Oppikoppi is nie Oppikoppi sonder Afrikaans nie!

09 Oktober 2017

Met ʼn “As ek nog gelukkiger was, was dit onwettig,” reken ʼn ou skuins oorkant my waar hy en sy vriend voor die James Philips-verhoog staan en kyk na The Calamity. “Ja, dis Oppikoppi,” dink ek en kyk hoe die twee mekaar omhels. Petronell Vorster en Pieter Cloete was daar.

Die tema van die 2017 Oppikoppi: Me Now, the Mango Picker.

Vir 23 jaar lank trek musiekliefhebbers van regoor Suid-Afrika laer op die plaas buite Northam, Limpopo, vir hul jaarlikse dosis van musiek, lekker kuier en Bosveldstof. In 2017 het ʼn verandering van datum, van Augustus na Oktober, egter veroorsaak dat feesgangers hul getroue “buffs” vir waterstewels moes inruil en die stowwerige strate van Mordor het in ʼn modderbad verander. Hoewel die stowwerige rooigrondgesigte plek gemaak het vir bruin moddervoete, bly die glimlagte van feesgangers met eksentrieke uitrustings, steeds dieselfde. Oppikoppi is waarskynlik die enigste fees waar niemand twee keer na jou uitrusting gaan kyk nie, of jy nou ʼn rooi Speedo, ʼn Skotse kilt of selfs ʼn kameelperd “onesie” dra.

Oppikoppi 2017: Me Now, the Mango Picker

Afrikaans.com het ‘n draai gemaak om uit te vind watter rol Afrikaans by die fees speel. Theresho Selesho van Matchbox live en Misha Loots van Oppikoppi het beide beaam dat goeie musiek wat ’n bydrae tot die kulturele dinamika van die fees maak vir hulle baie belangrik is, ongeag van taal. Vir feesgangers is Oppikoppi nie Oppikoppi sonder Afrikaans nie! Afrikaanse feesgangers het onder meer Die Heuwels Fantasties, Van Pletzen en Black Cat Bones uitgesonder as gunstelinge.

Winde van verandering

Die winde van verandering hou egter nooit op waai nie. In 2017 het die organiseerders van Oppikoppi en Rocking the Daisies, laasgenoemde nog ʼn groot musiekfees wat jaarliks op Darling in die Wes-Kaap plaasvind, besluit om saam te werk. Dit het beteken dat beide Oppikoppi en Rocking the Daisies die jaar op 5-7 Oktober plaasgevind het. Die feeste het ook dieselfde kunstenaarslys gedeel. Oppikoppi is ook stadig maar seker besig om weg te beweeg van die hoofsaaklik rock- en metalmusiek wat vroeër jare kenmerkend van die fees was, en probeer nou om ʼn wyer verskeidenheid musiek en kunstenaars op die verhoog te kry.
Afrikaans.com het met twee van die Oppikoppi-organiseerders, Misha Loots en Theresho Selesho gepraat oor die nuwe rigting waarin die fees beweeg. Loots het op ʼn ligte noot genoem dat die grootste verandering vir Oppikoppi 2017 die weer was, en meer ernstig bygevoeg dat dit beslis ʼn invloed op die hoeveelheid feesgangers gehad het. Beide Loots en Selesho is baie opgewonde oor die nuwe moontlikhede wat die samewerking met Daisies aan beide feeste bied. Volgens hulle vergemaklik die samewerking die organisering van beide feeste.

“Die mense.” Dit was die meeste feesgangers se antwoord op “Wat maak Oppikoppi so spesiaal”.

Hoe voel die mense?

Wanneer ʼn mens met getroue feesgangers, wat jaar na jaar die fees bywoon gesels, blyk dit dat daar gemengde gevoelens is oor die nuwe rigting waarin Oppikoppi besig is om te beweeg.
Bradley Oakley-Brown en sy seun Russel woon die fees al die afgelope vyftien jaar by. Wat die pa en seun se verhaal nog meer merkwaardig maak, is dat Russel nou eers 25 is, en Oppikoppi dus bywoon vandat hy ʼn skamele 10 jaar oud was. Volgens die Oakley-Browns is die grootste verandering wat hulle deur die jare waargeneem het die manier hoe die fees groter word. Hulle geniet ook die nuwe rigting waarin Oppikoppi beweeg. “Ek het groot respek vir die verskeidenheid mense, musiek, tale en kultuur wat Oppikoppi akkommodeer,” sê Russel.

””

Bradley Oakley-Brown en sy seun Russel het in 2017 hul 15de Oppikoppi bygewoon.

””

Oppikoppi is stadig maar seker besig om sy ‘Afrikaanse rockfees'- baadjie vir ‘n multikulturele, multitalige fees te verruil.

