'n Afrikaanse chick-fliek en die liefde van 'n suster...

19 Januarie 2018

Sy is jou beste vriendin, jou klankbord, die enigste een wat jy vertrou om jou eerlik te antwoord of jy 'vet lyk in daai jeans' en die een wat jy bel as jy vergeet het hoe om Ouma se lemon meringue-tert te bak. Sy is jou suster.

Susters: 'n Suid-Afrikaanse chick-fliek

Maar soms, soos die lewe maar loop, gebeur dinge en word jou suster nie noodwendig 'n vreemdeling nie, maar ook nie meer die eerste persoon wat jy bel wanneer jy wil lag of huil nie.

Die fliek Susters, wat op 1 Desember in Suid-Afrikaanse rolprentteaters begin draai het, vertel die verhaal van drie aangenome susters wat mettertyd vervreem geraak het en nou, na die dood van hul ma, op 'n soort ontdekkingsreis gaan. Die einddoel: Om saam hul ma se laaste wens te vervul; die strooi van haar as voor die familievakansiehuis. Voor jy dink, "maar die klink dan so morbied," Susters word beskou as Suid-Afrika se eerste chick-fliek en jy is dus verseker van 'n hele paar lekker lag-oomblikke. Die reis wat die susters onderneem is ook gevul met nostalgie, interessante karakters, mooi plekke en hope pret.

Die rolverdeling sluit Diaan Lawrenson, bekend vir haar rol as Paula in 7de Laan, in die rol van die modieuse Jo, wat haarself as ontwerper in Londen bekwaam het. Leah, die sangeres-aktrise wie se albumverkope onlangs goue status bereik het en bekend is vir haar rolle in As jy sing en Sterlopers, speel die rol van Lexie, 'n entomoloog wat in Mongolië werk. Die derde suster word gespeel deur Quanita Adams, bekend vir haar onlangse rol in die TV-reeks Sara se geheim. Sy vertolk die rol van Cecile, 'n ma van vier wat skelm hygromans skryf.

Sean Marco Vorster speel die rol van 'n jong, manlike verpleër wat na die susters se ma omgesien het en saam met hulle die reis aanpak.
Ander bekende gesigte sluit die sanger Jò Black (as homself), Annelisa Weiland as die susters se ma en Lida Botha as die gastehuiseienaar, in.

Kyk hier na Susters se lokprent:


Spesiale susterverhoudings in die regte lewe

Afrikaans.com het met 'n paar 'regte' susters gesels oor wat presies hulle verhouding uniek en spesiaal maak en anders as Jo, Lexie en Cecile is hierdie susters se verhoudings nie net heg en sonder drama nie, maar eerder gevul met liefde, deernis en wedersydse respek. Dit is duidelik dat hul verhoudings met mekaar elkeen van dié vroue besonder na aan die hart lê.

Nadia en Natasha Valvekens

Nadia Valvekens wat bekendheid verwerf het vir haar rol as Pippa in Binnelanders en haar suster, Natasha Valvekens, deel 'n besondere band en beskou mekaar as beste vriendinne.

Nadia en Natasha deel 'n besondere band.

Wat maak julle susterverhouding spesiaal?

Natasha: Ons verstaan mekaar. Ons het nie geheime van mekaar nie en ons is glad nie jaloers op mekaar nie en gun mekaar net die beste. Ons kan ook lekker saam lag en huil.

Nadia: Die feit dat ek en my sussie nogal redelik uiteenlopend is, maar ons verstaan en ondersteun mekaar. Ons is daar vir mekaar, altyd. My sussie is ook my beste maatjie, ons is mekaar se grootste ondersteuners! Ons kan ook verskriklik lekker saam lag en die lewe geniet.

Wat is julle lekkerste herinnering saam?

Natasha: My lekkerste herinnering saam met my sussie was toe sy my Frankryk toe geneem het vir my 30ste verjaarsdag. Daar het nie 'n dag verbygegaan wat ons nie uit ons maag gelag het nie. Of dit nou was omdat ons kilometers en kilometers verdwaal het, of oor die 135 trappe wat ons elke oggend en aand moes klim om by die pophuisie waar ons gebly het uit te kom, of sommer net omdat ons moeg, honger en nat was. Dit was GROOT pret.

Nadia: Vier jaar terug was ons in Parys en oor Nuwejaar het ons in Montmartre opgeëindig waar ons saam met hierdie wonderlike twee gay, Franse mans en so Parisian-vrou gekuier het. Ons het die hele aand gelag! Net na die klok 12 uur geslaan het, pak ons toe die treine aan om by die Eiffeltoring Nuwejaar te vier, min wetende dat die treine verskriklik besig gaan wees en dat die stasies kort na middernag sluit. Ons kon dus glad nie afklim waar ons moes nie en ons het letterlik halfeen die oggend deur die strate van Parys verdwaal met 'n kaart en vreemde Parysenaars wat ons probeer help. Ons moes kilometers ver stap en het seker eers halfdrie die oggend by die huis gekom. Maar, dit was die grootste klomp pret! 'n Avontuur en 'n half!  

In Frankryk

Wat het jy by jou sussie geleer?

