Ons Top 5 vir 2017 – Vloggers

14 Desember 2017

Vlogging, vir die van julle wat nie weet nie, is ‘video-blogging’. Hierdie aanlyn gier het sedert DIY met Suzelle behoorlik in Suid-Afrika posgevat.

Lesers kan ook in 2018 uitsien na VIA (DStv-kanaal 147) se opwindende program, Wat Maak Jy (#VIAWMJ) wat fokus op Via se soeke na Afrikaanse vloggers.

Hier is Afrikaans.com se vyf gunstelinge:

1) Ammiël Smith
Die Boerseun van Bloemfontein in die Vrystaat het reeds in 2015 die internet op hol gehad (en Huisgenoot gehaal) toe hy by ’n verkeerslig in die Rosestad met ’n plakkaat staan en ‘bedel’ het vir sy perfekte vrou. In 2017 het hy verder naam gemaak met sy humoristiese vlogs en aweregse uitkyk op die lewe.


2) Skêrtips/Sarkasties
Skêrtips/Sarkasties is die breinkind van Jaco Snyman en is ’n Afrikaanse YouTube-kanaal en komediebladsy (ja, jy kan hom op Facebook, Instagram en Twitter ook gaan soek) wat daarop gemik is om mense die humor in die lewe te laat raaksien. 

 3) Die Moerige Mamma

Leoné Mostert het haar Moerige Mamma-blog in 2017 na die videosfeer uitgebrei. In haar vlogs gee sy haar eerlike, onortodokse mening oor die dinge wat ons almal pla, maar niemand dapper genoeg is om iets oor te sê nie. Van suiwer Afrikaans praat tot kinders in restaurante. Kyk hier na haar vlogs:


4) Katinka die Kat
Katinka Oosthuizen beskryf haarself as “’n 18-jarige wat haar maandelikse Wi-Fi-data gebruik om mense van video’s te voorsien”. Op haar Katinka die Kat YouTube-kanaal kry jy ’n kykie na die lewe deur die oë van ’n lid van die millenniërgenerasie.


5) Chanel Bosman
Die 15-jarige tiener van Caledon in die Wes-Kaap is nie op haar mond geval nie en haar vlog oor ‘Hoe om te weet jy is ’n trotse Suid-Afrikaner’ het behoorlik die internet op hol gehad.