Bradley het ook bygevoeg dat Oppikoppi hom laat verlief raak het op die Suid-Afrikaanse kultuur van toleransie en openheid. Hy prys ook Afrikaans as die rede hiervoor, omdat Afrikaanse musiek volgens hom dit reggekry het om die gaping tussen ouderdomme, rasse, geslagte en kulture te oorbrug.

Nog ʼn veteraan Oppikoppiganger, Kyle Ludwick, wat die jaar sy agtste Oppikoppi bywoon, is minder entoesiasties oor die fees se verskuiwing van rockmusiek na musiek wat meer deur die massas geluister word. Hy voel ook dat Oppikoppi minder daarop moet fokus om internasionale kunstenaars na Suid-Afrika te lok en eerder daarop moet fokus om jong, opkomende kunstenaars ʼn platform te gee. Volgens Kyle is daar beslis vir hom ʼn gaping wanneer dit kom by die Afrikaanse kunstenaars wat by die jaar se Oppikoppi te sien was. Kyle maan egter Afrikaanssprekendes om nie op die “Afrikaans is dood”-karretjie te spring nie. “Afrikaans is baie meer as net die kunstenaars wat in jou taal sing,” sê hy.

Waar pas Afrikaans in die fees in?

Afrikaans by Oppikoppi is ʼn bietjie soos ‘n Knysna-olifant. Almal weet hy is êrens in die bos, maar om hom te vind is byna onmoontlik. En dan, net voor jy wil opgee, kry jy hom, en kan jy byna nie glo dat jy gedink het hy bestaan nie.

Luister jy na die gesprekke wat om jou plaasvind, wil dit voorkom of daar geen Afrikaanssprekendes by die fees is nie, maar begin jy met mense gesels, kom jy gou agter dat dit glad nie so is nie. “Afrikaans.com? Haai, ek is eintlik Afrikaans,” is ʼn algemene opmerking deur feesgangers wat aanvanklik met jou in Engels begin praat het.

Kyk ʼn mens na die kunstenaarslys van die afgelope vyf jaar, blyk dit asof daar al minder en minder Afrikaanse kunstenaars bespreek word. Misha Loots, een van Oppikoppi se organiseerders, hou egter vol dat die barometer van Oppikoppi “goeie musiek” is en dat hulle nie kunstenaars bespreek op grond van die taal waarin hulle sing nie. “As dit goeie musiek is, en iets is wat mense wil sien, dan kry ons hulle.” Theresho Selesho het bygevoeg dat Oppikoppi ʼn multikulturele fees is en dat daar plek vir almal is.

Kyle Ludwick, een van die feesgangers waarmee Afrikaans.com gesels het, som dit baie mooi op: “Afrikaanssprekendes moet hulle perspektief verbreed en besef dat ons taal steeds groei met dinge soos flieks, nuwe TV-kanale en programme, digkuns en skryfwerk.”

””

Sodra die son begin sak, verander die energie van die fees. Jy kan die opwinding en afwagting aanvoel.

””

Daar is altyd ‘n oomblik wanneer jy een voel met die musiek.

Die pad vorentoe

Oppikoppi is beslis ʼn integrale deel van die Suid-Afrikaanse kulturele landskap. Hoewel daar ooglopend minder feesgangers by vanjaar se fees was (Afrikaans.com kon nie getalle bevestig nie, maar daar word ʼn getal van 8 000 gefluister), het verskeie faktore ʼn rol hierin gespeel. Die grootste hiervan is waarskynlik die verskuiwing van die feesdatum, die weer en die verswakkende Suid-Afrikaanse ekonomie. Tog kan ʼn mens nie help om te wonder of die organiseerders nie in 2017 te veel probeer verander het aan iets wat reeds ʼn beproefde wenresep was nie. Oppikoppi sal dalk hard en lank moet dink aan die manier hoe hulle die toekoms gaan inbeweeg wanneer ʼn mens aanhangers se menings na afloop van die fees, op hul Facebookblad lees. “Ek is baie lief vir Oppi. Maar dit is hartseer om te sien hoe kommersieel die fees word. Dit was altyd ʼn wonderlike fees vir regte rockmusiek. Nou volg dit net die nuutste neiging van enige musiek. Kom nou Oppi. Kom ons kry rock terug en red hierdie fees vir wat dit was en moet wees!” skryf Reinier Swart. Swart is nie die enigste een met hierdie siening nie en verskeie ander individue het ook oor die kunstenaars gekla. Tog bly ʼn mens hoopvol dat Oppikoppi nie net ʼn stil dood sal sterf nie; dit is immers vir baie Suid-Afrikaanse en Afrikaanse jongmense ʼn onmisbare deel van grootword!

””

Amy le Roux.

””

Brandon Roberts.

””

Deane Dubber.

””

Marita Herselman.

””

Ole Litheko.

””

Pieter Bezuidenhout.