Natasha: Sjoe! Baie dinge. My ma was 'n enkelouer en het ongelooflik hard gewerk om vir my en Nadia die beste te gee en Nadia het gevolglik 'n groot rol as 'Ma' in my lewe gespeel. Die drie dinge wat dadelik by my opgekom het toe ek dink oor wat my sus my als geleer het, is: Hoe om op 'n jong ouderdom baie selfstandig te wees, hoe om mooi met geld te werk en sy het my ook geleer dans.

Nadia: My sussie het my geleer dat enigiets moontlik is! Natasha is op 'n jong ouderdom gediagnoseer met 'n ernstige oogprobleem (sy kon byna nie uit haar een oog sien nie), die dokters het haar vertel dat sy nooit 'n balsport sal kan speel nie, maar sy het dit reggekry om by die SA's netbal te speel! My sussie het bewys dat niks (groot of klein) onmoontlik is nie - die bal is in jou hande.

Ons was oor die algemeen soet kinders wat nie vreeslik kattekwaad aangevang het nie.

 

By Natasha se gradeplegtigheid

Beste vriendinne wat mekaar deur dik en dun bystaan


Annie en Petronel Malan

Die sakevrou en aktrise, Annie Malan, wat bekendheid verwerf het as Saartjie Baumann in die 80's en haar internasionaal-bekroonde suster, die pianis Petronel Malan, deel 'n passie vir die lewe.

Die Grammy-bekroonde pianis Petronel Malan en haar suster, sakevrou en aktrise, Annie Malan.

Die twee kuier gereeld by mekaar, al woon Petronel permanent in die VSA. Hulle het al in onder meer Dubai, Los Angeles, New York, Las Vegas en Parys ontmoet waar hulle graag saam inkopies doen.

Wat het jou sussie jou geleer?

Annie: Petronel leer my altyd die interessante goed oor musiekgeskiedenis, maar sy het my veral geleer om na 'n saak te kyk deur myself in die ander persoon se skoene te plaas.

Petronel: Annie leer almal om haar om uit die boks te dink. Sy het al kleintyd bo-oor die lyne ingekleur - sy maak haar eie reëls.

Watter kattekwaad het julle as kinders aangevang?

Annie: Petronel was baie verantwoordelik, maar ons het soms 'n rubberslang oor die pad getrek om motoriste te laat skrik.

Petronel: Slang oor die pad was altyd 'n wenner... Annie het ook met Koki op my klavier geskryf toe sy moes leer klavierspeel vir 'n rol. Ek was die eerste om haar te help om die klavier skoon te kry voor sy in die moeilikheid beland het!

Annie en Petronel as kinders.

As jy een eienskap van jou sussie moet uitsonder, wat sal dit wees?

Annie: Ononderhandelbare eerlikheid en integriteit.

Petronel: Annie inspireer altyd almal om haar. Ek hou die meeste daarvan dat sy humor in alles raaksien.

Die twee susters is nie net beeldskoon nie, hulle is ook talentvol en suksesvol.

Vertel ons een ding wat niemand van jou sussie weet nie?

Annie: Sy versamel Vintage-rokke en het 'n paar ongelooflike stukke.

Petronel: Annie het 'n baie klein hart en gee net waar sy kan. Sy is my tomboy-sussie - vlieg vliegtuie, ry vinnige karre, maar het altyd die mooiste rokke en grimering in haar kas.

Kyk hier na 'n Bravo!-onderhoud waar Annie en Petronel onder meer oor hul verhouding gesels. 


Helene Bester en Nadia Joubert

Nadia en Helene saam met hul ma.

Wat maak julle susterverhouding spesiaal?

Die sangeres, Helene Bester en haar suster, die tandarts, Nadia Joubert, mag dalk uiteenlopende persoonlikhede en werke hê, maar dit verander nie die hegtheid van hulle verhouding met mekaar nie.

Wat is jou lekkerste herinnering van jou suster?

Helene: My ma het in ons kleuterjare altyd vir ons dieselfde rokkies gemaak. Ek moes altyd Nadia se handjie vashou omdat sy jonger was en dit het my belangrik laat voel. Ons het baie gesing en vreeslik gelag, ons doen dit nou nog!

Nadia: Ek was bevoorreg om saam met haar in die teater te wees toe die surrogaatma geboorte aan haar dogtertjie geskenk het. Daardie oomblik was onbeskryflik. Ons was twee sussies, weerskante van die bed. (Helene se man wou ter wille van die surrogaatma se privaatheid nie in die teater wees nie).

Helene en Nadia as jong dogtertjies

Wat is die eienskap van jou suster wat jy die meeste bewonder?

Helene: Haar eerlikheid. Dit is great om te weet dat sy nie met my doekies omdraai nie. 'n Geheim is altyd veilig by haar.

Nadia: Sy doen regtig baie, baie moeite met vriende en familie. Sy onthou mense se name en laat hulle spesiaal voel as sy weer met hulle kontak maak. Ek is 'n baie meer linkerbrein-mens as sy. So ek kan baie by haar leer oor wat eintlik belangrik is in die lewe.

Vertel ons een ding wat niemand van jou suster weet nie?

Helene: Nadia hou nie van vlieg nie en vra die mense rondom haar of die aerie sal bo bly.

Nadia: Sy kan maklik 'n pot grondboontjiebotter in twee dae polish!