wyd in aanvraag dat dit vier uitgawes en vyf herdrukke beleef het.

Die eerste uitgawe in 1937 is saamgestel uit Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederebundel (1907) en Van Niekerk se Groot Afrikaanse-Hollandse Liederebundel (1927). In die twee bundels was daar 78 Afrikaans-Hollandse liedere, en 314 Afrikaanse liedjies waarvan 275 spesifiek geskryf is vir saamsing.

Teen die tyd wat die hersiene uitgawe in 1961 verskyn het, was daar reeds meer as 60 000 eksemplare van die sangbundel verkoop. Die 1961-uitgawe het 400 liedjies bevat, maar net 156 van die oorspronklike bundel is behou en die meeste is van nuwe begeleiding voorsien. Nuwe liedere is toe gesoek uit volkspelebundels, skoolsangbundels en gewilde liedjies wat by volksfeeste gesing is.

Die derde uitgawe het saamgeval met die FAK se halfeeufees in 1979. Die bundel is weer eens hersien om dit meer geskik te maak vir groter groepe, en begeleidings is so geskryf dat dit ook makliker deur snaar- of blaasinstrumente gespeel kan word. Van hierdie bundel verkoop daar steeds sowat 500 eksemplare per jaar.

In 2012, presies 75 jaar na die verskyning van die eerste FAK-sangbundel, het ʼn nuwe uitgawe verskyn. Net enkele liedere wat in vorige sangbundels verskyn het, is behou. Die jongste uitgawe word beskryf as ʼn tweede volume van die Afrikaanse liedereskat wat bekende Afrikaanse digters, liedjieskrywers en komponiste se talente kombineer. Anders as met die vorige bundels, spog die 2012-bundel ook met 200 meer liedjies. Dit bevat baie treffers van die destydse musiek-en-liriekbeweging (mense soos Koos du Plessis, Jannie du Toit, Laurika Rauch, David Kramer en Anton Goosen) en ook verskeie hedendaagse Afrikaanse treffers, soos Bok van Blerk se De la Rey en Karen Zoid se Engel.

Die liedjies in die tweede druk van die FAK-Sangbundel vervang nie die nostalgiese volksliedjies nie, maar maak plek vir van die bekendste musiekstukke wat Afrikaanse musieklegendes oor die jare heen bekend gestel het. Die nuwe kategorieë sluit o.a. in: immergroen en populêr, kleinkuns, kinderliedjies, geestelike liedjies, tradisionele liedjies; kunsmusiek en koormusiek. Die bundel bevat ook ’n rubriekindeling, ’n register van liedere se titels en eerste reëls. Die bundel kos ongeveer R500.
(Bron: www.litnet.co.za/nuwe-fak-sangbundel-so-akkommoderend-as-moontlik)

FAK-Sangbundel 2 is pas vrygestel.

  Lees meer ...

 

 

WAT: ʼn Lewende, groeiende woordeboek wat oor dekades heen geskep word

Baie word gedoen om Afrikaans te bewaar én uit te bou. Dikwels beteken dit dat projekte oor verskeie dekades volgehou moet word, soos wat die geval is met werk aan verskeie Afrikaanse woordeboeke.

Een van die indrukwekkendste projekte is beslis die saamstel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT. Die WAT is nie slegs ‘n woordeboek vir sg. Standaardafrikaans nie. Dit sluit materiaal in uit al die variante van Afrikaans, soos Kaaps en Namakwalands. Dit is dus ‘n woordeboek waartoe elke gebruiker van Afrikaans kan bydra en wat deur hulle benut kan word.

Die projek is op 4 Januarie 1926 in Keeromstraat in Kaapstad deur die eerste hoofredakteur, prof JJ Smith, en sy assistent, mnr Nicolaas van Blerk, begin. Die Nasionale Boekhandel en die Suid-Afrikaanse regering se oorspronklike plan was om binne drie jaar ʼn eentalige, verklarende woordeboek van ongeveer die omvang van die destydse Nederlandse Van Dale (’n eendelige werk) daar te stel. Maar drie jaar was natuurlik heeltemal te min tyd. Die Universiteit van Stellenbosch raak toe betrokke, en neem Nasionale Boekhandel se deel van die kontrak oor. Hulle stel ʼn nuwe, ewe onrealistiese teikendatum van vyf jaar om die woordeboek die lig te laat sien.

