Ons vier Vrouedag saam met Bonteheuwel se beroemde tantes

08 Augustus 2017

 Tannie Flori. “Ons wil nou nie sê ons is beroemd nie. Ek sê mos altyd ‘jy doen jou bes, God doen die res’,” beaam tannie Koelsoem.

Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker is al in Die Son as “die Bontas [Bonteheuwel] se eie masterchefs” beskryf. Die twee tantes het ʼn ver pad gekom van hulle debuut op RSG se Tjailatyd. Nou is hulle tweede kookboek al op die rak, én hulle het hul eie kosprogram op Via. Afrikaans.com het die tantes by die Vrystaatse Kunstefees raakgeloop.

 

 

Die bejaarde tantes – tannie Koelsoem is byna sewentig, en tannie Flori so vier, vyf jaar jonger – se pad na roem het begin toe Koelsoem se seun Riyad op ʼn dag RSG se Amore Bekker van Tjailatyd gebel het en van sy ma se lekker kos vertel het. “Toe foun Amore my en ek gee vir haar my hoenderbrejani. Ek dog dis net ʼn once off, maar dit gaan net aan en aan. Naderhand het ek nie meer resepte gehad nie, nou vertel ek maar net wat kook ek vanaand,” onthou tannie Koelsoem.

Toe Amore kort voor Paasfees 2015 ʼn resep vir Kaapse kerrievis soek, het tannie Koelsoem (ʼn Moslem wat dus nie Paasfees vier nie) voorgestel dat Amore haar Christenvriendin Flori van die Bonteheuwel Diabetesklub moet bel. So word tannie Flori en haar huiskos-resepte toe óók ʼn instelling op Tjailatyd.
Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, het een middag op pad huis toe Tjailatyd geluister, en besluit die twee vriendinne se skatkis tipies Suid-Afrikaanse resepte moet in ʼn boek verewig word. LAPA Uitgewers, die ATKV se uitgewersarm, het nie gras onder hulle voete laat groei nie, en Kook saam Kaaps is in Maart 2016 bekendgestel. Wat was hul eerste reaksie toe LAPA se uitgewer hulle genader het oor ʼn boek? “Ons het gedink ‘is die vrou dan nou mal?’” lag tannie Flori. “Maar toe sê ons kom ons try maar.” Vanjaar is die topverkoper opgevolg deur Soettand, hul ewe gewilde boek oor soetgebak en poedings.

 

 

Hulle ontmoet vir Ilse Salzwedel by die ATKV Boekeoase se tent by die Vrystaat Kunstefees en dit is duidelik dat die vrolike tantes hul roem steeds voluit geniet. Hulle praat te lekker, en steur hulle min aan wat gespreksleier Izak de Vries nou eintlik gevra het. Die gehoor geniet hulle kwinkslae en eerlike, reguit manier van gesels, en ons kry ook kans om aan vier lekkernye uit Soettand te proe: gedat-melk, perskefritters, klapper-scraps en patat-tert. Dis spesiaal deur ʼn spysenier berei vir vandag se praatjie. Die lekkernye is onopgesmuk, nes die tantes. Hulle het hoeka ʼn broertjie dood aan cuisine wat net mooi lyk op ʼn bord. “Maar as jy daai kos eet, moet jy agterna ʼn draai by die drive-thru maak vir ʼn burger,” sê tannie Koelsoem. Hulle resepte is “gemaklik en goedkoop”, benadruk hulle. “Die lewe is deesdae swaar. Ons resepte se bestanddele is als wat klaar in jou huis is.”

Soettand is 'n kookboek uitgegee deur LAPA Uitgewers. Hier gesels Bonteheuwel se “eie masterchefs” Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker by 'n boekbekendstellingsgeleentheid. Hulle vertel onder andere hoe hulle eerste kooklesse in hul ma se kombuise begin het en heel eerste moes jy leer rys kook – op die regte manier ...

Wat dink hulle van die hele proses van kookboek skryf? “Hulle vra ons toe mos hoeveel van dit, hoeveel van dat. Maar ons het nie geweet nie – ons bruin mense gooi mos net alles tesame en dan is dit lekker,” lag tannie Flori.
Die bohaai oor hulle het hulle so bietjie onkant gevang. “Ons is albei oor die 60 jaar, gestremd en van verskillende gelowe – Christen en Moslem. Wat sê daai vir die wêreld? Kos bring mense saam,” sê tannie Flori. “Ons wil nou nie sê ons is beroemd nie. Ek sê mos altyd ‘jy doen jou bes, God doen die res’,” beaam tannie Koelsoem.

Albei se liefde vir kos en kook kom ʼn ver pad. Tannie Flori moes kleintyd op ʼn Bashews-koeldrankkissie staan om by die stoof by te kom. Die eerste ding wat sy gekook het, was rys. “En somtyds brand ek dit, want ek speel in die jaart bok-bok, lucky charm of glassy. En dan skél my ma.” Tannie Koelsoem het weer met sop begin. “Ons was ʼn klomp kinders wat moes eet.”

Hulle lag weer te lekker as hulle onthou van hulle nou reeds bekende glipsie toe hulle gekla het oor die “grênd potte” tydens die opname van hulle TV-program. “Ons het mos nie geweet die mikrofone is nog aan nie. Toe sê ons vir mekaar ons wens ons kon eerder met ons Hart-aluminiumpotte kook as in die k*k potte. Toe hoor ons hoe lag die mense.” En, herinner tannie Flori haar vriendin, onthou sy nog die konsternasie met die cut, cut, cut tydens die eerste opnames? “Elke keer as hulle dit skree, dan cut ons verder aan die worteltjies, maar dit beteken eintlik ons moes stop wat ons doen.” Giegiegie, lag tannie Koelsoem. “Hulle moes later ons messe afvat, wat ons hou nie op cut nie.”

Te gou is die praatjie verby, die handtekeninge uitgedeel en die fotosessies saam met aanhangers afgehandel. Die tantes is moeg, maar moet net gou gehaltebeheer doen van die spysenier se bakvernuf. “Nee man, hierdie fritters is bietjie te lank gebraai,” beduie die een. “Dis bietjie te crispy.” En, vra haar vriendin, “het jy gesien hoe groot is die cherries op daai klapperscraps?” Maar eind goed, alles goed, solank die mense dit geniet het. En nou is hulle darem baie lus vir ʼn stukkie vis en chips. As mens nou net so iets hier by die Vrystaatse Kunstefees sou kon raakloop...

 

Besoek die Afrikaans.com Facebookblad en staan 'n kans om vandag, op Vrouedag, 'n eksemplaar van Soettand (met komplimente van LAPA Uitgewers) los te slaan. Klik hier ...