Ons top 5 vir 2017: Afrikaanse drama- en komediereekse

27 November 2017

Ons top 5 vir 2017: Afrikaanse drama- en komediereekse

Hier is ’n lys van Afrikaans.com se gunsteling- drama- en komediereekse van 2017. Vir kykers wat die programme misgeloop het, is daar ook goeie nuus. Al die reekse op ons lys is beskikbaar op Showmax.

1) Die Boland Moorde

In Februarie 2017 het dié gewilde dramareeks vir ’n tweede seisoen van agt episodes na KykNET teruggekeer. Seisoen twee speel vier jaar na afloop van die eerste seisoen af en luitenante André Fourie en Shane Williams moet vreemde moorde wat op die Macbeth-geselskap gepleeg is, oplos. Die reeks is geskoei op die tradisionele formaat van die Britse whodunits soos Midsummer Murders en Sherlock.

2) Die Byl

Die Byl vertel die storie van ’n kerngroep, hoog gespesialiseerde polisiemanne wat probeer om ’n reeks moorde op te los. Hoewel die storielyn fiktief is, dien die baasspeurder, Piet Byleveld, wat vroeër vanjaar oorlede is, as inspirasie vir die hoofkarakter, Piet van der Bijl of ‘Die Byl’. Die aksiebelaaide, ‘hou-jou-op-die-punt-van-jou-stoel’ storie is Suid-Afrika se eie NCIS en beslis die kyk werd.

3) Die Boekklub

Die Boekklub het ook in 2017 vir ’n tweede seisoen teruggekeer. Die reeks, wat fokus op die boekklublede van die dorpie Merweville in die Karoo, is propvol drama en intrige. Met Armand Aucamp in die hoofrol van Tom en ander boekklublede soos Sophia (June van Merch), Hanlie (Nicole Holm), Anna (Jana Cilliers), Herman (Arno Marais) en Gerwin (Lee-Ann van Rooi) is daar nooit ’n vervelige oomblik op die dorp nie. Die tweede seisoen van die reeks het onder meer twee troues, ’n geboorte en ’n begrafnis te sien gehad.

4) Hotel

Afrikaans se eie ‘mokumentêr’, Hotel, het ook in Oktober 2017 vir ’n tweede seisoen na die kassie toe teruggekeer. Die skreeusnaakse komedie handel oor 'n substandaard hotel en sy kleindorpse personeel.

5) Waterfront

Waterfront vertel die verhaal van drie susters: Julia (Milan Murray), Anna (Rolanda Marais) en Kate (Trix Visser) wat terugkeer na die plek van hul jeug en kinderdae na afloop van ’n familietragedie. Finansiële probleme, verraad en geheime is maar net van die bestanddele wat die donker drama ’n moet sien maak.