Liedjies vir die langpad - kry jou speellys hier

04 Desember 2017

Julle tassies is gepak, kleinsus se laaste skoolklok het gelui en ouboet het sy laaste eksamen geskryf. Manlief se verlof is goedgekeur en jy het daardie ekstra 5 kg wat jou al van September af pla, verloor. Dit is vakansietyd! Die enigste vlieg in die salf met ’n Suid-Afrikaanse vakansie is gewoonlik die lang pad na jou bestemming... Maar Afrikaans.com gaan die vakansie jou rit help korter maak. Petronell Vorster het die lekkerste Afrikaanse liedjies van 2017 bymekaargemaak en ook meer gaan uitvind oor waar presies jy Afrikaanse musiek kan bekom om te verseker dat jy en jou gesin met ’n glimlag jul bestemming bereik.

Die langpadmusiek-fiasko...

Almal het ’n langpadmusiek-fiasko storie. Myne kom al die pad uit 2005 uit. In die dae voor Bluetooth, Apple Music, MP3’s of streaming. Ons gesin was op pad na ’n Weskus-seevakansie op Hondeklipbaai. Om die 14 ure rit meer draagbaar te maak, is ek aangesê om seker te maak die CD-sakkie is vol. Met groot ywer het ek CD's gesny en seker gemaak daar is iets na elkeen se smaak. Toe ons die volgende oggend in die middernagtelike ure vertrek, het ek egter vergeet om die CD-sakkie van die eetkamertafel af te haal... Almal was vies vir my, want die enigste CD wat in die motor was, was Nicholis Louw se My Hart Is Aan Die Brand. Deur die Vrystaat en die Karoo het ons toe maar radio geluister en dit so nou en dan afgewissel met Nicholis Louw, maar kort duskant Koeberg het die radio-opvangs net weggeraak. Ons was dus genoodsaak om oor en oor en oor na dieselfde CD te luister. Ek kan nou, meer as 10 jaar later, steeds die liedjies in volgorde sing: 1) Ek Wil My Baby Hê Vanaand, 2) Net Die Een Vir My (Maia Hee), 3) My Hart Is Aan Die Brand...

Gelukkig is dit met vandag se tegnologie hoogs onwaarskynlik dat ek of enige iemand anders weer dié blaps sal maak. Deesdae hoef ’n mens nie die radiostasie te verander wanneer jy nie van die liedjie hou nie. Jy konnekteer sommer deur middel van Bluetooth jou selfoon met jou radio en so kan jy die musiek op jou speellys of selfs musiek via ITunes of YouTube speel.

Die enigste probleem... Wat speel jy?!

Om jou lewe te vergemaklik, het Afrikaans.com die lekkerste 2017-musiek in beide die pop-/sokkie-genre en die alternatiewe-genre gaan uitsnuffel om vir jou ’n Liedjie vir die Langpad-speellys saam te stel. Vir diegene wat ouer treffers verkies, loer gerus onderaan die artikel waar ons julle vertel waar om Afrikaanse musiek te bekom.

Pop-/sokkiemusiek

Adam - Hoogtevrees

Bok van Blerk & Appel - Lemoene

Dewald Wasserfall - Altyd jonk bly

Jay – So lank sal ek jou liefhê

Jo Black- Bring die hoop weer terug

Karlien van Jaarsveld - Sing vir Liefde

Kurt Darren - Kaalvoet Sokkie, Jy’s ’n Legend, Laat die dansvloer brand

Ray Dylan - Vir ewig jonk

Refentse- Baby Wat eet ons vanaand, Vuil Vanderbijl

Rickus Nel ft. Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse – Hardekole

Snotkop - Cool soos Koos Kombuis

Steve Hofmeyr – Feeslied

Wynand Strydom - Katrina.

Alternatiewe Afrikaanse musiek

Karen Zoid - Vir Jou

Elvis Blue - Elke hart

Heuwels Fantasties - Bietjie Hoop, Gebruik my

Bouwer Bosch - Pleidooi

Francois van Coke - Dit raak beter, Die wêreld is mal

Arno Carstens – Ontwaak

Josua na die Reën - Laat die wind my neem, 2017

Tussen Sterre & Bouwer Bosch - Hemelrym

Waar kry ek musiek?

Die lekker deel van musiek koop in 2017 is dat dit nie meer nodig is om die CD-winkel in die inkopiesentrum (waar almal besig is met laaste minuut-kersinkopies) hoef aan te durf nie.

Indien jy nog ‘old school’ is en ’n CD in jou hand verkies, kan jy gebruik maak van platforms soos: https://m.takealot.com, www.loot.co.za en https://raru.co.za. Jy kan ook by die meeste groot handelaars soos Musica, Makro, Game, CNA, Pick n Pay en Cum boeke CD’s aanlyn bestel en laat aflewer.

Die goeie nuus is egter dat nie meer nodig is om ’n kunstenaar se hele CD te koop vir net een liedjie nie! Daar is verskeie platforms beskikbaar waar jy digitale kopieë van ’n CD of selfs net ’n enkelsnit kan koop. Maak gebruik van https://itunes.apple.com of https://wwwmusic4u.co.za.

Behalwe YouTube is daar ook ander toepassings vir jou slimfoon beskikbaar wat spesifiek op Afrikaanse musiek gerig is. Besoek Google Playstore om Afrikaanse musiek MP3 (Gratis), Top Afrikaanse Musiek-liedjies (Gratis) of die Liedjie-toepassing (R49.00 per maand) af te laai.

Kyk hier ...

Afrikaans.com se Pieter Cloete het deur die loop van die jaar heerlike kunstenaarsfokusse saamgestel. Leer ken hierdie kunstenaars van naderby. Daar is ‘n lekker verskeidenheid ... van Pieter Koen tot Refentse, Chris Chameleon, Hildegardt Whites, Yoma, Die Heuwels Fantasties en nog baie meer.
 

Klik hier vir meer ...