Maar dis ʼn reusetaak, en na twee dekades tree prof Smith af. In 1947 word hy as hoofredakteur opgevolg deur dr PC Schoonees. Daar word besluit om die idee van ʼn handwoordeboek te laat vaar, en eerder te mik na ʼn omvattende bron wat, soos die The Oxford English Dictionary vir Engels en die Woordenboek der Nederlandsche Taal vir Nederlands, die “volledige” Afrikaanse woordeskat moet opteken en verklaar. Dis egter duidelik dat ʼn volledige Afrikaanse woordeboek ʼn paar dekades sal duur om te voltooi.

Onder Schoonees se leiding verskyn die eerste deel van die WAT (van A tot C) in 1951. In 1955 verskyn die tweede deel (D–F), en in 1957 die derde deel (G).

Deel X, wat die letter M bevat, het in 1996 verskyn met dr DJ van Schalkwyk as hoofredakteur. Daarmee is die halfpadmerk bereik van sowel die alfabet as die WAT, wat by voltooiing uit twintig dele sal bestaan. Deel X het ook ʼn amptelike verskoning bevat van die beheerraad vir enige aanstoot wat onsensitiewe hantering van “beledigende en sensitiewe” woorde dalk in die verlede veroorsaak het.

Die woordeboekmakers van Webster in Amerika beskou die WAT-program as een van die beste hedendaagse woordeboekprogramme ter wêreld. Die WAT-span help ook met die opstel van woordeboeke vir ander Afrikatale.

2009
Deel XIII van die WAT, wat die letter R bevat, verskyn op 31 Julie. Die Elektroniese WAT (A-R) verskyn in Oktober. 'n Aanhaling uit die WAT verskyn elke Saterdag in Volksblad.
2010
Die "Borg 'n Woord"-kompetisie word op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, bekendgestel.
'n Aanhaling uit die WAT of EWA verskyn elke Saterdag in Beeld.
Die Hoofredakteur bied elke Vrydagoggend Woord van die Week aan in Monitor op Radio Sonder Grense.
2011
Die WAT word op 25 Maart 85 jaar oud.
'n Aanhaling uit die WAT of EWA verskyn elke Sondag in Herman Lategan se rubriek Woorde wat Wip in Rapport.
2012
Velddraf met Woorde word op 10 Maart in samewerking met die Woordfees gehou.
Die WAT loods 'n jaarlikse Nuutskeppingskompetisie met die ondersteuning van RSG in die program Monitor.
Daar word begin met die digitalisering van die WAT se unieke materiaalversameling van 4,5 miljoen indekskaartjies danksy skenkings van die Nederlandse Taalunie, Sanlam en Die Dagbreek Trust.
2013
Deel XIV van die WAT, wat die letter S tot SKOOI bevat, verskyn op 18 Oktober.
'n Aanhaling uit die WAT verskyn elke Vrydag in Republikein in Namibië.
2014
Die Elektroniese WAT (A - SKOOI) verskyn in November.
Die ATKV se Woordwystoekenning vir naslaanbronne vir 2014 word aan Deel XIV van die WAT gemaak.
Woordslim met die WAT verskyn elke Sondag in Rapport waarin lesers die korrekte betekenis van 'n woord moet kies.
Die WAT se Nuutskeppingskompetisie word in samewerking met RSG en die ATKV gehou.
Dave Pepler word die beskermheer van Borg 'n Woord.
2016
Karin Zoid is die beskermvrou van Borg 'n Woord.

Nuttige skakels

Lees meer oor die WAT hier.

Meer oor Borg ’n Woord. Klik hier.

  Lees meer ...

 

 

Die HAT: ʼn Eerste verklarende handwoordeboek van ons taal

Te midde van die uitdaging om die WAT saam te stel, is daar in die 1950’s besluit om, gelyklopend met die saamstel daarvan, ook ʼn hand- of standaardwoordeboek vir Afrikaans, die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), aan te pak.

Dr Schoonees aanvaar die uitdaging om die HAT óók aan te pak. Maar sy geesdrif alleen is nie genoeg nie – dis ʼn byna onbegonne taak vir een mens. CJ Swanepoel, ’n redaksielid van die WAT, word betrek as tweede redakteur, en later ook dr SJ du Toit, nog ’n lid van die WAT-redaksie, as derde redakteur. Uiteindelik word ʼn vierde redakteur, C Murray Booysen, ’n Afrikaansonderwyser, ook betrek.

In 1965, veertig jaar nadat die eerste saadjie geplant is, verskyn die eerste uitgawe van die HAT onder dié vier redakteurs se name.

In 1971 word prof Francois F Odendal, professor in Afrikaanse en Nederlandse taalkunde aan die destydse RAU en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, die redakteur van die HAT.

Vir die tweede uitgawe, wat in 1979 by Perskor verskyn, brei Odendal die woordeboek met ongeveer 50% uit en stel ’n werklik hersiene uitgawe saam. Die HAT word teen hierdie tyd reeds gesien as Afrikaansgebruikers se taalbybel. Dit word selfs in hoër en laer howe as die gesaghebbende bron aanvaar wanneer daar verskil word oor die betekenis van ʼn woord.

Die derde uitgawe van HAT het in 1993 verskyn. In die laat 1990’s verskyn daar ook ʼn elektroniese uitgawe van HAT3 – die eerste Afrikaanse woordeboek op CD-ROM. Prof Rufus H Gouws, professor in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, word aangestel as tweede redakteur.

Met die oog op HAT4, wat in 2000 verskyn het, het die twee redakteurs die alfabet in gelyke dele tussen hulle verdeel: Odendal het die eerste deel hanteer, en Gouws die tweede deel. Vir HAT5 het hulle weer omgeruil: Gouws het die eerste deel van die woordeboek onder hande geneem, en Odendal die tweede deel. Op 14 September 2005 is HAT5 amptelik bekend gestel, veertig jaar nadat die eerste uitgawe verskyn het. By die geleentheid is daar ook afskeid geneem van prof Odendal, wat 34 jaar van sy lewe aan die saamstel van dié woordeboek gewy het. Prof Gouws begin onmiddellik werk aan HAT6.

In Oktober 2007 het Jana Luther, onder meer voormalige senior redakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek, by die HAT-redaksie aangesluit as uitgewer en eerste interne HAT-redakteur.

In Maart 2009 word daar saam met die derde druk van HAT5 ’n CD-ROM – e-HAT 2009 – bekend gestel. Vanaf dié derde druk met die nuwe omslag word die titel ook amptelik verkort tot Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.

In Augustus 2012 is Fred Pheiffer as die tweede interne redakteur van die HAT aangestel. Hy was voorheen mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek en hoofredakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek. Die afgelope paar jaar werk hy as projekbestuurder aan die Oxford Bilingual School Dictionary: isiZulu and English en as mederedakteur aan die Oxford South African School Dictionary en die Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek.

Die sesde, verbeterde en omvattend hersiene uitgawe van die HAT het in Julie 2015 by Pearson verskyn.

  Lees meer ...

 

Wat's nuus 

ʼn Kykie na boeke en skrywers wat hoofopskrifte haal.
Klik hier ...  

Aan die woord 

Ons gesels met Afrikaanse skrywers.
Klik hier ... 

Nuut op die rak

ʼn Kykie na die jongste Afrikaanse boeke.
Klik hier ... 

Wat lees jy?

Wat lees skrywers, boekklubs, leeskringe, en – natuurlik – wat lees jý?
Klik hier ... 

Ek wil skryf

Uitgewers, skryfkompetisies en -werkswinkels – hier kry jy inspirasie en hulp!
Klik hier ...